Stukke van ’n missiel wat deur Rusland afgevuur en die hoofstad Kiev getref het. Foto Nampa/AFP
Stukke van ’n missiel wat deur Rusland afgevuur en die hoofstad Kiev getref het. Foto Nampa/AFP

‘Ongekende isolasie” wag op Rusland ná Oekraïne-inval

Rusland staar “ongekende isolasie” in die gesig oor sy aanval op die Oekraïne en sal getref word met die “hardste sanksies” wat die EU nog ooit ingestel het, het Josep Borrell, hoof van buitelandse beleid van dié blok, Donderdagoggend gesê.

"Dit is nie 'n kwessie van diplomatieke magspeletjies nie. Dit is 'n kwessie van lewe en dood. Dit gaan oor die toekoms van ons globale gemeenskap," het hy in 'n verklaring gesê.

Dit volg nadat Russiese magte Donderdagoggend missiele op verskeie stede in die Oekraïne afgevuur en troepe aan sy kus ontplooi het nadat pres. Wladimir Poetin wat hy “'n spesiale militêre operasie in die Ooste” noem, gemagtig het.

Die hoof van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het gesê nuwe sanksies teen Rusland wat voorberei is vir aanvaarding by 'n noodberaad van die EU later Donderdag "sal Rusland se ekonomiese onderbou en sy vermoë om te moderniseer verswak".

Sy het gesê die "massiewe" sanksies "sal strategiese sektore van die Russiese ekonomie teiken deur hul toegang tot sleuteltegnologieë en markte te blokkeer". Dit sal ook "Russiese bates in die EU bevries en die toegang van Russiese banke tot die Europese finansiële mark stop", het Von der Leyen gesê.

Soos met 'n eerste ronde sanksies wat Woensdag ingestel is terwyl Poetin sy aanval voorberei het, sal die nuwe sanksiepakket met die EU se vennote en bondgenote gekoördineer word, het sy gesê.

Russiese magte het Donderdag missiele op verskeie stede in die Oekraïne afgevuur.

Geweervuur is naby die lughawe in die hoofstad Kiev gehoor en sirenes wat teen lugaanvalle waarsku, het inwoners na bomskuilings laat vlug.

Poetin sê sy optrede volg nadat dreigemente van Oekraïne ontvang is. Hy het terselfdertyd ander lande teen die gevolge gewaarsku indien hulle sou inmeng.

Oekraïne se pres. Wolodimir Zelenski het op sy beurt gewaarsku Rusland se optrede kan tot ’n “enorme oorlog in Europa” lei.

*Bronne: Reuters, AFP, BBC, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer