Duitse meisie (8) glo jare lank opgesluit
’n Agtjarige meisie is deur die polisie bevry nadat haar ma en grootouers haar glo jare lank in ’n huis in Wes-Duitsland opgesluit het. The Guardian berig die meisie, wat net as Maria in die Duitse media bekend staan, is na bewering vir die grootste deel van die afgelope sewe en ’n half jaar in ’n kamer in haar grootouers se huis in Attendorn, oos van Keulen, toegesluit. Sy is glo fisiek so onderontwikkel dat sy skaars ’n stel trappe kan klim. Luidens ’n Netwerk24-berig is die meisie op 23 September bevry en het geen tekens van fisieke mishandeling of wanvoeding getoon nie. Sy het egter tydens ondervraging gesê sy het nog nooit in ’n motor gery nie. Volgens ABC.net is dit duidelik hoekom sy jare lank van die buitewêreld afgesonder is nie. Die ma het aan die owerhede en die pa van die kind, van wie sy geskei is, gesê dat sy na Italië verhuis het. Maatskaplike werkers en die polisie het egter ondersoek ingestel nadat hulle verskeie anonieme oproepe oor die kind ontvang het. Die polisie het toe ’n deursoekingslasbrief bekom en die meisie gevind. Maria is nooit toegelaat om skool toe te gaan, met ander kinders te speel of haar grootouers se huis te verlaat nie, berig The Brussels Times. Die bure was glo onbewus daarvan dat die meisie en haar ma in die huis woon. ’n Klag van ontvoering word teen die ma en die grootouers ondersoek. Die kind is intussen in pleegsorg geplaas. Bron: Netwerk24
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie