Oekraïne: 1 000 dae later

‘Ongelooflike volharding en dapperheid’
Ten spyte van geweldige lyding en verliese gaan die lewe in die land voort en hou dit aan om vir sy onafhanklikheid te veg.
Henriette Lamprecht
Vandag – 19 November – is 1 000 dae sedert Rusland sy inval in Oekraïne van stapel gestuur het.

Olga Nesterenko, ’n Oekraïner wat ’n holte vir haar voet in Swakopmund gevind het en naam maak met haar atmosferiese foto’s van dié gewilde vakansiedorp, vertel in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH), hoe haar landgenote van die begin van die inval “ongelooflike volharding en dapperheid” getoon het.

Soldate en vrywilligers van oraloor die land het verenig in hul verdediging van hul tuisland, sê Olga.

Babas wat 1 000 dae en ouer is kan volgens haar met veiligheid “die konserwatiewes” genoem word, want vertel sy, hulle hou van reëls, raak gou gewoond aan die daaglikse roetine en hul bewegings is meer presies en veral gekoördineerd.

“Oekraïners het reeds hul taktiek ontwikkel om in die nuwe werklikheid te leef. Hulle steur hulle weinig aan die alarms. Natuurlik, as die geleentheid hom voordoen, gaan hulle na die skuilings of bly by hul werk of slaap bloot verder!”

Sy verwys na die alarms van die Zaporizhzhia Sich van die 15e eeu wat die basis vorm van die verdere ontwikkeling van die alarmbedryf in die land.

Olga vertel trots van die 51 verteenwoordigers uit Oekraïne wat aan vanjaar se Genius-olimpiade by die Rochester Instituut vir Tegnologie deelgeneem en 46 medaljes verower het, waaronder tien goues.

Vanaf 2017 tot die mees onlangse lys is Oekraïne boaan die Good Country-indeks vir wetenskap en tegnologie. Volgens Olga is dit dus geen verrassing dat haar landgenote nou hul eie hommeltuie ontwerp nie – verskillende tipes vir verskeie sendings.

Op die ranglys vir aanlyn dienste-indeks was Oekraïne vyfde uit 193 lande, vertel sy trots en vanjaar was die land ook eerste in terme van inwoners se aanlyn betrokkenheid by regeringsprosesse. Sedert September kan Oekraïense burgers ook aanlyn trou!

“Die stelsel is eenvoudig – een persoon vra die ander deur middel van die toep om te trou en die ander persoon ontvang die kennisgewing. As die tweede party binne 14 dae instem om te trou, word daar op ’n datum vir ’n troue via ’n video-oproep ooreengekom,” verduidelik Olga.

Deur middel van die toepassing kan soldate terwyl hulle op die gevegsfront is, met hul geliefdes by die huis trou. Tot dusver is 600 paartjies aanlyn getroud. Sy verwys ook na die tyd van die Unie van die Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR) toe duisende spesialiste vir Afrikalande in verskeie sfere in Oekraïne opgelei is.

Die studente het die voorlopige kursusse in Donetsk en Kiëf bygewoon, voordat hulle hul studies by die verskillende opleidingsgeriewe begin het. Tans is daar sowat 9 000 studente verbonde aan universiteite in die land.

Vanjaar het noodmediese spesialiste in die land die Internasionale Kampioenskap vir Noodbehandeling ontvang, vertel Olga trots.

“Vandag het Oekraïne baie verskillende tipes mediese geriewe. Okhmatdyt is een van die wêreld se voorste instellings in pediatriese sorg. In die tyd van vrede het Okhmatdyt meer as 10 000 operasies per jaar uitgevoer en konsultasies aan meer as 270 000 kinders verskaf.

“In die huidige oorlog gaan hul steeds met hul werksaamhede voort. In 2023 het spesialiste by

Okhmatdyt twee niere en ’n lewer van ’n vierjarige kind oorgeplant en sodoende soveel lewens gered.”

’n Russiese missiel het die kinderhospitaal in Kiëf gedeeltelik vernietig, terwyl die intensiewesorgeenheid en departemente vir onkologie en chirurgie beskadig is. Inwoners van oraloor die stad het egter dadelik ingespring om die rommel van die beskadigde deel van die hospitaal te verwyder en om na slagoffers te soek.

Soos in elke oorlog oor die wêreld heen, is dit weer eens die kinders wat die grootste slagoffers blyk te wees. Volgens amptelike data sê Olga het 584 kinders tot op hede in die oorlog tussen Rusland en Oekraïne gesterf.

Tydens die oorlog het Rusland volgens haar 20 000 Oekraïense kinders ontheem, is hul ouers dood, families en gesinne uitmekaar geskeur en kinders uit hul skole en ouerhuise onder Russiese beheer ontvoer en Russiese burgerskap aan hulle toegeken.

Laasgenoemde kinders word glo onder dwang deur Russiese ouers aangeneem, met struikelblokke wat bewustelik in die pad van Oekraïense ouers geplaas word om weer met hul kinders en hul geboorteland herenig te word.

Met die aanvang die oorlog het jy dikwels mense hoor vra: “Ek is so bang ek verloor my werk. Wat as daar niks is wat geskenk word nie, waarvan gaan ons leef?”

“Ons sien dat die ekonomie agteruitgaan, ook in die res van die wêreld. Pryse het die afgelope 1 000 dae die hoogte ingeskiet. Die oorlog het Oekraïne se ekonomie ‘n geweldige knou toegedien en raak alle sektore en veral die landboubedryf. As gevolg van laasgenoemde word die uitvoer van koring, mielies en sonneblomme ernstig bedreig,” sê Olga.

Oorlog is geweldige duur, verduidelik sy en inwoners gaan steeds voort om hul belasting te betaal. Danksy hierdie en die land se vennote is die land nog in staat om terug te veg.

Sy verwys na die Oekraïner Igor Skorsky wat in 1931 die wêreld se eerste helikopter ontwerp en gepatenteer het en wat vandag steeds in gebruik is. Ook die wêreld se grootste kommersiële vliegtuig en die swaarste vliegtuig ooit – die Antonov An-225 ‘Mriya’ (‘Dream’) is van Oekraïense afkoms. In 2022 is dit egter deur Russiese magte vernietig en was dit volgens Olga ook dié vliegtuig wat tydens die Covid-19-pandemie ’n groot humanitêre vrag na Namibië gebring het.

Vandag het haar geboorteland ook ernstige kragprobleme, erken sy. Die afgelope 1 000 dae is verskeie kragstasies beskadig en teiken Rusland byna daagliks kritieke infrastruktuur. Dit dwing kinders om hul onderrig te laat vaar en dokters om ingewikkelde operasies by kerslig uit te voer.

“Op ’n manier gaan die lewe aan, ek weet nie hoe hulle dit doen nie! Al wat ek hoor is: ‘Ons het vandag nie elektrisiteit nie, ek lees boek met ’n flitslig’.”

Volgens Olga is daar verskeie uitgewers in Oekraïne waarvan Vivat die grootste een was. Dit is egter deur Rusland vernietig, maar “ons mense het dadelik begin om nie net fisiek te help nie, maar ook om die uitgewers se boeke aanlyn te koop.”

Die man op straat dra steeds tot die weermag by, sê Olga. Die onbaatsugtige vroue van die Zaporizhzhia-vrywilligersgroep maak onder die vaandel van die Under the Umbrella-projek kamoefleernette vir die weermag, met van die nette wat volgens haar regte kunswerke is.

Ten spyte van die verwoesting van die oorlog wat onverpoosd voortwoed, lê die natuur steeds baie na aan die harte van Oekraïners wat ’n mobiele toepassing ontwikkel het waarmee omgewingsmisdade aangemeld kan word.

“In Zaporizhzhia het die vlak van die Dnieper-rivier baie laag gedaal nadat Rusland die Kakhovka-dam opgeblaas het. Dit het tot ’n reuse-ekologiese ramp gelei en mense is steeds besig om die rivierbedding skoon te maak”

Volgens Olga was die oorweldigende meerderheid van die Sowjet-geoloë wat in Afrika gewerk en gehelp het om damme op die vasteland te bou, werknemers van Ukrgeologia in Oekraïne.

“Die Sowjet-unie het baie Afrikalande, ingesluit Namibië, gehelp om ’n visbedryf op die been te bring. Maar die grootste bydrae was van die Oekraïense Black Sea-verskepingsmaatskappy Odessa.

“Ten spyte van die feit dat die land nie ’n formele vloot het nie, het dit stadig maar seker die teenwoordigheid en krag van die Russiese vloot in die Swartsee uitgewis. In Julie vanjaar het Rusland sy laaste patrollieboot uit Krimea onttrek en sodoende die teenwoordigheid by die besette skiereiland beëindig.”

Ten spyte van hul wêreld wat byna drie jaar gelede onherroeplik verander het, gaan haar landgenote eenvoudig aan met hul lewens. Hul besoek steeds bioskope, teaters en uitstallings.

“Die burgerlike bevolking moet ten spyte van alles probeer om ’n normale lewe te lei. Hoe minder die militêre normaal van die normaal voor die oorlog verskil, hoe doeltreffender hanteer die staat die beskerming van sy inwoners.

“Hierdie heldhaftige aanpassing help hulle om oomblikke van skoonheid en rustigheid na hul gemeenskap in hierdie onstuimige tye te bring.”

Olga vertel trots dat die rolprent Dune: Part Two geskiet is met lense van Zaporizhzhias Ironglass wat uit duisende opsies gekies is. Prototipes is reeds in vroeg 2022 geskep, maar die uitbreking van die volskaalse oorlog het nie die span gestop om voort te gaan nie, met sommige van die spanlede wat vanaf die oorlogsfront steeds daaraan gewerk het.

Vanjaar het Oekraïne ook ten spyte van die aanslae teen die land en sy inwoners sy eerste Oscar-toekenning in sy geskiedenis ontvang vir Mstyslav Chernov se film 20 Days in Mariupo.

“Ten spyte van geweldige lyding en verliese gaan die lewe in die land voort en hou dit aan om vir sy onafhanklikheid te veg.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!