Poppe begin dans oor Bester se ontsnapping

Kaydene Davids en Phiwokuhle Mothemela
Ondersoeke na die ontsnapping en moontlike uitlewering van die sogenaamde Facebook-verkragter Thabo Bester word tans op die spits gedryf.

Boonop kom al hoe meer inligting oor die dramatiese ontsnappingsplan in onder meer die hof aan die lig.

Brig. Athlenda Mathe, die polisie se nasionale woordvoerder, sê nog mense kan vir hul moontlike betrokkenheid by die ontsnapping in hegtenis geneem word. Sy sê die polisieondersoek het ’n kritieke stadium bereik.

Die vinnigste moontlike wyses word nou oorweeg om dié ontsnapte reeksverkragter en moordenaar en sy vriendin, dr. Nandipha Magudumana, terug in die land te kry.

Die onderhandelinge van ’n hoëvlakafvaardiging van Suid-Afrika in Tanzanië om Bester en Magudumana na Suid-Afrika te bring, verloop egter glo nie so goed soos wat hier voorgegee word nie, het Netwerk24 betroubaar verneem.

Bester en Magudumana wil glo “politieke redes” aanvoer vir waarom hulle in Tanzanië om asiel aansoek wil doen.

Suid-Afrika eis dat die twee uit Tanzanië gedeporteer word, waar hulle die naweek aangekeer is.

“Deportasie sal vinniger wees, veral vir Bester. Die Tanzaniese wet bepaal dat persone wat in ’n ander land skuldig bevind en gevonnis is, gedeporteer kan word as hulle onwettig in Tanzanië gevind word,” sê Mathe.

Magudumana, wat ook onwettig in die land aangekom het, kan ook gedeporteer word, maar Tanzanië sal dit moet goedkeur. Moontlike uitlewering gaan in haar geval langer neem.

ONDERSOEKE

Verskeie hoëvlakondersoeke na Bester se ontsnapping uit die Mangaung-maksimumveiligheidstronk, wat wêreldwyd aandag getrek het, begin Woensdag.

Een daarvan is die parlement se portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste se ondersoek wat sal begin, ongeag of die maatskappy G4S, wat die tronk bestuur, voor die komitee verskyn al dan nie.

Die Police and Prisons Civil Rights Union (Popcru) se president, Zizamele Cebekhulu-Makhaza, gaan ook Woensdag die gevangenis buite Bloemfontein besoek om antwoorde oor die gebeure te eis.

Voorts blyk dit dat ook die Suid-Afrikaanse Raad op Gesondheidsberoepe (HPCSA) ’n ondersoek gaan begin om vas te stel of Magudumana die etiese kode vir dokters oortree het, het Christopher Tsatsawane, woordvoerder, na berig word gesê.

VYF KLAGTE

Zolile Cornelius Sekeleni (65), Magudumana se pa, en Senohe Ishmael Matsoara (38), ’n voormalige werker van G4S, het Dinsdag vlugtig op vyf aanklagte, wat ’n klag van moord insluit, voor landdros Motlholo Khabisi in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

Dit blyk uit die hofverskyning dat ’n hele netwerk van mense moontlik by die ontsnapping betrokke was.

As deel van die ontsnappingsplan wat aan ’n Hollywood-draaiboek herinner, was die paartjie glo op pad na Kenia toe hulle Vrydag laataand in ’n swart Mercedes-Benz AMG E63 in Arusha deur die Tanzaniese polisie afgetrek en in hegtenis geneem is.

Hulle het glo verskeie vervalste paspoorte in hul besit gehad.

Nadat ’n uitgebrande lyk in Mei verlede jaar in Bester se sel in die Mangaung-gevangenis gekry is, is sedertdien vasgestel dit was nie Bester se liggaam, soos aanvanklik geglo is nie.

’n Lykskouing het ook gewys dat die oorledene dood is weens ’n hou met ’n stomp voorwerp teen die kop en reeds dood was voordat hy na die toneel gebring is.

Volgens dieselfde bron is die lyk glo enkele dae voor Bester se ontsnapping op 3 Mei 2022 by die tronk ingebring.

Die lyk is glo in ’n kabinet in die skrynwerkerspakkamer van die tronk gebêre voordat dit na Bester se sel geneem is om daar aan die brand gesteek te word.

Sekeleni (65), van Port Edward, het die lyk na bewering na die tronk vervoer.

Luidens ’n voorlopige klagstaat wat by die hof ingedien is, word hulle van moord, hulp met ’n ontsnapping en regsverydeling aangekla.

Luidens die klagstaat word hulle daarvan aangekla dat hulle ’n onbekende man omstreeks 3 Maart 2022 in of naby Bloemfontein doelbewus vermoor het.

Sekeleni staan ook tereg op ’n aanklag van bedrog, terwyl Motsoara ook van brandstigting aangekla word.

Hul verhoor is tot Maandag vir borgtoginligting en ’n moontlike aansoek om borgtog uitgestel.

Khabisi het gelas dat Motsoara in die tronk in Brandfort aangehou word, terwyl Sekeleni tot hul volgende verskyning in die Bainsvlei-polisieselle by die stad aangehou word.

Talle mense, onder wie familielede van Sekeleni en verskeie mediaverteenwoordigers, het vroegdag by die hof saamgedrom.

Sekeleni, wat probeer het om sy kop te bedek toe hy uit die selle na die hofsaal gebring is, het later die bedekking gelos en met ’n familielid en sy prokureur gepraat.

Bester is in 2012 lewenslange tronkstraf vir moord en verkragting opgelê.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!