Gosia Lachut, EU se adjunkhoof van sendings in Namibië. Foto Augetto Graig
Gosia Lachut, EU se adjunkhoof van sendings in Namibië. Foto Augetto Graig

EU wil kritieke minerale bespreek

100 miljoen euro vir Walvisbaai-Maputo-korridor
Die verskaffing van groen waterstof en kritieke minerale aan Europa word deur samewerking verseker.
Augetto Graig
Die eerste Namibië-Europese Unie (EU)-sakeforum oor groen waterstof en kritieke rou materiale word op 24 en 25 Oktober in Brussel in België gehou.

Die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB) bied ondersteuning om die deelname van plaaslike besighede daar te bevorder.

Die EU se adjunkhoof van sendings in Namibië, Gosia Lachut, het dié aankondiging Donderdag tydens die jaarlikse Mynbou Ekspo gemaak.

In haar toespraak voor die mynboukonferensie wat jaarliks deur die Namibiese Kamer van Mynwese aangebied word, het Lachut gesê die vraag na kritieke minerale is nou hoër as ooit, en daar word verwag dat dit nog sal groei.

“Die EU se vraag na litium, byvoorbeeld, word verwag om teen 2030 twaalf maal te vermeerder,” het sy gesê.

Die forum volg op ’n Memorandum van Verstandhouding (MoU) wat Namibië en die Europese Unie verlede jaar in November onderteken het.

Lachut noem die ooreenkoms ’n grensverskuiwende mylpaal vir Namibië en die EU se betrekkinge, en die belangrikste in die laaste 20 jaar van haar eie loopbaan by die Europese Unie.

Die wetsontwerp op Europese kritieke rou minerale is in Maart voorgestel, om die hele waardeketting te ontwikkel, EU-invoere van kritiese minerale af te wissel en die EU se vermoë op te skerp om enige risiko’s vir verskaffing te versag.

Europa is op die oomblik afhanklik van China vir 98% van sy seldsame aardelemente, die DRC vir 68% van sy kobalt, Chili vir 78% van sy litium en Suid-Afrika vir 71% van sy platinum-invoere, brei sy uit.

“Die [voorgestelde] wet beklemtoon ook die belangrikheid van globale betrokkenheid deur wedersyds voordelige vennootskappe met lande soos Namibië,” sê Lachut.

Die vennootskap moet spesifiek nie net help met die oorgang tot meer volhoubare ekonomiese modelle in Europa en Namibië nie, maar ook om plaaslike waardekettings en meer werksgeleenthede in Namibië te skep, sê sy.

Dit sluit ook aan by die EU Global Gateway-strategie om in samewerking met vennootlande die gaping in terme van belegging vir die groen en digitale oorgang, te verklein.

Die sakeforum sal op die Global Gateway geleentheid volg, waar finansiering spesifiek vir die ontwikkeling van die Walvisbaai-Maputo-korridor, onder 11 soortgelyke vervoerkorridors bespreek sal word, voeg sy by.

“Ons het 100 miljoen euro se finansiering vir die ontwikkeling van hierdie korridor bewillig,” het sy gesê.

“Met die potensiaal wat voortspruit uit grootskaalse hernubare energieprojekte en met die ontwikkeling van ’n groenwaterstofbedryf en sintetiese brandstowwe, het Namibië die unieke geleentheid om te industrialiseer, sy uitvoere uit te brei en ’n sterker en meer gediversifiseerde ekonomie bou, terwyl dit terselfdertyd bydra tot die globale doelwitte van koolstofvermindering, soos per die Parys-ooreenkoms. Ons moet dit ’n werklikheid maak, beide in Europa en in Afrika,” het sy volgehou.

Die vennootskap tussen Namibië en Europa sal volgens Lachut op kapasiteitsbou, beleggingsfasilitering, opleiding en vaardighede, die omgewing, sosiale en bestuurstandaarde, infrastruktuur en ook navorsing en innovasie steun.

Intussen word praktiese stappe ondersoek om in Namibië waardekettings vir kritieke rou materiale en groen waterstof, en die ekostelsels rondom dit, te vestig.

Eksplorasie en kommersiële ontwikkeling van kritieke mineraalprojekte kry op die oomblik aandag, sê sy.

Samewerking tussen Namibië se geologiese opname en sy eweknieë in Europa word ook bevorder.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer