China wil meer van Namibië invoer

Augetto Graig
Swakop Uranium se belegging van US$5,1 miljard is steeds die grootste enkele Chinese belegging in Afrika, iets waarop die land baie trots is, sê die Chinese ambassadeur in Namibië, Zhao Weiping.

Zhao het verlede week met plaaslike media vergader om uit te brei oor sy regering se verbintenis om China se vriendskaplike bande met Namibië uit te brei.

Hy het na uraan as ’n spesiale minerale hulpbron verwys en gesê die aanvanklike verwerking word plaaslik gedoen, voordat Husab en Rössing se uraan na China uitgevoer word. Beide myne behoort aan China.

Nog ’n Chinese maatskappy wat volgens hom meer sal doen om minerale hulpbronne plaaslik te verwerk, is die litiummynbouer Xinfeng, wat ’n nuwe verwerkingsaanleg buite Uis bou.

Wat Namibië se energiebehoeftes betref, was Zhao vol lof vir die plaaslike ontwikkeling van hernubare energie en veral groen waterstof.

“Ons glo dit is ’n baie belangrike projek vir Namibië. Dit is ook ’n haalbare projek, omdat julle wind- en sonkrag het, iets waarin julle so ryk is.

“Tans werk julle saam met Europese lande om beduidende vordering te maak en Chinese maatskappye hou dié verwikkelinge met groot belangstelling dop.

“’n Groot Chinese maatskappy toon sterk belangstelling. Chinese maatskappye is oopkop en as die geleentheid hom voordoen, sal hulle met ander vennote saamwerk en dit sluit Europese maatskappye in. Ons sal ook daarin belangstel,” het hy gesê.

Wat kernkrag betref, sê Zhao China het sy eie ambisieuse program om baie meer kragaanlegte in die land te bou om in die toenemende plaaslike behoefte aan energie en elektrisiteit te voorsien.

Volgens hom is China deeglik bewus van klimaatsverandering wat getakel moet word. Die land het ’n teiken om die koolstofpiek teen 2030 te bereik en om teen 2060 koolstofvry te wees.

Hiervoor word die gebruik van koolstofenergie verminder en die persentasie hernubare en nuwe energieverbruik in die nasionale energiemengsel word verhoog.

“China is een van die min lande ter wêreld met die tegnologie en ook die hulpbronne om kernkragaanlegte te ontwikkel. Vir Namibië om sy eie kernkragbedryf te ontwikkel, is China beslis een van julle goeie potensiële vennote,” het hy gesê.

Zhao het tydens ’n toespraak by die Chinese ambassade in Windhoek gesê China stel baie in Namibië se minerale energiehulpbronne belang.

“Namibië is ryk aan natuurlike minerale en ander hulpbronne soos sonkrag en windkrag. As vriende verstaan ons natuurlik die begeerte vir industrialisasie.

“Namibië behoort nie net rou materiaal uit te voer nie, maar die hulpbronne moet die mense plaaslik ophef.

“China se beleid is om Afrika te help om te industrialiseer, soos president Xi Jinping onlangs by die Forum vir China-Afrika-samewerkingsberaad (Focac) gesê het.

“Hy het tien aksies van vennootskap vir die komende drie jaar daar aangekondig,” sê Zhao.

Die aksies sluit in wedersydse leer onder lande, handelsvooruitgang, industriële kettingsamewerking, konnektiwiteit, ontwikkelingsamewerking, gesondheid, landbou en lewensbestaan, mens-tot-mens en kulturele uitruilings, groen ontwikkeling, sowel as gemeenskaplike veiligheid.

Xi het beloof China sal teen 2027 tot US$50 miljard in die Afrika-vasteland belê.

Zhao sê Namibië en China het in 2023 in US$1,3 miljard se waarde handel gedryf. Teen Augustus vanjaar het die syfer reeds op ’n waarde van US$1,1 miljard gestaan, wat veral uraanverkope ingesluit het.

“China wil meer invoer en ons sal marktoegang vir Namibië verhoog, en ook meer aan ons vriende in Afrika verskaf.

“Met betrekking tot landbouprodukte voer ons reeds beesvleis in. In September is die invoer van lamsvleis vanaf Namibië ook by Focac aangekondig.

“Daar is ook ander produkte, soos rooikrap, akwakultuurprodukte asook druiwe waar gesprekke voortduur.

“Daar is geen politieke kwessies met ons invoer vanaf Namibië nie, net tegniese kwessies wat tussen ons regeringsagentskappe uitgestryk sal word. Ons is bereid en gereed om meer van Namibië af in te voer.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!