Turke 'verpletter, gebreek'

Mense op straat voel hulpeloos
Reddingswerkers probeer in uiterste sneeutoestande desperaat en in 'n wedren teen tyd om oorlewendes uit die puin van ineengestorte geboue te red.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Turke is verpletter en hul gees gebreek. So het Bianca Özcan, stigter van Multiple Sclerosis Namibia, die situasie in die land beskryf waar sy tans op besoek is en wat saam met Sirië Maandag deur ’n aardbewing van 7,8 op die Richterskaal getref is. Nog ’n skudding van 7,5 het ure later gevolg. ’n Derde aardbewing – dié keer met ’n sterkte van 5,6 – het die sentrale deel van Turkye Dinsdag getref.

Hele woonstelgeboue het ineengestort, hospitale is verwoes en duisende is dakloos gelaat. Teen druktyd het die dodetal al hoe nader aan 12 000 geskuif. Reddingswerkers probeer in uiterste sneeutoestande desperaat en in ’n wedren teen tyd om oorlewendes uit die puin van ineengestorte geboue te red.

Bianca het op 27 Januarie in Istanboel aangekom vir ’n besoek van 20 dae aan onder meer haar skoonfamilie.

“Die mense, die kos, die atmosfeer was presies soos ek verwag het dit sou wees. Ek het uitgesien na die wegbreek veral ná die dood van my seun, Armağan. Dit was ’n moet om Turkye toe te gaan en redelik vinnig ook,” vertel sy uit Gümüldür.

Bianca se gids is ’n vriend en motorfietsryer wat al byna die hele wêreld op sy motorfiets platgery het. Weens die huidige “nat, koue en glibberige weerstoestande” toer hulle egter met ’n motor.

Tot dusver het hulle sowat 1 000 kilometer per motor vanaf Istanboel tot by Aydin, Çine en die nedersetting Mutaflar gereis waar haar oorlede man se familie woon.

“Turkye is so groot en al die paaie is uiters doeltreffend met mekaar verbind. Ons is deur soveel dorpe en het in Izmir, ’n baie gewilde stad deel van die bekende Egeïese streek aan die kuslyn gebly.”

Soos die vele woonstelgeboue verby haar motorruit geflits het, het Bianca gedink watter geweldige ramp dit sou wees sou ’n aardbewing dié gebied moet tref.

“Ek het met niemand hieroor gepraat nie, maar die gedagte het my nooit gelos nie. Sondag was die wind geweldig sterk en ek was regtig bang. Ek het geen skuddings gevoel nie, maar om net na die wind te kyk, het my bang gemaak. Dit was ook onmoontlik om uit die huis te gaan.”

Bianca sê sy het paniekerig begin voel omdat sy weet Turkye is geneig tot aardbewings.

“Toe ons Maandagoggend opstaan, was die nuus van die aardbewing oral. My vriend wou uit Izmir kom en ons het inderhaas gepak en is nou in ’n klein dorpie Gümüldür, ’n vakansiedorp langs die kus.”

Hoewel die Egeïese streek waar sy tans is, nie deur die aardbewing geraak is nie, is die vrees vir een steeds daar, sê Bianca.

Mense is nie so vol vreugde soos wat sy hulle leer ken het nie, vertel sy.

“Die hotel waar ek bly, het gewoonlik karaoke- en poësie-aande, maar dit is alles gekanselleer. Selfs die musiek is sagter.

Dié wat nie fisiek deur die aardbewings geraak is nie, voel hulpeloos omdat hulle nie veel kan doen nie, sê Bianca.

“Van my vriende het egter hul huise aangebied om te help met verblyf.”

Hoewel die son die afgelope twee dae skyn waar sy haar tans bevind, erken Bianca sy is bang vir haar vlug terug na Namibië, veral as die weerstoestande nie verander nie.

“Ek het ’n binnelandse vlug van Izmir na Istanboel vir my internasionale vlug terug huis toe. Hopelik speel die weer saam en sal geen veranderings aan die vlugte nodig wees nie.”

Pres. Tayyip Erdogan van Turkye het ’n noodtoestand in tien provinsies afgekondig. Inwoners in verskeie beskadigde Turkse stede het egter woede en wanhoop uitgespreek omdat hulle meen die owerhede se reaksie op die ramp is te stadig en ontoereikend.

Weens paaie wat vernietig is, die moeilike weersomstandighede en ’n gebrek aan hulpbronne en swaar toerusting sukkel reddingswerkers om sommige van die gebiede wat die ergste getref is, te bereik.

Turkse owerhede sê sowat 13,5 miljoen mense is geraak in ’n gebied wat oor sowat 450 km vanaf Adana in die weste tot Diyarbakir in die ooste en 300 km vanaf Malatya in die noorde tot Hatay in die suide strek.

Siriese owerhede het sterftes van so ver suid as Hama, sowat 250 km van die episentrum, aangemeld.

Meer as 70 lande het reddingspanne en ander hulp aangebied.

– Bykomende bronne: Netwerk24/Reuters/AP

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!