No Image Caption

Oekraïne ’n jaar terug binnegeval

Yolanda Nel
Vandag ’n jaar gelede het Rusland die Oekraïne binnegeval, dit is vier maande voor Monica* haar studies sou voltooi.

Sy is een van 193 Namibiese studente wat alles in die Oekraïne moes agterlaat en na Pole vlug voordat sy huis toe kon keer.

“Ek kan net sê al die Namibiërs het mekaar ondersteun en gehelp. Ons het seker gemaak dat geen Namibiër agtergebly het nie,” het sy gesê.

Sy dink terug aan haar 24 uur lange reis na veiligheid.

“Daar was min spanning in Zaporizhzhia waar ek gebly het.”

Zaporizhzhia is ’n nywerheidspilpunt met talle kragstasies, met swaar nywerheidsprodukte wat in die streek vervaardig word, insluitend staal, vliegtuigenjins en transformators vir substasies. Dit is ongeveer 245 kilometer vanaf Donetsk geleë.

Sy wou na Lviv reis, maar treine na Pole was vir Oekraïense vroue en kinders gereserveer. Hulle het 12 ure vir ’n trein gewag wat aan buitelanders belowe is.

“Ons was vir ure lank in die koue gestrand. Daar was só baie mense. ’n Groep van ons het later besluit om ’n taxi na die grens te neem, maar dit het gepaardgegaan met sy eie stel uitdadings,” het sy gesê en dat hulle drie keer die normale tarief moes betaal. Die bestuurder het ook aangedring om in Amerikaanse dollar betaal te word en het nie die Oekraïense geldeenheid aanvaar nie.

Die taxi kon hulle ook nie direk na die grens neem nie en die groep studente moes 40 minute loop voordat ’n bus hulle opgelaai het.

“Gelukkig kon ons die Namibiese afgevaardigde op die grens opspoor wat ons na ons verblyf geneem het. In daardie stadium het ons geweet ons is veilig.”

Monica sê sy het nog vriende in die Oekraïne, wat nêrens anders gehad het om heen te gaan nie en hulle vrees sedertdien vir hul lewens.

“Dit is hartseer om te weet dat sommige van my professore opgeroep is om te help veg en hulle het vir hul land gesterf.”

Zaporizhzhia is tans ’n reuseteiken vir Russiese missiele.

Sy het besluit om in die Oekraïne te studeer omdat sy ervaring in die buiteland wou opdoen. Dit was ’n geskikte en bekostigbare opsie.

“Die lewenskoste was nie hoog nie en dit was vriendelik en tegemoetkomend vir al die buitelandse studente wat daar was.”

’n Groot nadeel was om ’n nuwe taal aan te leer, want buite die universiteit praat mense Russies óf Oekraïens.

Sedert sy teruggekom het, doen sy haar kliniese rotasie by die staatshospitaal in Windhoek.

“Ek kon my studies met vrystelling voltooi omdat ek in my finale semester was en ons ons eindeksamen aanlyn geskryf het,” het sy gesê.

Josep Borrell, hoëvlak verteenwoordiger van die Europese Unie vir buitelandse sake en veiligheidsbeleid, het in ’n verklaring gesê die inval is en bly brutaal, onuitgelok en onwettig.

“Dit is ’n geval van pure aggressie en ’n duidelike oortreding van die VN-handves. Niemand is veilig in ’n wêreld waar die onwettige gebruik van geweld – deur ’n kernkragprodusent en permanente lid van die veiligheidsraad – op een of ander manier as normaal beskou sou word.”

* Skuilnaam

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer