FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Windhoek se slaggate (hopelik) herstel

Elizabeth Kheibes
Met die onlangse swaar reën wat oor Windhoek uitgesak het en die gevolglike kitsvloede wat duidelik in die skade aan paaie in die hoofstad en ’n magdom slaggate gesien kan word, kan inwoners uitsien na grootskaalse padwerke wat na verwagting tot einde van Augustus sal duur.

Die geskeduleerde padwerke op verskeie paaie en kruisings oraloor die hoofstad, wat reeds op 6 Maart afgeskop het, sluit onder meer voorbereidingswerk in asook prosesse wat ’n gedeelte van bestaande padoppervlaktes met ’n gespesialiseerde masjien verwyder sodat dit weer herseël kan word.

Die stadsvaders het gevolglik ’n beroep op padgebruikers gedoen om verkeersreëls te gehoorsaam en op die uitkyk te wees vir padtekens wat padwerke aandui.

Motoriste word ook aangemoedig om waar moontlik alternatiewe roetes te gebruik om ontwrigtings en vertragings te beperk.

Inwoners se reaksie op die munisipaliteit se versekering dat die instandhouding noodsaaklik is vir padveiligheid oor die lang termyn en die verbetering van infrastruktuur was egter nie altyd positief nie, met sommige wat dit as blote “lippediens” beskryf.

“Oop slaggate wat in kraters verander, was al ’n kwessie lank voor die reënseisoen begin het. Dit word nou net erger, maar dis niks nuuts nie. Was julle, Stad Windhoek, nie hiervan bewus nie?”

Nog ’n inwoner het op sosiale media gesê wie ook al die afdeling bestuur wat verantwoordelik is vir die paaie in Windhoek “moet afgedank word. Hulle verdien ’n salaris vir ‘mahala’”. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer