Namibië betwis miljoene se skuld aan Londen
Onbetaalde heffings om verkeeropeenhopings te verhoed
Die skuld hoop glo sedert 2003 op, maar Namibië beweer die heffing val onder belasting waarvan sy diplomate vrygestel is.
Die Namibiese hoëkommissariaat in Londen maak staat op ’n 63 jaar oue diplomatieke konvensie om ’n heffing van N$14,2 miljoen in die Verenigde Koninkryk (VK) te systap.
Dit kom nadat Transport for London (TfL), wat dié stad se vervoernetwerk monitor, Namibië ingesluit het op ’n lys van 161 Londen-gebaseerde ambassades, konsulate en hoëkommissariate wat dié instansie gesamentlik meer as N$28 miljard aan onbetaalde fooie en boetes skuld.
Die skuld hou verband met ’n wetsontwerp wat Londen in 2003 ingestel het vir heffings om die opeenhoping van verkeer in dié middestad te voorkom. Die heffing sluit in ’n daaglikse fooi van N$294 om binne sentraal-Londen tussen 07:00 en 18:00 op weeksdae te ry, asook tussen 12:00 en 18:00 oor naweke.
Dit het ten doel om verkeersopeenhopings en lug- en geraasbesoedeling in sentraal-Londen te verminder, asook om beleggingsfondse vir die stad se vervoerstelsel in te samel.
Die betrokke lande se skuld het sedert die bekendstelling in 2003 tot einde verlede jaar opgehoop.
‘GAAN NIE BETAAL NIE’
Soos baie ander lande wat op die lys van wanbetalers verskyn, is Namibië nie van plan om die skuld te vereffen nie, en beweer dat die land van die betrokke heffing vrygestel is aangesien dit as ’n tipe belasting beskou word.
Namibië se hoë kommissaris in die VK, Linda Scott, het Woensdag Namibië se standpunt bevestig.
“Die Namibiese hoëkommissariaat, soos die meerderheid ander missies in die VK, het dit nie as ’n heffing erken nie, maar as ’n belasting.
“Gevolglik, binne die raamwerk van die Weense Konvensie oor diplomatieke voorregte, is die sending nie verplig om belasting te betaal nie,” het sy gesê.
Ingevolge die Weense Konvensie oor diplomatieke betrekkinge is plaaslike belasting nie van toepassing op buitelandse diplomate nie, so Namibië beweer hulle het in wese diplomatieke immuniteit teen die afdwinging daarvan.
Die Namibiese regering het die Britse owerhede verder aangemoedig om die Weense Konvensie ten volle te implementeer, in plaas daarvan om dit selektief te doen.
VSA EN JAPAN
Die Verenigde State van Amerika en Japan, wat na bewering onderskeidelik sowat N$2,8 miljard en N$2 miljard skuld, weier ook om die heffings te betaal en eis diplomatieke immuniteit van die boetes.
“In ooreenstemming met internasionale reg, soos weerspieël in die Weense Konvensie oor diplomatieke betrekkinge van 1961, is ons standpunt dat die betrokke heffing inderdaad ’n belasting is waarvan diplomatieke missies vrygestel is,” het die bekende mediahuis, Cable News Network (CNN), ’n woordvoerder van die Amerikaanse ambassade in Londen aangehaal.
“Ons jarelange posisie word gedeel deur baie ander diplomatieke missies in Londen,” het die woordvoerder bygevoeg.
CNN het ook berig dat die Japannese ambassade in Londen aangedui het dat “die regering van Japan van mening is dat die heffing nie ooreenstem met ‘fooie en belasting’ of die ‘koste van heffings’ vir spesifieke dienste wat gelewer is nie, soos bepaal in die betrokke internasionale konvensie”.
Japan voer op grond hiervan aan dat die ambassade, diplomatieke agente en hul familielede van die heffings vrygestel moet word.
WAARSKUWING
TfL het gedreig om diegene wat versuim om hul skuld en uitstaande fooie te betaal na die Internasionale Geregsof te sleep.
“Ons en die Britse regering wil dit duidelik maak dat die heffings om verkeersopeenhopings te voorkom ’n heffing vir ’n diens is en nie ’n belasting nie,” het die TfL in ’n verklaring gesê.
“Dit beteken dat diplomate nie daarvan vrygestel word nie. Die meerderheid ambassades in Londen betaal wel die heffing, maar daar bly ’n hardnekkige minderheid wat weier om dit te doen, ten spyte van ons vertoë deur diplomatieke kanale.
“Ons sal voortgaan om alle onbetaalde heffings op te volg, verwante kennisgewings van boetes vir onbetaalde heffings uit te reik en daarop aandring dat die kwessie na die Internasionale Geregshof geneem word,” lui die verklaring.
Die burgemeester van Londen, Sadiq Khan, het glo aan die media gesê die honderde miljoene ponde in onbetaalde heffings wat deur ambassades verskuldig is, is “bo [sy] betaalvlak”.
Volgens hom is die kwessie – wat oor twee dekades ontwikkel het – gebaseer op ’n dispuut oor ’n internasionale konvensie waaroor hy nie die mag het om te “heronderhandel” nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie