We are independent
We are independent

'Suid-Afrika mag self besluit'

Onder skoot vir bande met Rusland
Namibië sal beslis deur sanksies teen Suid-Afrika geraak word weens die lande se noue ekonomiese bande.
Jemima Beukes
Jemima Beukes - Namibië het Suid-Afrika se soewereine reg verdedig om onafhanklike besluite rakende sy buitelandse beleid te neem. Dit volg te midde van kritici wat vra vir ’n beleid van onverbondheid, met Rusland - die buurland se jarelange bondgenoot - wat sentraal in die geopolitieke oorlog staan.

Namibië se voormalige ambassadeur in Kuba, Jerobeam Shaanika, het die verwagting bevraagteken dat Afrikalande op ’n sekere manier moet optree. Dit terwyl ander lande in die verlede meer aggressief opgetree het wat, soos in die geval van Irak, tot destabilisasie en chaos gelei het.

“Suid-Afrika is ’n soewereine nasie en kan sy eie besluite neem op grond van hoe hy voel. Baie mense het die land gekritiseer - dat hy ’n beleid van onverbondheid moet volg en nie moet kant kies nie. Wel, elke land het die reg en vryheid om onafhanklik op te tree. Vir wie gee jy aanstoot en wie neem nie aanstoot nie? Waarom moet daar van Afrikalande verwag word om op ’n sekere manier op te tree terwyl sekere lande Irak met geweld binnegeval het met die bewering dat daardie land in besit van wapens van massavernietiging is? Hulle het chaos gaan veroorsaak en die land is selfs nou nog onstabiel. Jy wil nou vir my sê daar is sekere lande wat die reg moet hê om te doen wat hulle wil en ander nie,” het Shaanika gesê.

Die nuusplatform The Africa Report het verlede maand gesê Amerika dreig Suid-Afrika met die verlies van sy winsgewende belastingvrye toegang tot die wêreld se grootste verbruikersmark as ’n manier van vergelding vir die land se noue bande met Rusland.

Shaanika, nou die adjunk-uitvoerende direkteur vir multilaterale aangeleenthede in die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking, sê sou sanksies teen die buurland ingestel word, sal Namibië beslis weens die lande se noue ekonomiese bande geraak word. Namibië se geldeenheid is ook met die Suid-Afrikaanse rand verbind.

Hy het beklemtoon om onafhanklik op te tree behoort nie as ’n misdaad bestempel te word nie, veral aangesien Suid-Afrika ’n lid van die Brics-groepering (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) is. Volgens hom moet lidlande vry wees om hul eie keuses te maak, insluitend om die dollar as ’n geldeenheid vir handel te gebruik.

“Dit gaan ons raak as hulle sanksies instel, omdat ons verbind is in terme van ons handel.”

Namibië veroordeel reeds vir ’n geruime tyd Israel se voortgesette besetting van Palestina en diskriminasie teenoor Palestyne en het gevra vir vryheid van Wes-Sahara, wat onder Marokkaanse besetting is.

“Ons het herhaaldelik gesê ons glo in selfbeskikking en ons staan by mense wat nie hierdie onvervreembare reg kan uitoefen nie. Ons staan ook by Kuba – ’n sanksie is teen hulle ingestel omdat ’n sekere land hul stelsel wil verander. Ons dink nie dit is reg nie en ons sal opstaan en ons daarteen uitspreek.”

Hoewel die mantra van “vyand van niemand en vriend van almal” vir lank reeds deel van Namibië is, sê Shaanika die land sal ’n besliste standpunt moet inneem, veral oor kwessies waarin die land sterk glo - waaronder selfbeskikkingsreg vir Wes-Sahara en Palestina.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!