Gruwels deel van die werklikheid

‘Om gewonde kinders te behandel, verpletter my steeds’
Op 24 Februarie vanjaar is dit drie jaar sedert Rusland die Oekraïne in opdrag van president Wladimir Poetin binnegeval het. 'n Militêre en vaskulêre chirurg in die Oekraïense weermag vertel in 'n onderhoud van die pynlike skeiding van sy gesin, die daaglikse amputasies en die poele bloed.
Henriette Lamprecht
’n Mens het altyd hoop vir ’n einde aan ’n oorlog. Maar as militêre dokters fokus hulle nie meer daarop nie.

Dmytro Mialkovskyi (42) is ’n luitenant van die 128ste Mountain Assault Brigade van die gewapende magte in Oekraïne. As ’n militêre en vaskulêre chirurg in die weermag is hy en sy gesin die afgelope drie jaar van mekaar geskei en sien hy hulle net twee keer per jaar wanneer hy verlof vir twee weke het.

Dit is ongeloof moeilik vir hom, erken Dmytro en dit het ’n verwoestende impak op sy gesin.

Buiten die geweldige verlange, is daar die amputasies wat hy daagliks op jong soldate moet uitvoer, iets wat hy in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) as “uiters pynlik” beskryf.

Ook om aan die families te verduidelik dat hul seun, man of pa wat eens ’n perfekte gesonde man was, nou in ’n kritieke toestand met ’n swak prognose is.



ALGEMENE CHIRURG IN NAMIBIë

Dmytro het vanaf 2013 tot 2020 as ’n algemene chirurg by die Onandjokwe-staatshospitaal in Namibië gewerk. In 2020 verhuis hy en sy gesin na Anguilla in die Britse Wes-Indië om sy ervaring as chirurg uit te brei en meer geleenthede te kry om laparoskopiese chirurgie te kan uitvoer.

In Desember 2022 besluit die gesin egter om na hul geliefde Oekraïne terug te keer omdat hulle hul tuisland, ouers, familie en vriende “erg gemis het”.

Toe die oorlog uitbreek, het hy sy familie na die grens geneem sodat hulle na Slowakye kon gaan. Vandaar is hulle terug na Anguilla waar sy vrou werk as ’n dokter by die Hughes Mediese Sentrum gekry het.

Hul kinders is weer ingeskryf by die skool wat hulle bygewoon het voordat die gesin verhuis het.

Met verwysing na die geestelike impak op militêre dokters weens die aard van hul werk, erken Dmytro dat hulle noodgedwonge vinnig daarby aangepas het om baie ernstige beserings, groot wonde en poele bloed te sien.

“Daardie gruwels het deel van ons werklikheid geword.”

Om egter amputasies op jong soldate uit te voer weens baie ernstige beserings aan ledemate of die onnodige verlenging van ’n toerniket (’n toestel wat gebruik word om die vloei van bloed deur ’n aar en slagaar te stop, deur ’n ledemaat met ’n koord of stywe verband saam te druk) bly egter vir hom steeds baie pynlik.

Nog ’n geweldige sielkundige las is om met die familielede van gewonde soldate te kommunikeer, iets wat hy as “ongelooflik moeilik” beskryf.

“Dit is ewe verwoestend om te sien hoe ’n jong soldaat uit narkose in die intensiewesorgeenheid wakker word net om te besef dat al sy ledemate geamputeer is.”

Dan is daar die jong slagoffers van die verwoestende en voortgesette oorlog.

“Om gewonde kinders te behandel, breek en verpletter my steeds.”

In sy huidige rol hanteer Dmytro egter nie meer burgerlike ongevalle nie, “so ek sien nie meer die trane van beseerde kinders nie”.



BESERINGS

Die meerderheid van die beserings waarmee hy daagliks te doen kry, is weens ontploffings en wonde van artillerieskerwe.

’n Beduidende aantal beserings word ook nou aan hommeltuie toegeskryf.

“Sowat 70% van traumagevalle is beserings aan ledemate wat traumatiese amputasies insluit. Ons sien ook ’n hoë aantal diep bors-, maag- en nekwonde, sowel as oop kopwonde.”

Met verwysing na die uitdagings in die verskaffing van mediese sorg, sê Dmytro personeel is nou in ’n baie beter posisie in vergelyking met drie jaar gelede.

“Ons het goeie toerusting, al die nodige mediese voorrade en goed georganiseerde werksvloei.”

Die voorkoms van massa-ongevalle maak hul werk egter uiters moeilik, erken hy.

In die meeste gevalle het die gewondes veelvuldige wonde oraloor hul liggame, wat behandeling ingewikkeld en tydrowend maak – van die aanvanklike operasie tot die voortdurende omruil van verbande en die versorging van wonde.

Dmytro verduidelik ongevalle word in fases ontruim, van Rol 1 tot Rol 2 en 3 en uiteindelik na mediese geriewe verder van die gevegsfront af. As gevolg hiervan volg nie ’n enkele dokter ’n pasiënt vanaf die oomblik wat hy beseer is, totdat hy ontslaan word nie.

Volgens Dmytro kan hierdie “fases van sorg” soms ’n negatiewe impak op ’n pasiënt se uitkoms hê.

Hul prioriteit is eenvoudig om hul werk te doen – die lewens van hul soldate te red, hulle te help om te herstel en te verseker hulle ontvang die beste moontlike sorg.

In die militêre hospitaal waar hy diens verrig, ook bekend as Rol 2, begin Dmytro se dag met ’n saalronde in die intensiewesorgeenheid, gevolg deur ’n personeelvergadering. Dit word gevolg deur rondes in die departement voordat hy vinnig ontbyt eet.

Die res van die oggend word bestee aan die evaluering van voorskrifte, die versorging van wonde en elektiewe chirurgie. Sou daar egter ’n gewonde soldaat by die militêre hospitaal aankom, word die elektiewe chirurgie eers op ys geplaas en onmiddellik na noodchirurgie beweeg.

Pasiënte wat die vorige dag opgeneem is, word voorberei vir ontruiming en vervoer van die gevegsfront na die volgende vlak van versorging. Wanneer Dmytro aan diens is, ontvang en opereer hy op nuwe pasiënte.

Volgens hom word die meeste ongevalle in die aand opgeneem wat dit die besigste tyd in die hospitaal maak. Ná operasies voltooi hy die nodige dokumentasie, wat sowat ’n uur per pasiënt duur, en wat insluit dokumentasie vir hul ontslag en voorbereiding vir hul ontruiming.

Die volgende oggend duur die nimmereindigende siklus voort, maar met bykomende werk weens die vorige aand se opnames. Wanneer Dmytro se skof uiteindelik om 16:00 eindig, stort hy, gesels met sy familie op WhatsApp en rus voordat alles die volgende dag weer van vooraf begin.

Die ironie is dat sy werkslading ligter was toe hy twee jaar gelede gestasioneer was by Rol 1, ’n stabiliseringspunt naby die gevegsfront wat voortdurent gebombardeer is.

“Ten spyte van die uiterste gevaar en om in ’n loopgraaf te slaap, was ek op ’n manier rustiger. Nou, hoewel ek in ’n meer gestruktureerde hospitaalomgewing is, is die blote intensiteit van die werk oorweldigend.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer