Mbumba: China, kies Namibië

Nuwe Namibië-handelsbeleid kom
Die Namibiese president vergader met sy Chinese eweknie, Xi Jinping, by die negende FOCAC-byeenkoms.
Augetto Graig
President Nangolo Mbumba is in China as een van 50 Afrika-staatshoofde wat deelneem aan die negende Forum vir China-Afrika-samewerking (FOCAC) 2024, wat vandag tot ’n einde kom.

Mbumba se boodskap is vroeër vandeesweek duidelik uitgespreek by die Namibië-China hoëvlak-sakeberaad op 4 September, wat deur die Namibiese ambassade in China op die kantlyn van FOCAC gereël is.

“Namibië is toegewy daartoe om ekonomiese selfstandigheid te bereik.”

Mbumba brei uit: “Dit is ons ambisie om oor te skakel vanaf die afhanklikheid van die uitvoer van onverwerkte rou minerale na innoverende ontwikkeling en die verwerking van ons natuurlike hulpbronne tot voltooide produkte.”

Aan die Chinese sakegemeenskap het Namibië se president gesê: “Daar is geen rede hoekom julle nie Namibië kan kies nie. Die grootste Chinese belegging in Afrika is in Namibië.”

Daarmee het die president verwys na China General Nuclear (CGN) en China National Uranium Group (CNNC) se reuse-beleggings vir die ontwikkeling van die Husab-uraanmyn.

Volgens NBC Digital News het Swakop Uranium, die Namibiese filiaal wat die Husab-myn bestuur, se uitvoerende hoof, Qiu Bin, by dieselfde geleentheid gesê dat nog N$400 miljoen se beleggings beplan word, insluitend die vestiging van ’n semi-nywerheidsaanleg, ’n vennootskap met NamWater om ’n ontsoutingsaanleg te bou, ’n miljarddollar-eksplorasieprojek en ’n tegniese opleidingsprogram vir Namibiërs.

Mbumba sê Chinese sakelui kan hand aan hand saam met Namibiërs werk om meer geleenthede vir wedersydse voordeel te benut.

“Ons is op soek na strategiese vennote uit China met die nodige tegnologie, vaardighede, kennis en kapitaal om saam met ons te werk om die Namibiese ekonomie uit primêre produksie te transformeer na ’n ten volle geïndustrialiseerde, kennisgebaseerde,

tegnologies gevorderde en hoëwaarde-toegevoegde ekonomie.”

Mbumba se prioriteite sluit in waardetoevoeging tot minerale, olie en gas, hernubare energie, chemikalieë, skoonheidsmiddels, toerisme en landbou-verwerking.

Hy sê ’n (nuwe) Namibië-handelsbeleid word voltooi om ’n hoeksteun vir ekonomiese groei en nywerheidsontwikkeling te wees.

“Die doel is om nuwe nywerhede te vestig wat as magnete vir vars beleggings en bekwame personeel sal dien,” sê hy.

Namibië is die naasbeste bestuurde land in Afrika, die tweede vinnigste groeiende ontluikende mark vir direkte buitelandse belegging in Afrika, en die vyfde mees vreedsame land ter wêreld, spog die president.

“Namibië se ekonomiese potensiaal is groot as gevolg van sy unieke mengsel van politieke stabiliteit, vriendelike mense, bevorderlike sake-omgewing en ryk natuurlike hulpbronne,” voeg hy by.

Gister het China Daily die Chinese ambassadeur in Namibië, Zhao Weiping, aangehaal dat meer Chinese maatskappye vanjaar beleggingsgeleenthede hier sal kom soek, en dat China se belegging in Namibië strook met die belange van beide lande en hul mense. Volgens die ambassadeur is die toekoms van bilaterale samewerking blink.

Die Xinhua-nuusorganisasie het gister berig dat Mbumba persoonlik met China se president Xi Jinping vergader het. Mbumba het ook deelgeneem aan die hoëvlakvergadering oor nywerheidsontwikkeling en landboumodernisering, gesamentlik gelei deur China en Suid-Afrika.

China Daily se Xi's Moments het op X verslag gedoen dat die Chinese president Mbumba se bydrae tot die sukses van die forum geprys het, en dat China bereid is om saam met Namibië en ander Afrikalande te werk.

In sy openingstoespraak het Xi aangekonding dat China oor die komende drie jaar 360 miljard yuan (sowat N$903 miljard) se finansiële ondersteuning aan Afrika sal verskaf.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 38° Rundu: 23° | 38° Eenhana: 23° | 37° Oshakati: 26° | 34° Ruacana: 23° | 33° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 31° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 21° | 32° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 23° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 25° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 24° | 37° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 22° | 35° Oranjemund: 15° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 24° | 35° Lubumbashi: 18° | 31° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 13° | 31° Lilongwe: 21° | 32° Maputo: 22° | 31° Windhoek: 21° | 32° Cape Town: 18° | 22° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 30° Lusaka: 23° | 33° Harare: 18° | 30° #REF! #REF!