'Kuns is 'n universele taal'

Yandi Du Plessis
Die Ombetja Yehinga-organisasie (OYO) het vanjaar die Hear Me-projek saam met die Nasionale Instituut vir Spesiale Onderwys (Nise) se skool vir gehoorgestremde kinders van stapel gestuur.

OYO is ’n Namibiese nieregeringsorganisasie wat hom daarop toespits om maatskaplike bewustheid te skep deur die kunste as medium te gebruik.

“Ons gebruik die kunste omdat dit jou emosies teiken, eerder as jou intellek,” sê dr. Phillipe Talavera, OYO se direkteur.

“Wanneer jy ’n opvoering of ’n fliek kyk, kan jy ontroer word. Jy kan lag, jy kan huil. Jy voel vir die karakters. Ons glo sterk as jy voel, is jy meer geneig om die boodskap te onthou. Ongelukkig is kunsonderrig nie altyd ’n prioriteit in Namibiese skole nie, en soms selfs minder van ’n prioriteit vir kinders wat met gestremdhede leef.”

Die idee agter Hear Me is dus om voorspraak te maak vir meer kunsopvoeding in skole en beter toegang tot kunsprojekte vir kinders wat met gestremdhede leef, veral dowe kinders. Saam met 15 dowe kinders van die Nise-skool het OYO ’n strokiesprent, ’n plakkaat, ’n T-hemp en ’n nuwe kort dansstuk vir die leerlinge ontwikkel.

“Die strokiesprent gaan oor ’n dowe heldin, genaamd Peace Girl,” sê Talavera.

“Die kinders het besluit op die heldin, haar naam, die simbool wat haar verteenwoordig, die kleure wat sy moet dra en haar superkragte. Die strokiesprentkunstenaar het toe sketse voorberei en die kinders het die skets gekies waarvan hulle die meeste gehou het.”

Die strokiesboek, plakkaat en T-hemde is op 1 Junie by die Nise-skool amptelik bekend gestel deur Edda Bohn, die adjunk- uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur, wat gesê het: “Die basiese idee agter die projek is om ’n held vir dowe kinders te gee, iemand na wie hulle sowel as enigiemand van ons kan opkyk. Strokiesprente in Namibië fokus amper nooit op kinders met gestremdhede nie en tog is verteenwoordiging belangrik. Dit bevorder ook geletterdheid in Namibië. Mense sukkel steeds om leerders te kry om te lees. Strokiesprente is egter ’n goeie medium om geletterdheid te bevorder.”

Die projek word gefinansier deur ontwikkelingshulp van Bulgarye, wat bestuur word vanaf die Bulgaarse ambassade in Suid-Afrika.

In ’n verklaring wat die ambassade vir die bekendstellingsgeleentheid uitgereik het, sê ambassadeur Maria Pavlova Tzotzorkova: “Ek het nog altyd geglo alle kinders, insluitend diegene met gehoorgestremdhede, kan hulself vry en gelyk deur die kunste uitdruk. Kuns is ’n universele taal en ek moet sê dit kan alle mense bymekaar bring.”

Die strokiesprent is tans net agt bladsye lank, maar die plan is om dit later verder uit te brei.

“Ons het altesaam ses kortverhale met die kinders ontwikkel,” het Talavera gesê.

“Dit kan ’n Namibiese boek van 28 bladsye, selfs langer, word. Ons hoop dus die projek sal van krag tot krag groei.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!