Internasionale Strafhof se visier op Israelse en Hamas-leiers

Lasbriewe vir Netanyahu, Hamas-leierskap uitgereik
Die hoofaanklaer wil hê hulle moet teregstaan vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom op grond van die voordurende oorlog in Gasa in Palestina.
Augetto Graig
Die hoofaanklaer van die Internasionale Strafhof (ICC), Karim Khan, het aansoek gedoen vir lasbriewe om die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, en dié land se minister van verdediging, Yoav Gallant, in hegtenis te neem.

In dieselfde asem het Khan ook gevra vir lasbriewe vir Yahya Sinwar, die hoof van Hamas in Gasa, Mohammed Al-Masie, die hoof van Hamas se weermag, en Ismail Haniyeh, die hoof van Hamas se politburo.

Khan wil hê hulle moet teregstaan vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom op grond van die voordurende oorlog in Gasa in Palestina.

KLAGTES

Khan beskuldig Sinwar, Al-Masie en Haniyeh van uitwissing, moord, die ontvoering van gyselaars, verkragting, marteling, onmenslike dade, wrede behandeling en verontwaardiging.

Die IS word deur die Statuut van Rome – wat deur 124 lande wêreldwyd onderteken is – bemagtig om individue van vier soorte misdade te dagvaar, insluitend volksmoord, misdade teen die mensdom, oorlogsmisdade en die misdaad van aggressie.

Namibië het in 1998 die Statuut van Rome onderteken en dit is in 2002 bekragtig.

Israel het nie die Statuut van Rome onderteken nie en het al herhaaldelik die gesag van die IS verwerp. Netanyahu en Gallant kan dus net vervolg word as hulle ooit na een van die IS-lidlande soos Namibië sou reis.

Netanyahu en Gallant word beskuldig van die uithongering van burgerlikes, om lyding en ernstige besering doelbewus te veroorsaak, doelbewuste lewensverliese of moord, beplande aanvalle teen burgerlikes, uitwissing en moord asook om iemand se dood te veroorsaak deur vervolging en ander onmenslike dade.

Dit word as misdade teen die mensdom beskou.

Met betrekking tot die Hamas-leierskap, sê Khan dat die misdade teen die mensdom deel is van ’n wydverspreide en sistematiese aanval teen die burgers van Israel sedert 7 Oktober 2023.

“Sommige van hierdie misdade, volgens ons oordeel, duur tot vandag toe voort,” het Khan gesê.

Volgens Khan is daar redelike gronde om te glo dat Sinwar, Al-Masie en Haniyeh strafregtelik aanspreeklik gehou kan word vir die moord op honderde Israelse burgers in aanvalle deur Hamas (veral sy militêre vleuel, die Al-Qassam-brigade) en ander gewapende groepe op 7 Oktober 2023, asook die beweerde ontvoering van minstens 245 gyselaars.

“Hierdie individue het die misdade op 7 Oktober 2023 beplan en aangehits en het deur hul eie optrede, insluitend persoonlike besoeke aan gyselaars kort ná hul ontvoering, hul aanspreeklikheid vir daardie misdade erken.

“Ons voer aan dat hierdie misdade nie sonder hul optrede gepleeg kon word nie. Hulle word beide as medepligtiges en as meerderes ingevolge artikels 25 en 28 van die Statuut van Rome aangekla,” het Khan gesê.

ONDERSOEK

Onderhoude is glo gevoer met slagoffers en oorlewendes, insluitend voormalige gyselaars en ooggetuies van ses gebiede waar groot aanvalle uitgevoer is.

Dit sluit Kfar Aza, Holit, die ligging van die Supernova-musiekfees, Be’eri, Nir Oz, en Nahal Oz in.

Die ondersoek maak ook staat op bewysstukke soos kringtelevisiebeeldmateriaal, stemopnames en foto's.

Daar is ook glo verklarings deur Hamas-lede, insluitend ’n aantal beweerde oortreders, afgelê en deskundige getuienisse is ook ingevorder.

In terme van die Israelse leierskap, sê Khan dat die misdade teen die mensdom “gepleeg is as deel van ’n wydverspreide en sistematiese aanval teen die Palestyne ingevolge staatsbeleid”.

Volgens Khan het Israel doelbewus en stelselmatig die bevolking in dele van Gasa ontneem van noodsaaklikhede vir menslike oorlewing.

“Dit is gedoen deur die drie grensoorgangspunte – Rafah, Kerem Shalom en Ere – vanaf 8 Oktober 2023 vir lang tydperke te sluit en dan deur die oordrag van noodsaaklike voorrade deur die grensoorgange te beperk selfs nadat dit heropen is. Dit sluit kos en medisyne in.”

Dit terwyl oorgrens-waterpypleidings van Israel na Gasa – Gasa se hoofbron van skoon water – glo vir ’n lang tydperk vanaf 9 Oktober 2023 afgesny was. Die elektrisiteitstoevoer is ook vanaf 8 Oktober onderbreek.

“Dit het plaasgevind saam met ander aanvalle op burgerlikes, soos die belemmering van hulpverlening deur humanitêre agentskappe; aanvalle en moord op hulpwerkers.

“My kantoor voer aan dat hierdie dade gepleeg is as deel van ’n algemene plan om hongersnood as ’n wapen van oorlog te gebruik,” voer hy aan.

Hy voeg by dat wanvoeding, dehidrasie, diepgaande lyding en ’n toenemende aantal sterftes onder Palestyne, insluitend babas, kinders en vroue, die oorsaak hiervan is.

Khan wys op die feit dat hongersnood kritiek in sommige gebiede van Gasa is.

Reeds in Maart het António Guterres, die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), gewaarsku dat 1,1 miljoen mense rampspoedige hongersnood in die gesig staar.

“Dit is die hoogste aantal mense ooit op enige plek, enige tyd, en dit is as gevolg van ’n heeltemal mensgemaakte ramp.”

INTERNASIONALE WETGEWING

Khan dring daarop aan dat Israel se reg op selfverdediging die land nie vryspreek om internasionale humanitere wette te handhaaf nie.

Terselfdertyd doen hy ’n beroep op die onmiddellike vrylating van al die gyselaars as ’n vereiste van die voldoening aan internasionale humanitêre wetgewing

Sedert die aankondiging Maandag het Netanyahu belowe om die saak voort te sit. Gallant het gesê Israel se weermag sal sy bedrywighede in Rafah in die suide van Gasa uitbrei.

Die Amerikaanse president Joe Biden verwerp enige vergelyking tussen Hamas en Israel terwyl betogings teen die oorlog wêreldwyd, insluitend in Israel en Amerika, voortduur.

Kos en medisyne vir Palestyne in Gasa hoop in Egipte op, aangesien die Rafah-kruising gesluit bly en geen hulp is vermoedelik die afgelope dae van ’n VSA-geboude kaai by ’n VN-pakhuis afgelewer nie.

Internasionale media berig dat ten minste 35 562 Palestyne dood en 79 652 gewond is sedert die oorlog in Gasa begin het

Sowat 1 170 mense is dood in die Hamas-geleide aanvalle op 7 Oktober en 250 mense is toe gyselaar geneem, met 132 wat nog vermis word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!