Studente probeer Oekraïne verlaat

Treine, busse oorvol
Sowat 92 studente, beide privaat en diegene wat finansiële bystand ontvang, het weens die Russiese inval van die Oekraïne na Pole en Roemenië gereis.
Yolanda Nel
Namibiese studente wat tans in die Oekraïne studeer, het die naweek probeer om uit die land te vlug.

Terwyl sommige studente in bomskuilings weggekruip het toe Rusland die Oekraïne Donderdag binnegeval het, probeer hulle nou die land verlaat met enige dokumentasie of paspoorte. ‘n Student wat tans in die Oekraïne is, het gesê dat sy nie toegang tot enige geld het nie. Sy wil anoniem bly en sê alle kitsbanke is geblokkeer.

“Ons het geen toegang tot enige geld nie. Die enigste ding wat nog werk, is die hospitale,” het sy bygevoeg.

Volgens die student sal die huur van verblyf in Pole haar ongeveer US$25 per dag kos, en is dit sluit nie die koste vir die vervoer om daar te kom of kos in nie. Sy is dankbaar dat die Namibiese regering hulle help om die land te verlaat, maar die studente voel hulle is aan hulself oorgelaat om akkommodasie en kos in ‘n vreemde land te kry.

Tydens die onderhoud met die student het sirenes afgegaan, wat aandui dat bomme steeds oor burgerlike gebiede neerreën.

Nog ‘n groot uitdaging vir studente is dat treinstasies en busterminale voorkeur aan Oekraïense vroue en kinders gee. Die treine is vol en die Namibiese studente moet wag in die hoop dat daar plek sal wees op later treine.

In ’n kennisgewing wat op sosiale media gesirkuleer het, is aangedui dat die Namibiese regering na die regering van Pole uitgereik het om ’n vrypas aan die Namibiese burgers te gee. Die regering van Pole het 15 dae se verblyf aan die Namibiese studente toegestaan.

“Om ons burgers by hul aankoms in Pole by te staan, is Namibië se verdedigings- en immigrasie-attaches van ons ambassade in Duitsland na Pole gestuur. Ons erekonsul in Warskou sal ook help,” lui die kennisgewing.

AFP het gister berig minstens 200 000 mense het reeds alleen na Pole uitgewyk en vrese bestaan dat die syfer tot 4 miljoen kan toeneem afhangende van hoe lank die oorlog duur. Westerse lande het Saterdag bykomende sanksies ingestel en sommige Russiese banke van die elektroniese bankstelsel bekend as SWIFT verban. Geen deurbraak is nog teen saktyd in voorstelle vir onderhandelinge gemaak nie.

‘n Ander student het op ‘n WhatsApp-groep vir Namibiese studente in die Oekraïne gesê hulle sal iets te ete by hul aankoms in Pole ontvang. “Daar is ook gratis vervoer en verblyf as jy jou Posvidka kan wys,” het hy gesê. Posvidka is ‘n dokument wat die tydelike verblyf in die Oekraïne sertifiseer. Gratis SIM-kaarte is ook by die treinstasie beskikbaar.

Agt en dertig van die 92 Namibiese studente word deur die studentefonds, die NSFAF, ondersteun.

Die Popular Democratic Movement het Saterdag ‘n verklaring uitgereik waarin gesê word dat die PDM Youth League deur sy tak in die Verenigde Koninkryk studente sal bystaan wat vlugte terug na Namibië via Pole vanaf die Oekraïne wil haal.

“Hierdie ingryping word genoodsaak deur die ernstige toestande waarin hierdie studente hulle tans bevind ná die Namibiese regering se versuim om stiptelik in te gryp om hulle te repatrieer,” lui die verklaring.

Weens die enorme geldelike koste verbonde aan hierdie bystand, doen die PDM Jeugliga ook ‘n beroep op skenkings deur die publiek. Hul hulplyn is 081 635 7415.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!