Oath Keepers se stigter skuldig bevind ná kongres-aanval

Elmer Stewart Rhodes III, stigter van die radikaal verregse groep die Oath Keepers, is deur ’n jurie skuldig bevind aan die opruiende sameswering om die vreedsame oordrag van mag van die destydse Amerikaanse president Donald Trump na die huidige president Joe Biden te verhinder.

Vir die departement van justisie is dit ’n oorwinning in die vervolgings wat verband hou met die aanval op 6 Januarie 2021 op die kongresgebou in Washington.

Rhodes, gebore in 1966, se lewenspad het geloop van ’n libertariese student by Yale en valskermtroep tot ’n beskuldigde wat teregstaan op ’n aanklag wat met ’n maksimum vonnis van 20 jaar tronkstraf gepaard gaan.

Rhodes dra ’n oogklap nadat hy in 1993 per ongeluk sy linkeroog met ’n .22-pistool uitgeskiet het. Hy het die Oath Keepers in 2009 gestig ná die verkiesing van Barack Obama as die VSA se president.

Aanklaer Jeffrey Nestler het in ’n slottoespraak aan jurielede gesê: “Hulle het aangevoer hulle was toegedraai in die Grondwet, maar hulle het dit eerder vertrap. Hulle het beweer hulle wil die Republiek red, maar hulle het dit eerder verskeur.”

Tydens die verhoor het aanklaers klankopnames gespeel van ’n konferensie-oproep die vorige November – wat deur minstens een lid van Oath Keepers opgeneem is – waarin Rhodes gesê het die groep is “baie op presies dieselfde plek as waarin die stigtersvaders in Maart 1775 was.”

“Daar gaan ’n geveg wees. Maar kom ons doen dit net slim en kom ons doen dit terwyl president Trump nog opperbevelvoerder is en kom ons probeer hom kry om sy plig te doen en op te tree,” het Rhodes gesê. In een van die mees dramatiese oomblikke van die verhoor het jurielede persoonlik van Rhodes gehoor.

Rhodes het in sy eie verdediging getuig en hom probeer distansieer van die gedrag van medelede van Oath Keepers. Hy het ontken dat die verregse groep voor 6 Januarie beplan het om die Capitol-gebou te betree.

Hy het aan jurielede gesê dit was “dom” van sy medelede om die Capitol in te gaan terwyl wetgewers byeen was om die uitslag van die 2020-verkiesing te sertifiseer. Hy het ontken dat hy aan hulle opdragte gegee het.

Rhodes is saam met Kelly Meggs, nog ’n lid van die Oath Keepers, skuldig bevind aan opruiende sameswering. Die jurie het dat drie ander Oath Keepers – Kenneth Harrelson, Jessica Watkins en Thomas Caldwell – op dié klag onskuldig bevind. Al vyf is skuldig bevind aan afsonderlike aanklagte, insluitend die belemmering van ’n amptelike verrigtinge, ’n misdryf wat gelei het tot van die strengste vonnisse in die vervolgings rakende 6 Januarie.

Rhodes bly in aanhouding in afwagting op sy vonnis.

– Bygewerk van BusinessInsider.com / New York Times

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer