Hage se boodskap aan Brics

Bevorder nuwe finansiële wêreldstelsel
President Hage Geingob het 'n beroep op beleggers en ondersteuning gedoen om groen waterstof in Namibië te ontwikkel.
Augetto Graig
President Hage Geingob het Brics-lidlande verlede week uitgenooi om in Namibië te belê en te help om die infrastruktuur van groen energie te ontwikkel, waardekettings vir streekwye energie uit te brei, en verkoopsooreenkomste te laat sluit.

“Ons is oop vir sake,” het hy gesê.

Geingob was verlede week in Suid-Afrika, waar hy in Johannesburg – op uitnodiging van dié buurland se president Cyril Ramaphosa – die 15de Brics-beraad bygewoon het. Hy het toesprake by die China-Afrika-leiersdialoog en by die Brics-Afrika-uitreikgeleentheid gelewer.

Ramaphosa het namens die vyf Brics-leiers aangekondig dat Argentinië, Egipte, Ethiopië, Iran, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) vanaf 1 Januarie 2024 by die groepering van lande sal aansluit.

Die Brics-lidlande bestaan tans uit China, Rusland, Brasilië, Indië en Suid-Afrika. Meer as 40 lande het die beraad bygewoon, met 23 amptelike aansoeke vir lidmaatskap wat reeds voor die geleentheid ontvang is.

In totaal sal Brics, insluitend die nuwe lidlande, ’n gesamentlike bevolking van 3,646 miljard verteenwoordig – in vergelyking met die totale wêreldbevolking van 8 miljard. In terme van die ekonomie verteenwoordig die nuwe groepering US$35,16 triljoen teenoor die wêreldekonomie ter waarde van US$101,6 triljoen.

By die China-Afrika-dialoog het Geingob gesê Namibië ondersteun China se Globale Sekuriteitsinisiatief (GSI). Dié inisiatief van China se president Xi Jingping is in Februarie wêreldwyd bekend gemaak en doen ’n beroep op gemeenskaplike, omvattende, samewerkende en volhoubare sekuriteit vir die hele wêreld.

Dit deur elke land se grondgebied te respekteer, die beginsels van die Verenigde Nasies se handves te handhaaf, om lande se bekommernisse oor veiligheid ernstig op te neem en om toegewyd tot vreedsame oplossings te wees

Ook die handhawing van sekuriteit in tradisionele en nie-tradisionele domeine is ’n beginsel van die inisiatief.

“Namibië is ’n kind van internasionale solidariteit en glo in Een Afrika, Een Wêreld en Een Globale Nedersetting,” sê Geingob.

Geingob het by die uitreikgeleentheid Brics as ’n geleentheid vir ʼn alternatiewe wêreld- finansiële stelsel beskryf.

Brics laat handel tussen lande toe op universeel-erkende internasionale beginsels en waardes, soos om nie in binnelandse sake in te meng nie, wedersydse respek en wen-wen-samewerking, sê hy.

“Die bywoning van so baie Afrika-nasies vandag, onder die Brics-Afrika-uitreikinisiatief, is ’n getuienis van die sterk begeerte en toewyding van u edele, tot die uitbreiding van Brics, deur groter Afrika en Suid-Suid-deelname en samewerking in globale ekonomiese en finansiële sake,” het Geingob aan die Afrika-leiers wat teenwoordig was, gesê.

“Ek vertrou dat hierdie dialoog sal uitbrei oor sommige van die deurslaggewende modaliteite van hoe ’n uitgebreide Brics Plus in die beste belang van al sy lede sal funksioneer. Ons hoop dat Brics nie verdeeld sal word soos die Verenigde Nasies nie, wat ’n Veiligheidsraad het vir die min met vetomagte en die Algemene Vergadering vir die meerderheid van lidlande sonder dieselfde voorreg van ’n veto,” het Geingob gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer