Obiang se vaartuig in Namibiese waters

N$300 miljoen werd, 67 m lank
Die visepresident van Ekwatoriaal-Guinee beweer die luukse jag is eintlik die eiendom van die land se departement van verdediging.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ’n Superluukse vaartuig, Blue Shadow wat na bewering N$300 miljoen werd is en wat deel is van ’n beslagleggingsbevel teen die visepresident van Ekwatoriaal-Guinee (EG), Theodorin Obiang, is tans in Namibiese waters buite die Walvisbaaise hawe.

Daar is op die luukse vaartuig in die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad beslag gelê ná ’n hofbevel, maar die bevel is egter opgehef nadat EG beweer het dit is ’n militêre vaartuig wat nie aan Obiang behoort nie en reeds vir ongeveer drie jaar in die hawe vir herstelwerk lê.

Die beslagleggingsbevel spruit uit ’n skadevergoedingseis wat deur die oud-Namibiër Daniel Janse van Rensburg reeds in 2016 teen Obiang ingestel is en wat in 2021 suksesvol in sy guns vir N$40 miljoen beslis is.

Janse van Rensburg het 491 dae in die berugte Black Beach-tronk in EG deurgebring en is in 2015 vrygelaat. Obiang is berug vir sy luukse leefstyl met van woonstelle in Parys, Frankryk, tot verskeie luukse motors waarop reeds in die buiteland beslag gelê is. Hy is die seun van EG se president, Teodoro Obiang.

Onberispelike bronne het uit Walvibaai gister bevestig die luukse vaartuig lê net buite die hawedorp en het koördinate deurgestuur wat die presiese ligging bevestig.

Die vaartuig is glo buite Walvisbaai om brandstof en personeel en wat ’n kaptein insluit, te werf om die 67 meter lange vaartuig vanaf Walvisbaai na EG te neem. Dit nadat die vorige kaptein en twee bemanningslede bedank het. Die vereistes sluit in ’n Master 3000- of beter kwalifikasie.

Volgens Janse van Rensburg kon sy regspan nie bewys die vaartuig behoort aan Obiang nie, “alhoewel almal weet dit is, moes ons dit laat gaan”.

“Ons het egter nog steeds die twee huise (Clifton en Bishopscourt) waarop vroeër beslag gelê is, wat ons wag vir toestemming van die hof om te verkoop”.

Twee Suid-Afrikaners, die 55-jarige Peter Huxham en die 53-jarige Frederic Potgieter is twee dae ná die beslaglegging van die vaartuig in ’n hotel in EG se hoofstad Malabo in die berugte Black Beach-tronk gegooi. Hulle is sedertdien na ’n tronk in die afgeleë oostelike stad Mongomo verskuif. Die bewering vanaf die kant van EG is dat die paar glo met kokaïen verbind word. Hulle is glo ook nog nie amptelik aangekla nie.

Janse van Rensburg het dit baie duidelik gemaak dat sy besluit om die beslaglegging te laat vaar, geensins verbind word met die twee Suid-Afrikaners wat in die land aangehou word nie en dit net blote media spekulasie sonder enige konkrete bewyse is.

Die besluit om dit te laat vaar, is omdat Obiang jr. inligting oor die eienaarskap van die vaartuig verskaf het wat aandui dit behoort aan die departement van verdediging en nie aan hom persoonlik nie.

“Natuurlik is ek baie bekommerd oor hul welstand.”

Die regering van EG het vroeër gedreig om Suid-Afrikaanse bates te konfiskeer, sou die Blue Shadow nie laat gaan word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!