Elma Dienda, parlementslid van die PDM, het jongmense as lui beskryf. FOTO Jemima Beukes
Elma Dienda, parlementslid van die PDM, het jongmense as lui beskryf. FOTO Jemima Beukes

Dienda: Jeug is ‘lui, rigtingloos’

Deelname aan politiek aangemoedig
Deur bloot stoele vol te sit sonder om enige betekenisvolle bydraes te lewer, is volgens die PDM-parlementslid onaanvaarbaar.
Jemima Beukes
Die uitgaande parlementslid vir die

Popular Democratic Movement (PDM), Elma Dienda, het ’n striemende aanval op die Namibiese jeug geloods en jongmense in die land as “lui” en “rigtingloos” beskryf.

Haar opmerkings tydens ’n paneelbespreking ter ere van Natalie Russman, die uitgaande inwonende verteenwoordiger van die Konrad Adenhauer Stiftung (KAS), het ’n hewige debat oor die deelname van die jeug aan politiek ontketen.

Dienda het jongmense se aandrang gekritiseer dat ouer politici moet uittree, net om in die parlement te beland en weinig tot nasionale ontwikkeling by te dra. Sy het hulle daarvan beskuldig dat hulle passiewe waarnemers in politieke prosesse eerder as aktiewe deelnemers is.

Dienda het ook ’n oproep gedoen dat hulle moet ophou om “professionele geraasmakers” te wees en hulself eerder doeltreffend moet mobiliseer. Deur bloot stoele vol te sit sonder om betekenisvolle bydraes te lewer, is volgens haar onaanvaarbaar.

“Julle slaap terwyl ons, die ouer geslag, werk om terug te keer na die parlement. Julle slaap. Ek wil vir julle sê ‘gebruik julle mag’.

“Doen jou werk deur die jeug te mobiliseer, sodat ons in groot getalle uitgaan. En asseblief, wanneer jy in die parlement is, moenie net elke dag die stoele warm sit nie,” het Dienda gesê.

“Julle neem net plek op. Ons wil nie jongmense in die parlement hê wat niks bydra nie, wat nie dink nie en wat hul tyd op Twitter,

WhatsApp en Facebook deurbring. Neem eienaarskap van hierdie land,” het sy gemaan.

Dienda het beklemtoon dat, as jongmense wil verander, hulle aktief by politieke partye betrokke moet raak eerder as om bloot op sosiale media te kla.

Sy het voorts gesê leierskap vereis meer as net ’n aanlyn teenwoordigheid en dat betekenisvolle politieke gesprekke nodig is om vooruitgang te dryf.

Dienda het die belangrikheid van die behoefte aan samewerking tussen generasies beklemtoon en gewaarsku teen vervreemding tussen jonk en oud. Sy het haar frustrasie uitgespreek oor jongmense wat hul politieke verbintenisse op grond van familiebande romantiseer en die idee verwerp dat mense “in politieke partye gebore word”.

“Moenie kom sê ‘my ma, my pa was DTA, nou PDM’ of ‘ek is in Swapo gebore’ nie. Hoe kan jy in Swapo gebore word? Niemand word in ’n politieke party gebore nie. Almal is in ’n hospitaal gebore.

“Ek is so gefrustreerd wanneer mense beweer hulle is in ’n party gebore. Watter party het ’n kraamsaal? En sommige van julle, jonger as 50, sê ‘ek het vir die vryheid van hierdie land gesterf’, maar julle lewe nog.

“Julle sit nog hier, wanneer is julle dood? Julle is soos na-apers, leef in die verlede wanneer julle in die toekoms behoort te wees,” het Dienda gemaan.



ONBETROKKE JEUG

Intussen het die politieke wetenskaplike

Rui Tyitende ook ’n stuiwer in die armbeurs gegooi en gevra waarom deelname onder jongmense aan politiek laag bly ten spyte van Namibië se demokratiese vryhede.

“In hierdie kamer nou, het ons ’n klomp jeugdige volwassenes, maar nie jongmense nie. Die vraag is ‘hoekom’? Hoekom wanneer hulle die mense is wat werkloosheid in die gesig staar?” het hy gevra.

Volgens Tyitende stoot ouer politici dikwels die jeug na die rand van politiek en die ekonomie en trek voordeel uit hul onbetrokkenheid. Hy het verwys na besprekings met politici wat argumenteer teen beleidsrigtings wat op jongmense gerig is en wat beweer hulle sal ’n “kultuur van afhanklikheid” skep.

“’n Jong mens kan byvoorbeeld vra waarom daar geen beleidsrigtings of programme is wat voorspraak vir die jeug maak nie? Of waarom daar nie ’n toelaag vir werklose jongmense is totdat hulle ’n sekere mylpaal bereik het nie? Politici reageer hierop deur te sê dat so ’n toelaag afhanklikheid sal skep.

“Maar ons het ’n toelaag vir pensioenarisse, vir veterane van die vryheidstryd, vir wees- en kwesbare kinders en vir mense wat met gestremdhede saamleef. Waar is die afhanklikheid hier? Dit is almal edele ingrypings,” het hy gesê.

Tyitende het ook daarop gewys dat jong mense self versuim om aktief aan verkiesings deel te neem, wat politici waargeneem en gebruik het om hul uitsluiting te regverdig.

“Wie staan in die ry vanaf 07:00 tot die stembus sluit? Geen jong mens sal dit doen nie want hulle redeneer ‘ek mors my tyd. DJ Maphorisa tree 15:00 op, ek moet gaan’.”

Met die jong kiesers se gebrek aan belangstelling en ’n gebrek aan politieke gesprek bly die vraag: Sal jong Namibiërs op Dienda se uitdaging reageer en na vore tree om die toekoms te vorm wat hulle beweer hulle besit?

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer