Vier jagluiperds reeds vrek in Indië
Ellanie Smit
Die plaaslike ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het kommer uitgespreek oor die vrektes onder jagluiperds in Indië nadat drie welpies waaraan ’n Namibiese jagluiperd geboorte gegee het, verlede week tydens ’n hittegolf dood is.
Dit is nog ’n terugslag vir die program om die spesie weer aan Indië bekend te stel nadat hulle 70 jaar gelede daar uitgesterf het.
Die nuutste sterftes het die totale aantal jagluiperds wat gevrek het sedert hulle verlede September na Indië geneem is, op ses te staan gebring.
DRIE VREK
Die welpies was deel van ’n werpsel van vier wat einde Maart gebore is aan ’n jagluiperd genaamd Siyaya – een van agt gerehabiliteerde jagluiperds wat verlede jaar vanaf Namibië na Indië se Kuno Nasionale Park, in die sentrale deelstaat Madhya Pradesh, hervestig is.
Luidens ’n verklaring uitgereik deur Jasbir Singh Chauhan, hoofbewaarder van die departement van woude en wildbewaring in die staat, is die eerste welpie verlede week Dinsdagoggend dood.
Nog twee welpies het oor die volgende twee dae van die hitte gevrek, na bewering vanweë dehidrasie en swakheid.
Die vierde welpie is na ’n plaaslike hospitaal vir waarneming geneem, het Chauhan gesê.
“Sy toestand was ook nie baie goed nie, maar ná behandeling lyk die welpie heelwat beter, al is hy ondergewig en ’n bietjie swak. Beide die ma en haar oorblywende welpie bly steeds onder mediese waarneming,” het hy gesê.
Die vrektes het na bewering gebeur tydens wat as van die warmste dae van die seisoen aangemeld is, met temperature wat tot 46 en 47 grade Celsius gestyg het.
Chauhan het gesê die nadoodse ondersoeke word volgens die standaardprotokol uitgevoer om die amptelike oorsaak van dood te bepaal, wat nog nie bekend gemaak is nie.
ONDERSOEK
Hy sê Siyaya, wat in Indië tot Jwala herdoop is, is ’n jagluiperd wat met die hand grootgemaak is en vir die eerste keer ’n ma geword het.
Volgens hom was die jagluiperdwelpies sowat agt weke oud. In hierdie lewenstadium is hulle gewoonlik nuuskierig en stap oral saam met die ma.
Hy sê volgens jagluiperdkenners is die oorlewingsyfer van jagluiperdwelpies in Afrika in die algemeen baie laag.
Drie volwasse jagluiperds is ook dood sedert die begin van die program. Twaalf jagluiperds van Suid-Afrika is ook na Indië verskuif.
Een Suid-Afrikaanse jagluiperd is vrek tydens ’n poging tot hofmakery en paring; ’n Namibiese jagluiperd is vrek aan ’n nierkwaal; en nog ’n Suid-Afrikaanse jagluiperd weens hartversaking.
BEKOMMMERD
Die woordvoerder van Namibië se omgewingsministerie, Romeo Muyunda, sê hulle is bewus van die kommer wat uitgespreek is oor die jagluiperds in Indië.
“Die Indiese regering het ons nie formeel oor die vrektes ingelig nie. Soos jy dalk weet, was die bedoeling van die inisiatief om jagluiperds vir Indië te gee ’n goeie gebaar om die jagluiperdbevolking in Indië te hervestig. Ons het egter kennis geneem van die vrektes, en dit is kommerwekkend.”
Hy sê die Indiese regering doen sy bes om die jagluiperds veilig te hou en hulle is vol vertroue dat hulle ’n geskikte oplossing vir die probleem sal vind.
Jagluiperds het in 1952 in Indië uitgesterf en is die enigste groot karnivoor in dié land wat daardie lot gely het.
Verskeie wild- en bewaringskundiges het die Modi-regering van ’n haastige “publisiteitsfoefie” beskuldig en beweer Kuno Nasionale Park is ’n ongeskikte habitat vir soveel jagluiperds, wat gewoonlik groot gebiede van duisende vierkante kilometer benodig om rond te loop. In Kuno is die terrein wat vir die groep hervestigde diere beskikbaar is, minder as 344,6 vierkante kilometer.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie