Persvryheid in die digitale era
Wêreldwye druk vir meer deursigtigheid
Ná meer as 30 jaar bly die vryheid om inligting te soek, oor te dra en te ontvang se historiese band met die publieke belang so relevant soos dit was ten tyde van die ondertekening van die Windhoek-deklarasie.
Die fundamentele beginsels van persvryheid word jaarliks op 3 Mei gevier, en behels die evaluering van persvryheid oraloor die wêreld, die verdediging van die media teen aanvalle op hul onafhanklikheid en die verering van joernaliste wat hul lewens verloor het in die uitoefening van hul pligte.
Wêreldpersvryheidsdag is in 1993 deur die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering tot stand gebring na aanleiding van ‘n aanbeveling wat tydens die 26ste sitting van die VN se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco) se Algemene Konferensie in 1991 aanvaar is. Dit was op sy beurt ‘n reaksie op 'n oproep deur Afrika-joernaliste wat in 1991 die grensverskuiwende Windhoek-deklarasie vir ’n vry, onafhanklike en pluralistiese media opgestel het.
Die dag dien as ‘n geleentheid om burgers in te lig oor skendings van persvryheid – ‘n herinnering dat publikasies in talle lande oraloor die wêreld gesensor, beboet, opgeskort en gesluit word, terwyl joernaliste, redakteurs en uitgewers geteister, aangeval, aangehou en selfs vermoor word.
Dit is ‘n datum om inisiatiewe ten gunste van persvryheid aan te moedig en te ontwikkel, en om die stand van persvryheid wêreldwyd te evalueer.
Terwyl die vieringe van Wêreldpersvryheidsdag verlede jaar teruggekeer het na Windhoek, sy geboortestad, het Unesco en Uruguay vandeesweek (2 tot 5 Mei) die jaarlikse Wêreldkonferensie vir Wêreldpersvryheidsdag in ‘n hibriede formaat in Punta Del Este, Uruguay, aangebied.
Onder vanjaar se tema, “Joernalistiek onder digitale beleg”, is die digitale era se impak op vryheid van uitdrukking, die veiligheid van joernaliste, toegang tot inligting en privaatheid bespreek.
Vanjaar se verrigtinge het relevante rolspelers soos beleidmakers, joernaliste, mediaverteenwoordigers, aktiviste, kuberveiligheidsbestuurders en regskenners bymekaargebring om dié kwessies onder loep te neem en konkrete oplossings te ontwikkel om digitale aanvalle op joernaliste en die bedreigings wat verhoogde monitering vir persvryheid en privaatheid inhou, die hoof te bied.
“Ons moet almal meer doen om die risiko’s van die digitale era te bowe te kom en die geleenthede wat dit inhou, aan te gryp. Op hierdie Wêreldpersvryheidsdag nooi ek lidlande, tegnologiemaatskappye, die mediagemeenskap, sowel as die res van die burgerlike samelewing uit om hande te vat om ‘n nuwe digitale omgewing te ontwikkel – een wat beide joernalistiek en joernaliste beskerm,” het Audrey Azoulay, direkteur-generaal van Unesco, gesê.
Unesco se jongste World Trends Report Insights-verslag getiteld “Threats that Silence: Trends in the Safety of Journalists”, beklemtoon hoe monitering en kuberkrakery joernalistiek in die gedrang bring.
Volgens die verslag kan monitering inligting ontbloot wat joernaliste ingesamel het, insluitend van hokaairoepers, en skend die beginsel van bronbeskerming, wat universeel as ‘n voorvereiste vir mediavryheid beskou word en in VN-resolusies verskans is.
Aanlyn monitering kan ook joernaliste se veiligheid in gedrang bring deur vertroulike privaat inligting bekend te maak, wat gebruik kan word vir arbitrêre geregtelike teistering of aanval.
Wêreldwyd is daar groeiende druk wat meer deursigtigheid aanmoedig oor hoe internetmaatskappye burgers se data gebruik; hoe daardie data voorspellende modelle en kunsmatige intelligensie inlig, en waninligting en haat aanblaas. Dit is onderstreep in die Windhoek 30-deklarasie se beroep op tegnologiemaatskappye om “te werk om deursigtigheid met betrekking tot hul menslike en outomatiese stelsels te verseker”.
“Skadelike sagteware, indringerware en -programme word toenemend teen joernaliste en kampvegters vir menseregte gebruik. Die groeiende gesofistikeerdheid en die onopspoorbaarheid van indringerware stel vrye en onafhanklike joernalistiek in gevaar,” lui ‘n mediaverklaring deur die chargé d’affaires van die Amerikaanse ambassade in Namibië, Jess Long.
“Op Wêreldpersvryheidsdag vier ons die vasberadenheid van Namibiese joernaliste en professionele media wat steeds die baken van persvryheid op die Afrika-vasteland is. In 2021 het Namibië weer eens Afrika se vryste pers gehad en het die 24ste posisie uit 180 lande wêreldwyd op die World Press Freedom Index beklee. Dit is 'n prestasie wat die moeite werd is om te vier,” lui die verklaring verder.
WAT Sê DIE KENNERS?
Volgens ‘n artikel deur Rowan Philip wat op 2 Mei op die webwerf Global Investigative Journalism Network (GIJN) gepubliseer is, kom Wêreldpersvryheidsdag vanjaar te midde van groeiende uitdagings vir die media in die vorm van dalende inkomste, wydverspreide waninligting, toenemende wettige teistering en stygende outokrasie.
“Tog, van die Oekraïne tot Serwië tot Mexiko, gaan onafhanklike nuuskamers en vryskutmediapraktisyns voort om dapper die feite op te grawe en daaroor verslag te doen, en slegte akteurs tot verantwoording te roep.”
Philip skryf oor ‘n groeiende alliansie tussen joernaliste en menseregtekampvegters, wat mekaar meer as ooit tevore help. Die bande kan gesien word in die vorm van samewerking tussen mededingende nuuskamers tot verslaggewers in ballingskap wat gesmokkelde videogrepe kry, tot veteraanoorlogverslaggewers in Sirië wat raad aan kollegas in Oekraïne gee.
Dié veerkragtigheid en deursettingsvermoë was een van die fokuspunte van ‘n webinaar ter viering van Wêreldpersvryheidsdag getiteld “Reporting in Dangerous Times”, wat aangebied is deur die Internasionale Sentrum vir Joernaliste (ICFJ) - ‘n GIJN-lidorganisasie – en waar ‘n paneel van veteraanjoernaliste vier van die wêreld se gevaarlikste streke onder loep geneem het.
Die vier paneellede wat aan die webinaar deelgeneem het – wat diep ervaring in Latyns-Amerika, Rusland, Afghanistan en die Horing van Afrika het – was dit eens dat samewerking en niewinsgewende persinisiatiewe ‘n positiewe verskil maak. Nuwe hulpmiddels soos virtuele privaat netwerke (VPN’e) en gratis sensuur-omseiltoepassings (apps), sowel as outydse, lae-tegnologie verspreidingsmetodes is ook nuttig.
Hulle het egter steeds ‘n grimmige prentjie geskets van die magte waarteen die onafhanklike media te staan kom.
“Van die slagvelde van Oekraïne tot die Mexiko-grens tot tronkselle in China, Turkye en Eritrea – en ‘n menigte lande waar regerings alles in hul vermoë doen om onafhanklike nuus te sensor – is die situasie nie goed op die oomblik nie,” het Patrick Butler, die moderator en senior visepresident vir inhoud by ICFJ, gesê.
Sirwan Kajjo, ‘n ekstremisme en persvryheidsverslaggewer by Voice of America (VoA), het gesê uiterste sensuur in Rusland en openlike konflik in Oekraïne – sowel as nuwe regeringsensuur in laasgenoemde – het die mediaklimaat in albei lande opgestoot sedert Rusland se inval.
“Binne Rusland is wette aangeneem wat die paar oorblywende onafhanklike media-instellings verhinder het om objektief oor die oorlog te berig,” het hy gesê.
Kajjo het egter bygevoeg die silwer randjie is dat joernaliste in ballingskap reeds uitstekende werk doen om daardie inligtingsleemte te vul.
Sami Mahdi, stigter van die PAYK Sentrum vir Ondersoekende Joernalistiek in Afghanistan, het gesê noue bande is eweneens behoue tussen verbanne verslaggewers en diegene wat in Afghanistan bly, wat ondersoekende joernalistiek toelaat om te oorleef.
“Die mees onlangse syfers toon dat, sedert die oorname op 15 Augustus 2021, meer as 6 000 joernaliste hul werk in die land verloor het, 40% van die media gesluit het, 85% van vroulike joernaliste hul werk verloor het; en dat meer as 80 verslaggewers opgesluit is en deur die Taliban in die tronk gemartel is,” het Mahdi verduidelik.
“Selfsensuur neem nou toe, want gewapende mans kom met hul wapens na nuuskamers en vra redakteurs om verslae volgens Taliban-beleid te redigeer.”
Hy het ook gewaarsku hoewel die Taliban stadiger as sommige diktatorskappe was om nuuswebwerwe te blokkeer, is daar onheilspellende tekens van ‘n dreigende digitale onderdrukking.
Volgens 2021 se Press Freedom Index is Eritrea in Oos-Afrika een van die onveiligste omgewings vir joernaliste ter wêreld.
Breë regeringsbeheer oor die internet in die Horing van Afrika het gelei tot hoër vlakke van vyandigheid en teistering van joernaliste, insluitend diegene in ballingskap.
“Die internet word in wese deur hierdie regerings besit, en hulle het die meeste beheer oor die vloei van inligting,” het die paneellid Salem Solomon, ‘n Eritrese-gebore redakteur by VoA, opgemerk.
Regerings het hierdie media-almag gekoppel aan ander beperkende wette wat op vryheid van uitdrukking gerig is.
“Daar is 'n teenterreurwet wat gebruik word om joernaliste wat rebellegroepe dek, te vervolg – basies, as jy ‘n rebel ondervra, word jy daarvan beskuldig dat jy ‘n terreurgroep help,” het sy gesê.
Die media in verskeie lande in Latyns-Amerika staar soortgelyke bedreigings in die gesig. Mexiko word nou beskou as die gevaarlikste land om ‘n verslaggewer te wees, met agt joernaliste wat in net die eerste vier maande vanjaar vermoor is, het Aliza Appelbaum, ICFJ se senior programdirekteur vir Latyns-Amerika, gesê
Kajjo het gesê nuwe tegnologieë soos spieëlwebwerwe is effektief vir gehoortoegang in onderdrukkende samelewings, maar Solomon het beklemtoon ouer kanale moet nie vergeet word nie.
“Die belangrikheid van kortgolfradio is nou baie prominent in Afrika, wat ‘n lae internetdekking het,” het sy gesê. “Dit is hoe jy afgeleë plekke bereik.”
PLAASLIKE STEMME
Namibië se veteraanjoernaliste sê die bedryf maak vordering met die oorgang na ‘n digitale stelsel.
Die redakteur van die Namibian Sun, Toivo Ndjebela, het gesê: “Ons beweeg teen 'n goeie pas. In die ou dae het jy ‘n radiotoestel nodig gehad om op ‘n stasie se frekwensie in te skakel. Nou kan jy op Facebook gaan en inskakel terwyl hulle regstreeks beeldsend.”
Hy het bygevoeg daar is natuurlik beperkings aangesien sommige mense uitgesluit is van die voordeel van dié digitale evolusie.
“Dié wat in afgeleë gebiede woon; hulle het geen internetverbinding of netwerkdekking nie. Maatskaplike kwessies soos armoede het diegene wat toegang tot nuus op digitale platforms het, verder benadeel,” het Ndjebela gesê.
Hy het gesê vir joernaliste om die vinnig bewegende tegnologiese vooruitgang in te haal, moet hulle op hoogte van die komende tendense bly.
Die NBC se hoofnuus- en programmeringsbeampte, Menesia Muinjo, het gesê die meeste mediahuise sukkel met infrastruktuur, en het beperkte hulpbronne soos goeie hommeltuie vir beter dekking van regstreekse gebeure.
Sy het bygevoeg vir joernaliste om die digitale platforms doeltreffend te gebruik, moet hulle dit ook doeltreffend en optimaal inspan.
Yanna Smith, nuushoof by Kosmos Radio, het gesê Namibiese mediahuise beweeg nie vinnig genoeg nie. Volgens haar is nuuskamers in die land nog jonk.
“Daar vind geen mentorskap in nuuskamers plaas nie. Ek verstaan die druk is intens op joernaliste om daagliks stories te produseer, maar daar moet ’n verskuiwing in die huidige nuusproduksie wees. Ek is 49 en ek bel steeds die veterane vir leiding.
“Gehore verdien vars, indiepte nuus wat op digitale platforms versprei kan word, nie net op die tradisionele manier nie, wat tans finansiële druk op mediahuise plaas,” het Smith gesê.
Bykomende bron: Global Investigative Journalism Network (gijn.org)
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie