Die graanskip, Razoni, het Istanboel aan die Bosporus Woensdag bereik, vanwaar dit na Libanon sal vaar. Foto Reuters
Die graanskip, Razoni, het Istanboel aan die Bosporus Woensdag bereik, vanwaar dit na Libanon sal vaar. Foto Reuters

Graan uit Oekraïne skep hoop

Eerste vragskip vol mielies na Libanon onderweg
Die eerste van digby 30 graanskepe wat weens die oorlog in Oekraïne nie hawens in dié land kon verlaat het, is veilig deur die Swartsee.
Ronelle Rademeyer
Die eerste vragskip met graan uit Oekraïne het die hawe van Odessa Maandag verlaat met 26 000 ton mielies aan boord.

Die graanskip, Razoni, wat onder die vlag van Sierra Leone vaar, het Istanboel in die Straat van Bosporus Woensdag bereik, vanwaar dit na Libanon sal vaar.

Dit is die eerste verskeping ingevolge ’n ooreenkoms om die land se Swartsee-hawens weer in werking te stel, sê Oleksandr Koebrakof, Oekraïne se minister van infrastruktuur.

“Die eerste graanskip sedert die Russiese inval het die hawe verlaat. Danksy die ondersteuning van al die lande wat met ons in vennootskap is, asook die Verenigde Nasies (VN), kan ons die ooreenkoms wat in Istanboel onderteken is, ten volle in werking stel,” het hy op Twitter gesê.

Rusland en Oekraïne het op 22 Julie ’n ooreenkoms onderteken om Oekraïne se hawens aan die Swartsee vir graanuitvoer te heropen.

António Guterres, sekretaris-generaal van die VN, het dit toe beskryf as ’n groot diplomatieke deurbraak wat daarop gemik is om ’n wêreldwye koskrisis wat deur die oorlog ontketen is, te verlig.

Rusland se inval in Oekraïne het ’n wêreldwye kos- en energiekrisis veroorsaak en die VN waarsku dat erge kostekorte vanjaar verwag word.

Dié twee lande voer saam byna ’n derde van die wêreld se graan uit.

Die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) het vroeër in ’n gesamentlike landbouvooruitskouingsverslag vir 2022-’31 gesê die oorlog in die Oekraïne verdiep voedselonsekerheid in ’n tyd van reeds verhoogde wêreldwye kommoditeitspryse.

Dit kan teen 2023 nóg sowat 19 miljoen mense by die getal honger en ondervoede mense in die wêreld voeg.

Die organisasies wys daarop die VN-doelwit om hongersnood teen 2030 uit te skakel, sal waarskynlik nie bereik word nie.

Dié eerste besending Oekraïense graan sedert Rusland sy inval van stapel gestuur het, het Woensdag by Istanboel in die Straat van Bosporus aangekom.

Daar het personeel van ’n spesiale, gesamentlike koördineringsentrum die skip geïnspekteer om seker te maak dat dit nie wapens of ander voorrade as voedsel aan boord gehad het nie.

Die sentrum sluit amptenare van die Oekraïne, Rusland, Turkye en die VN in – die vier partye wat betrokke is by die bemiddeling van die ooreenkoms.

Guterres het Maandag gesê die Razoni is “gelaai met twee kommoditeite waaraan daar ’n tekort is: mielies en hoop”.

“Die bied hoop vir miljoene mense oraloor die wêreld wat afhanklik is van die gladde verloop van uitvoer uit die Oekraïnse hawens om hul gesinne te voed.”

Hy het bygevoeg: “Wat ons vandag in Odessa gesien het, is ’n belangrike beginpunt. Dit moet die eerste van baie kommersiële skepe wees wat verligting en stabiliteit na wêreldwye voedselmarkte bring.”

Guterres het gesê dat dit ’n humanitêre noodsaaklikheid is om te verseker dat graan, kunsmis en ander voedselverwante items teen billike pryse aan ontwikkelende lande beskikbaar is.

“Mense op die rand van hongersnood het hierdie ooreenkomste nodig om te werk, om te kan oorleef.”

Hy sê die VN se Wêreldvoedselprogram (WFP) beplan om binnekort 30 000 metrieke ton Oekraïense koring te koop en dit uit die land te stuur op ’n vragskip wat deur die VN vir dié doel gehuur is.

“Ons hoop dat daar môre (Woensdag) meer uitgaande beweging (uit die hawe by Odessa) sal wees,” het die VN-woordvoerder Stephane Dujarric Dinsdag aan verslaggewers in New York gesê.

“Dit is delikaat en ingewikkeld, maar daar is ander bewegings wat beplan word.”

Dujarric het aan joernaliste gesê ongeveer 27 skepe in die drie Oekraïense hawens word deur die uitvoerooreenkoms gedek nadat dit “vir ’n lang tyd in die hawe gesit het met vrag. . . met kontrakte onderteken, gereed om te gaan”.

“Die plan is dat daar elke dag ’n skip moet vertrek,” het ’n senior Turkse amptenaar aan Reuters gesê, met verwysing na Odessa en die twee ander Oekraïense hawens wat deur die ooreenkoms gedek word. “As niks verkeerd loop nie, sal uitvoere vir ’n rukkie teen die tempo van een skip per dag geskiet,” het hy gesê.

Die verskepingsooreenkoms behels die veilige deurgang van vragskepe wat vanaf hawens in die suide van Oekraïne deur die Swartsee beweeg. Rusland beheer die Swartsee sedert sy inval in die Oekraïne op 24 Februarie.

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het Maandagaand in sy daaglikse video-toespraak gesê die eerste besending is “die eerste positiewe teken dat daar ’n kans is om die ontwikkeling van ’n wêreldvoedselkrisis te stop”.

Hy het egter gewaarsku dat Rusland gemonitor moet word om te verseker dat hy aan die ooreenkoms voldoen.

“Ons kan nie onder die illusie verkeer dat Rusland hom eenvoudig daarvan sal weerhou om Oekraïense uitvoere te probeer ontwrig nie,” het hy gesê.

Dmitri Peskof, woordvoerder van die Kremlin, het Maandag aan verslaggewers gesê die vertrek van die eerste skip is “baie positief” en sal help om die “meganismes waartoe ooreengekom is tydens die samesprekings in Istanboel, te toets”.

Oleksii Reznikof, minister van verdediging in die Oekraïne, het intussen gesê Kiëf het meer presisievuurpylstelsels van die VSA ontvang.

Die Oekraïne het die VSA-vervaardigde HIMARS-vuurpylstelsels geloof wat gehelp het om Rusland se opmars in die land se ooste te vertraag.

Reznikof het die militêre hulp “nog ’n belegging in die veiligheid van Navo se oostelike flank en ondersteuning vir demokrasie” in Europa genoem.

*Bronne: Reuters, Netwerk24, CNN

Kommentaar

Republikein 2025-02-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 21° Rundu: 19° | 24° Eenhana: 20° | 26° Oshakati: 21° | 28° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 20° | 26° Otjiwarongo: 19° | 29° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 19° | 28° Henties Bay: 19° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: W, Low tide: 09:10, High tide: 03:10, Low Tide: 21:20, High tide: 15:22 Swakopmund: 18° | 19° Wind speed: 16km/h, Wind direction: W, Low tide: 09:08, High tide: 03:08, Low Tide: 21:18, High tide: 15:20 Walvis Bay: 18° | 22° Wind speed: 18km/h, Wind direction: NW, Low tide: 09:08, High tide: 03:07, Low Tide: 21:18, High tide: 15:19 Rehoboth: 22° | 32° Mariental: 26° | 36° Keetmanshoop: 27° | 37° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 28° | 40° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 19° | 27° Lubumbashi: 17° | 21° Mbabane: 17° | 25° Maseru: 14° | 28° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 21° | 30° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 19° | 27° Durban: 20° | 28° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 19° Harare: 17° | 23° #VALUE! #VALUE!