Water is lewe. sê NamWater uitvoerende hoof, Abraham Nehemia. Foto Augetto Graig
Water is lewe. sê NamWater uitvoerende hoof, Abraham Nehemia. Foto Augetto Graig

Water vloei na hoofstad

Kombat-kanaalstelsel vanaf Julie in werking
Verouderde waterpypstelsel word stelselmatig landswyd vervang.
Augetto Graig
Die drie damme wat Windhoek van water voorsien se gesamentlike vlakke staan op 36,1%.

Dit volgens die nasionale waterverskaffer, NamWater, se uitvoerende hoof, Abraham Nehemia.

Windhoek se water kom vanaf die Omatako-, Von Bach- en die Swakoppoortdam, en vanjaar se damvlakke is aansienlik laer in vergelyking met verlede jaar se 59,2% weens laer reënval, sê hy.

Volgens hom is daar nie rede tot kommer nie, aangesien belanghebbendes Maandag vergader het en oor ingrypings ooreengekom het.

Die munisipaliteit van Windhoek sal 8,5 miljoen kubieke meter per jaar vanaf sy boorgate lewer, en die Wingoc-waterherwinningsaanleg 5,84 miljoen kubieke meter per jaar.

Verder sal die munisipaliteit help om inwoners se waterverbruik met 10% te verminder, brei hy uit.

Die meeste bykomende water – sowat 12,01 miljoen kubieke meter –sal vanaf die noordelike grondwaterbronne in die Kombat en Berg Aukas gebied via ’n kanaal gelewer word.

Herstelwerk aan hierdie kanaalstelsel, sê Nehemia het reeds verlede jaar vanaf Kombat en Grootfontein na die Omatakodam begin, saam met herstelwerk aan die kanaal vanaf Okakarara na Omatako.

Hy sê ongeveer twee weke se werk moet nog gedoen word om die stelsel vanaf Okakarara na Rietfontein te voltooi.

“Ons sal beslis water vanaf 1 Julie na Windhoek kan pomp,” het hy gesê.

Pompe vanaf die Omatakodam na Von Bach is gereed om die water langs die roete te lei, voeg hy by.

Groot klem is by Maandag se vergadering op herstelwerk en die vervanging van verouderde waterpypstelsels geplaas, sê Nehemia.

Pype bars weens die druk van groot volumes water wat oor lang afstande gevoer word.

“Dit moet vervang word, daar is geen ander manier nie,” sê hy.

NamWater ondersoek die moontlikheid om die herstelwerk stelselmatig aan te pak wat terselfdertyd aan verskeie dele van die nasionale waterpypstelsel gedoen kan word.

Groot dele van die stelsel is in die sestiger- en sewentigerjare gebou, brei hy uit.

Die staatsonderneming vra die privaat sektor se hulp om dié doelwit te bereik.

Nehemia sê dit werk elders so, byvoorbeeld langs die kus dra myne by tot die bou van pypleidings, en win dan deur tariefaanpassings hul beleggings terug.

Finansiering is nog altyd ’n uitdaging vir NamWater wat geen aanpassing oor die laaste vier jaar deur die kabinet goedgekeur kon kry nie. Die kabinet moet nog besluit oor dié jaar se aansoek om tariewe aan te pas, sê hy.

Nehemia sê vordering word gemaak met die regering se plan vir ’n nuwe ontsoutingsaanleg langs die kus.

Grond vir die nuwe aanleg is reeds geïdentifiseer en opgemeet, sê hy. “Dit is naby die bestaande Orano-aanleg, net langsaan, om ons voetspoor in die woestyn te beperk,” sê hy.

Volgens Nehemia verskaf die Erongo-streekraad die grond en sal dit nie op ’n kommersiële basis oorgedra word nie, wat kostes sal beperk.

Studies vir die nuwe aanleg is reeds twee jaar gelede begin en ’n ooreenkoms is met NamPower oor kragverskaffing bereik. Die finansieringsmodel word tans voltooi.

“Ons het al 20 jaar op hierdie ding verloor, maar hierdie keer is ek vol vertroue dat ons iets tasbaar teen die einde van die jaar sal bereik,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!