‘Plaaslike boere moet Angolese wette nakom’

Lande takel gemeenskaplike uitdagings
Namibië het sy waardering teenoor die regering van Angola uitgespreek om plaaslike boere toe te laat om hul beeste in dié land te laat wei.
Tanja Bause
Tuyeimo Haidula – Plaaslike boere moet Angola se wette nakom as hulle wil hê dat hulle diere moet voortgaan om in dié buurland te wei.

Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het die opmerking in Helao Nafidi gemaak tydens ’n vergadering wat deur verteenwoordigers van die Angolese en Namibiese regerings en beesboere bygewoon is.

Sy sê die Angolese regering se goedhartigheid beteken nie dat Namibiese boere se bedrywighede, of van enige Namibiese burger, teenstrydig met die wette van Angola moet wees nie, op dieselfde manier wat Angolese burgers aan die wette van Namibië binne sy grondgebied moet voldoen.

Sy het gesê verteenwoordigers van die twee regerings het op 9 Oktober 2023 in Luanda ontmoet, waar hulle ’n gesamentlike verklaring onderteken het.

In die verklaring het hulle ingestem om ’n gesamentlike besoek aan die Ohangwenastreek en Cunene-provinsie in Angola te onderneem en om Namibiese boere wat hul beeste in Angola laat wei, in te lig oor die belangrikheid van vreedsame saambestaan en goeie buurmanskap.

“Ons wil ook ons onderskeie burgers aanmoedig om die regulasies en wette van Angola en Namibië te respekteer. Die feit dat ons so vroeg in die jaar vergader om hierdie taak te implementeer waartoe ons gesamentlik verbind is, is ’n duidelike verklaring van die voorneme van ons twee regerings se verbintenis om gemeenskaplike uitdagings te takel en om die lewensbestaan van ons mense te verbeter,” het Nandi-Ndaitwah gesê.

Sy het Namibië se waardering vir die Angolese regering herhaal omdat hulle Namibiese boere toelaat om hul beeste op Angolese grondgebied te laat wei weens erge droogte en die gebrek aan beskikbare weiding in die noordelike streke van Namibië as gevolg van klimaatsverandering.

“Soos ons weet, respekteer klimaatsverandering nie grense nie. Ons aanvaar egter die welwillendheid van die broederlike mense en regering van Angola nie as vanselfsprekend nie. Hierdie welwillendheid is ook ’n duidelike demonstrasie van die jarelange sterk bande van vriendskap, solidariteit en hoogste opoffering, wat steeds kenmerkend is van die hartlike en uitstekende bilaterale betrekkinge tussen ons twee lande en volke.”

Sy het gesê Namibië onderskryf ten volle die beginsel van respek vir die territoriale integriteit van ander state, die posisie van die Namibiese regering is duidelik deurdat dit nie die gedrag goedkeur van Namibiërs wat nie die wette van Angola nakom nie.

“Angola het die reg om sy wette op enigiemand af te dwing wat dit oortree. Die heersende oorgrenskwessies van wedersydse kommer en belang beklemtoon die behoefte om bilaterale instrumente en ooreenkomste oor grensverwante aangeleenthede tussen die twee lande operasioneel te maak, wat die aktivering van die goewerneur se forum en die gesamentlike tegniese komitee moet insluit,” het sy gesê.

Angola se minister van buitelandse betrekkinge, Téte António, het Namibiërs verseker dat Angola oop is vir almal, maar soos Nandi-Ndaitwah het hy ook beklemtoon hoe belangrik dit is om die wette te respekteer.

Daniel Mbangula het die boere verteenwoordig en gesê die individue wat die reëls en regulasies van Angola oortree, moet gestraf word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer