China se verhouding met Namibië geloof

Chinese wetgewers op besoek
China toon sy verbintenis tot die ondersteuning van Namibië se groter internasionale rol.
Augetto Graig
Die adjunkvoorsitter van die Nasionale Volkskongres van China, Cai Dafeng, het verlede week ’n afvaardiging van die Chinese parlement na Namibië gelei.

Hulle het Vrydag met die Speaker, prof. Peter Katjavivi, en verskeie parlementslede in Windhoek by die Tintenpalast vergader.

Dafeng het by die geleentheid die jarelange vriendskaplike verhouding tussen Namibië en China geloof. Volgens hom is die 34 jaar lange diplomatieke verhouding tussen die twee lande opreg en die hoeksteen van ’n omvattende strategiese vennootskap.

Hy noem vrugbare uitkomste van politieke samewerking en sê: “China sien die verhouding met Namibië vanuit ’n strategiese en langtermyn-oogpunt.”

Hy sê dat China sal voortgaan om samewerking tussen die twee lande op te hef. Hy het die Namibiese regering bedank vir sy hulp met internasionale betrekkinge, veral met betrekking tot kwessies wat verband hou met Taiwan, menseregte en Hongkong.

Namibië se steun teen die konsepresolusie oor die outonome streek Xinjiang Uyghur by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad het bygedra tot die verwerping van dié voorstel.

Die voorstel het ’n beroep gedoen om die behandeling van Uyghurs en ander Moslem-minderheidsgroepe in China se verre westelike streek te bespreek.

In 2022 is die konsepresolusie met 19 stemme teen 17 verwerp, met 11 nasies wat buite stemming gebly het.

Volgens Dafeng handhaaf Namibië ’n opregte posisie met sy buitelandse betrekkinge, wat internasionale geregtigheid verdedig en regverdigheid bevorder.

Hy lig ook Namibië se pogings by onder meer die Internasionale Parlementêre Unie (IPU) uit wat volgens hom wêreldvrede en ontwikkeling bevorder.

“China ondersteun Namibië om selfs ’n groter rol in die streek en met internasionale betrekkinge te speel,” sê Dafeng.

Verder is daar by die geleentheid aangekondig dat China die Namibiese parlement ondersteun met skenkings ter waarde van 500 000 yuan (byna N$1,3 miljoen).

Meer geleenthede vir uitruilbesoeke van amptenare word gereël terwyl Katjavivi genooi is om die komende 40ste herdenking van die Chinese parlement se deelname aan die IPU saam met ’n afvaardiging by te woon.

Op sy beurt het Katjatvivi China se steun tot Namibië se hantering van die Covid-19-pandemie uitgelig, asook die skenking van ’n bus wat die Namibiese parlement meer mobiel maak en die opknapping van die C1-raadsaal van die parlementsgeboue.

Die Speaker het aan Dafeng gesê: “Jou teenwoordigheid hier vandag is ’n bewys van die sterk en groeiende verhouding tussen ons twee parlemente.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer