Die Suid-Afrikaanse president Cyril Ramaphosa sê sy land se mense is moeg vir korrupsie. Foto PresidencyZA
Die Suid-Afrikaanse president Cyril Ramaphosa sê sy land se mense is moeg vir korrupsie. Foto PresidencyZA

SA kap terug teen staatskaping

Miljarde reeds teruggewin
Augetto Graig
Suid-Afrika se president, Cyril Ramaphosa, het Sondag Suid-Afrikaners toegespreek oor die regering se reaksie op die inhoud van die volledige Zondo-kommissie van ondersoek se verslag oor staatskaping.

Regter Raymond Zondo het die kommissie gelei wat die verhore gehou en die aanbevelings gemaak het. Die verslag is by www.stateofthenation.gov.za/state-capture-commission-recommendations beskikbaar, en Ramaphosa se reaksie daarop by www.stateofthenation.gov.za/assets/downloads/State Capture Commission Response.pdf.

Ramaphosa se toespraak was propvol voorbeelde van hoe sy regering staatskaping tot ’n val probeer bring het.

“Die korrupsie wat gepleeg is, is ’n misdaad teen Suid-Afrikaners,” het Ramaphosa gesê.

“Korrupsie is verraad van ons demokrasie en ’n aanslag op die instellings wat ons saam tot stand gebring het om die waardes van ons Grondwet en die belange van ons mense, te bevorder,” het hy bygevoeg.

Sedert 2018 het die Suid-Afrikaanse regering nuwe leierskap by die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad aangestel, wat tot 4 500 skuldigbevindings gelei het.

Verder is die nasionale vervolgingsgesag versterk en ʼn direktoraat vir ondersoek is daarin gevestig. Dié ondersoekdirektoraat het reeds 26 hofsake geopen, 89 ondersoeke begin, en 165 beskuldigdes voor die hof gebring.

Ramaphosa sê die spesiale tribunaal is binne die polisie se spesiale ondersoekeenheid gevestig, wat reeds N$8,6 miljard vir die regering kon terugkry.

Fondse van N$12,8 miljard is reeds bevries en N$2,9 miljard is teruggekry. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) kon ook N$4,8 miljard se uitstaande belasting invorder.

Die regering oorweeg bykomende siviele eise teen maatskappye wat by staatskaping impliseer word, het die president gesê.

Benewens die individue en instansies wat die kommissie geïdentifiseer het, kon Suid-Afrika se Finansiële Inligtingsentrum nog 595 individue en 1 044 besighede identifiseer wat moontlik by die vloei van geld wat met staatskaping bekom is, betrek kan word.

Volgens Ramaphosa werk sy regering daaraan om die bewysstukke wat oor 400 dae deur meer as 300 getuies voor die Zondo-kommissie van ondersoek voorgelê is, in bruikbare materiaal vir verdere vervolging te omskep.

Die kommissie het meer as 350 aanbevelings gemaak. Ramaphosa sê 202 van dié aanbevelings is vir strafregtelike en ander ondersoeke; 27 vir die verhaling van bates; 15 verwysings na ander staatsliggame vir dissiplinêre oortredings, belastingoortredings, misdadigheid van direkteure en ander wangedrag; 11 verwysings na professionele en regulerende liggame vir verdere ondersoek na individue weens beweerde oortreding van professionele kodes; vyf vir veranderinge aan die Grondwet; 26 vir voorgestelde wetswysigings; en 64 aanbevelings wat operasionele of regulatoriese verandering vereis.

“Misbruik van die verkrygingstelsel was een van die kernmaniere waarop belastingbetalers se fondse onwettig na private belange herlei is, in plaas daarvan om waarde aan die publiek te verskaf.

“Die wetsontwerp op openbare verkryging, wat na verwagting teen Maart 2023 afgehandel en aan die parlement voorgelê sal word, sal baie van die kommissie se aanbevelings takel,” sê Ramaphosa.

“Soos deur die kommissie aanbeveel is, sal leefstyloudits vir die president, adjunkpresident, ministers en adjunkministers deur ’n eksterne diensverskaffer gedoen word.

“Die kommissie het bevind dat die aanstelling en verwydering van raadslede en senior bestuurders in staatsondernemings een van die sleuteloorsake van staatskaping was,” voeg hy by.

“Die mense van Suid-Afrika is moeg vir korrupsie en wil hê dit moet eindig,” het Ramaphosa gesê en, “Daar sal geen plek wees vir korrupte mense, misdadige netwerke en staatskapers om weg te kruip nie.”

“As ’n land kom ons uit ’n donker en moeilike tydperk.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!