Lewis Hamilton span in Sossusvlei uit

Namibië ’n gunstelingbestemming vir sportsterre
Ellanie Smit
Namibië is besig om ’n gewilde vakansiebestemming vir internasionale sportsterre te word.

Die land was nog altyd ’n gunsteling onder A-lys-sterre soos Angelina Jolie en Brad Pitt, Charlize Theron, prins William, en selfs onlangs Will Smith wat ’n rustige blaaskans wou neem.

Die Britse superster-renjaer Lewis Hamilton het Dinsdagmiddag op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geland en vandaar ’n private vliegtuig geneem na Sossusvlei, een van Namibië se skouspelagtigste landmerke en vakansiebestemmings.

Hy neem tans ’n blaaskans van die veeleisende Formule Een-wedrenne wat op 28 Augustus in België sal hervat.

Net die afgelope Sondag het hy tweede geëindig ná Max Verstappen in die Hongaarse Grand Prix.

Hamilton het glo die wegbreekkans aangegryp en op ’n direkte vlug van Europa na Afrika geklim.

Hy gaan na bewering tuis by ’n eksklusiewe en luukse privaat lodge wat in sy dieetbehoeftes kan voorsien. Daar word bespiegel dat hy ingeboek het by die luukse &Beyond Sossusvlei Desert Lodge, wat ideaal is vir gaste wat hul privaatheid wil beskerm.

Hamilton is glo nog altyd lief daarvoor om na verskillende bestemmings te reis.

In Junie het die befaamde sokkerafrigter Jose Mourinho ook in Namibië gekuier en ten minste twee dae in die land vakansie gehou.

Volgens berigte het hy verskeie lodges van Wilderness Safaris besoek terwyl hy in die land was.

Mourinho se hoofakkommodasie was egter glo die luukse Habitas Namibia-reservaat, sowat 70 km oos van Windhoek, wat spog met uiteenlopende natuurlike habitatte en honderde skaars wildspesies.

Die 59-jarige afrigter is bekend vir sy liefde vir Afrika, nadat hy met talle spelers van dié vasteland gewerk het.

Mourinho het onlangs die Italiaanse sokkerklub Roma na die UEFA Conference League-titel gelei en word beskou as een van die beste afrigters van die moderne tyd. Sy leierskap het verskeie liga- en bekertitels in Engeland, Spanje, Italië en sy geboorteland Portugal in die sak gebring.

In 2020 was die Sweedse tennisster Roger Federer ook in Namibië en tydens sy kort besoek aan Windhoek het hy twee projekte besoek wat deur die Church Alliance for Orphans (CAFO) bestuur word.

Die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, het gesê besoeke deur baie belangrike persone (BBP’s) aan Namibië is bemoedigend, want dit dien as bewys dat Namibië se naam as ’n topkeuse-bestemming sterk is.

“Terselfdertyd moet ons onthou die feit dat BBP’s amper ongesiens in ons land kan rondbeweeg, is juis die groot trekpleister. Hier voel hulle veilig en ongestoord deur steelfotograwe, en dit is belangrik dat ons hulle respekteer en verseker dat ons hulle ervaring ’n sielvolle, bevrydende, ongerepte en natuurlike een kan maak.”

Behalwe dat dit gewild is onder bekendes, is verskeie internasionale rolprente en TV-programme in die land geskiet, waaronder Mad Max: Fury Road, The Mummy, 10 000 BC, Flight of the Phoenix, verskeie seisoene van The Amazing Race, The Challenge en Around the World in 80 Ways.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!