Mnangagwa beoog om Zim dollar te ‘beskerm’

President stel nuwe maatreëls bekend
Die Zimbabwiese regering het die naweek aangekondig plaaslike banke moet onmiddellik die goedkeuring van lenings staak.
Augetto Graig
Die president van Zimbabwe, mnr. Emmerson Mnangagwa, het die naweek drastiese maatreëls aangekondig met die doel om die waarde van dié land se geldeenheid te beskerm en om vertroue en stabiliteit in die buurland se ekonomie te herstel.

Die maatreëls sluit onder meer ’n verbod op banklenings deur kommersiële banke in, asook streng toesig oor die Zimbabwiese aandelebeurs se bedrywighede.

Om winsneming op korttermynbeleggings onder beheer te hou, word die belasting op kapitaalwins verdubbel vanaf 20% tot 40% op beleggings van korter as 270 dae. Siviele boetes sal ook uitgereik word op enige transaksie wat as krimineel beskou word.

Ander maatreëls wat ingestel is, sluit in verhoogde belasting op bankoorplasings van buitelandse valuta en hoër heffings op kontantonttrekkings van buitelandse valuta van meer as US$1 000.

Mnangagwa sê Zimbabwe se ekonomie ervaar tans verhoogde inflasie, vanaf ’n 4% maand-op-maand-gemiddeld oor die vorige 12 maande, tot 15,5% in April vanjaar.

Hy sê dis nie net weens buitelandse faktore nie, maar ook as gevolg van waardevermindering van die plaaslike geldeenheid.

In Zimbabwe word ewe veel handel in Zimbabwiese dollar as die Amerikaanse dollar gedryf, om nie eens van die swartmark te praat nie.

“As dit nie in toom gehou word nie, kan die voortdurende waardevermindering van die plaaslike geldeenheid teenoor die VSA-dollar dalk lei tot die omkeer van stabiliteitswins wat sedert die implementering van die buitelandse valutaveilingstelsel in Julie 2020 bereik is,” sê hy.

Die president sê egter genoeg buitelandse valuta word ingevorder. Meer as US$9,7 miljard buitelandse valuta is in 2021 ingevorder, teenoor US$6,3 miljard in 2020. Dis ’n toename van 53,5%, sê hy.

In die kwartaal tot 31 Maart vanjaar is reeds US$2,4 miljard ingevorder, 15,9% meer as in dieselfde periode verlede jaar, voeg hy by.

Nasionale reserwes van buitelandse valuta staan nou op US$1 miljard en Zimbabwe het ook nog US$1,4 miljard in buitelandse bankrekeninge, sê hy.

Verder sê hy Zimbabwe se fiskale posisie is sedert 2020 gunstig.

“Faktore buite die ekonomiese grondbeginsels dryf die onlangse waardevermindering van die plaaslike geldeenheid. Dit kan vergelyk word met die werksaamhede van ekonomiese huurmoordenaars,” sê hy.

Hierdie “huurmoordenaars” skep ’n kunsmatige hoë aanvraag vir buitelandse valuta terwyl die ekonomiese agente vir hoë inflasie voorberei, wat op sy beurt wisselkoerse laat daal en inflasie laat toeneem.

“Hierdie bose kringloop moet gebreek word,” het hy gesê.

Een nagevolg is die vermindering van die waarde van individue se bankrekeninge nadat die regering in 2019 weer die plaaslike dollar ingestel het, sê hy.

Die regering het besluit om burgers met bankrekeninge met minder as US$1 000 teen die einde van Januarie 2019, te vergoed. ’n Raamwerk is reeds geskep om die proses te dryf.

Verder maak die regering ook voorsiening om die agterstand rakende buitelandse valutaveilings teen einde Mei uit te wis, sê Mnangagwa.

Van nou af moet alle buitelandse valutaveilings ná 14 dae vanaf die veiling afgehandel wees.

Zimbabwe se nuwe vrywillige-koper-gewillige-verkoper buitelandse valutawisselstelsel, sal die wisselkoers nou vasstel.

Sedert die stelsel op 1 April in werking getree het, kon banke in die land meer aankoop as wat hulle moes verkoop.

Mnangagwa het dus aangekondig dat die maksimum vanaf US$1 000 per individu per dag, tot US$5 000 per individu per dag tot op US$10 000 per week verhoog word.

Tussentydse belasting op geldoordrag bly onveranderd op 2% vir oordragte in Zimbabwiese dollar, maar is nou 4% op oordragte in buitelandse valuta, het Mnangagwa gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!