‘Kyk wat doen kinders op selfone, tablette’
Skool se omsendbrief versprei soos veldbrand
In 'n omsendbrief spreek 'n skool op Grootfontein hul kommer uit aangesien kinders wat sekere aanlyn speletjies speel, vreemd en buite hul karakter optree.
“Ons enigste bedoeling met die omsendbrief was om ouers te waarsku om bewus te wees van wat hul kinders op die internet aanvang. Kyk wat doen hulle op hul selfone en tablette.”
Só gesels mnr. André Botma, skoolhoof by die Grootfontein Senior Sekondêre Skool (GSSS), wat ʼn brief uitgestuur het om ouers te waarsku teen gevaarlike speletjies vir kinders, soos Chucky’s Cheese Restaurant, Five Nights at Freddy en Huggy Wuggy.
Volgens die omsendbrief is die skool bekommerd omdat kinders wat die speletjies speel, vreemd en buite hul karakter optree. In die speletjies word dikwels van ʼn pop gebruik gemaak wat kinders glo uitdaag om dinge te doen soos om ʼn vriend te wurg, ʼn onderwyser dood te maak of hul huise af te brand.
Die skoolhoof waarsku dat dit nie onskuldige speletjies is nie.
“Die bottom line is, ouers moet wakker skrik,” het Botma aan Republikein gesê.
Die brief is intussen wyd op sosialemediaplatforms versprei en het groot reaksie uitgelok. Navrae is tot van bekommerde ouers uit Suid-Afrika ontvang, vertel hy.
“Ouers van oraloor kontak ons en wil meer inligting hê en weet waaroor dit gaan,” vertel hy.
“Ons het nou iets bereik wat glad nie ons bedoeling was nie. Ons wou net óns skool se ouers waarsku. Dit het egter nou verder gegaan,” sê hy.
Hy sê die skool se raad is egter van mening dat dit goed is as meer ouers hiervan kennis neem.
KINDERS PRAAT
Die skool het al hoe meer klagtes van ouers ontvang dat hul kinders hul swak gedra, hul ma’s en ouma’s slaan, met klippe gooi of sê hulle gaan hul doodmaak, of bloot net lelik is met hul ouers. Dit het so ver gegaan dat hulle sommige kinders vir dwelms getoets het, vertel die skool se berader, me. Anita van der Merwe.
Sy het lang gesprekke met verskeie klasse en kinders gevoer en leerlinge het vertel dat kinders die speletjies speel, terwyl daar ook soortgelyke rolprente is wat kinders op dieselfde wyse kan beïnvloed.
“Hulle het gesê veral laerskoolkinders speel die speletjies,” vertel sy.
Tydens ‘n internetsoektog het sy ook op gruwelflieks soos “Nerve, we dare you” en “Death, there is an app for that,” afgekom, wat ouderdomsbeperkings het en jonger kinders erg kan traumatiseer.
Sy is van mening dat ouers moet oplet na wat hul kinders op hul selfone doen en nie sommer net meer geld vir data gee nie.
“Party kinders sê vir die ouers hulle moet steeds skoolwerk aanlyn doen en vra dan vir geld vir selfoondata. Alhoewel dit iets is wat ons gedoen het tydens die Covid-inperkings, doen ons dit nie meer nie,” sê sy.
ONDERSOEK
Die brief kom bykans twee jaar nadat die privaat skool Windhoek Gimnasium ‘n soortgelyke brief aan ouers uitgestuur het – toe om ouers te waarsku teen Chucky's Cheese Restaurant – a child's play/Chuck E. Cheese.
Verskeie internasionale media dra ook soortgelyke nuusberigte waar skole en selfs die polisie ouers teen dié tipe speletjies waarsku.
In ander berigte word gewaarsku dat jonger kinders moontlik nie tussen fantasieë en die werklikheid kan onderskei nie en die sielkundige impak kan langdurige nagevolge hê as kinders toegelaat word om skadelike inhoud met ʼn ouderdomsbeperking te kyk.
Dit blyk ook dat ouderdomsbeperkings alleen nie gemoedsrus aan ouers behoort te gee nie. Die skeppers van die Huggy Wuggy-speletjie het die ouderdomsbeperking aanvanklik so laag as 8 jaar gemaak, voor dit later na 12 en 13 jaar verander is.
Die internet is vol boodskappe van bekommerde ouers wie se kinders getraumatiseerd is nadat hulle met hierdie tipe bangmaakspeletjies, video’s en flieks in aanraking gekom het, of video’s op YouTube of in die sosiale media gesien het.
Op fun107.com skryf ‘n ouer in ‘n artikel getiteld “What SouthCoast Parents Should Know About ‘Huggy Wuggy’ Games” dat dit klaarblyklik ook kinders hier inspireer om hul maats op die skool se speelgronde so ‘n drukkie te gee – maar so hard dat dit seermaak – terwyl hulle in hul oor fluister hoe hulle hul gaan doodmaak.
Ouers kla dat die karakter Huggy Wuggy kinders aanmoedig om “ouers en hul babas” dood te maak en dat sommige kinders doodbang is vir die moordenaar-teddiebeer met sy vlymskerp tande.
Talle van hierdie video’s en speletjies het ouderdomsbeperkings, maar verskeie nabootsers het intussen aangepaste inhoud daarvan op byvoorbeeld YouTube geplaas, wat baie meer gru-elemente as die oorspronklike materiaal bevat.
Weergawes van die speletjie kan ook maklik op slimfone of tablette afgelaai word en die speletjies is oor die algemeen maklik toeganklik. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie