167982296_1551724581693506_3372118898829535243_n
167982296_1551724581693506_3372118898829535243_n

WAP se wortels loop diep

Leerlinge wil ’n verskil maak
Leerlinge wil 'n verskil maak
Iréne-Mari van der Walt
Ná 27 jaar se groei, hoop Windhoek Afrikaanse Privaatskool om hul onderrig relevant te hou deur tegnologie in die klaskamer te integreer.

Oor die afgelope 27 jaar het Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) se familie gegroei vanaf 71 leerlinge in 1995 na 1 045 in 2022.

Die skool is amptelik op 4 Maart 1995 geopen en mnr. Johan Esbach is ’n jaar later as skoolhoof aanstel.

Ongeveer twee jaar ná die skool se opening trek die skool na die Eros-perseel, nadat plaaslike sakeman Andries du Plessis die perseel aan hulle beskikbaar stel.

Teen die begin van die nuwe eeu is die WAP-familie 102 leerlinge sterk en in 2003 neem die skool vir die eerste keer aan die immergewilde privaatskolebyeenkoms deel.

In 2004 teken die skool meer as dubbel hul leerlingtal van vier jaar gelede aan met 266 leerlinge, en die gekombineerde graadklasse word uitgefaseer.

Nuwe hoërskoolklasse word in 2005 aangebou.

Twee jaar later koop die skoolbestuur die Eros-perseel en in 2009 verwelkom hulle die Treintjieskool as deel van die familie.

Die ontwikkeling van sportvelde word ook daardie jaar van stapel gestuur.

In 2012 spog die skool met ’n splinternuwe Andries du Plessis-skoolsaal en 895 leerlinge waarvan ses leerlinge die eerste WAP-koshuisbewoners was.

Die volgende jaar, in 2013, neem WAP die AffiesPark-klubhuis in gebruik en in 2016 en 2017 word die hokkie Astrobaan en die pawiljoen by die sportvelde gebou.

Gedurende 2020 begin WAP ‘n Engelsmedium stroom in graad 8 wat jaarliks infaseer.

Vanjaar word nog klaskamers vir die hoërskool gebou en skryf die skool IEB se internasionale eksamen (ISS).

Met amper drie dekades se konstante toewyding tot hul leerlinge, beywer die skool om leerlinge vir die wêreld daar buite voor te berei.

“WAP het met voortdurende ontwikkeling, ten doel om te sorg dat leerlinge vir die toekoms voorberei word. Dit moet bewerkstellig word deur relevante vakke vir leerlinge aan te bied,” sê Ariska van Vuuren, WAP se kommunikasiebestuurder.

Die skool beywer hom om relevante vaardighede met die hulp van nuwerwetse tegnologie in klaskamers te gebruik.

“Leerlinge moet ook voortdurend aan nuwe tegnologie blootgestel word wat in die werksmag gebruik word sodat hulle daarmee vertroud kan wees wanneer hulle graad 12 voltooi. Bykomend wil ons met die hulp van nuwe tegnologie in klaskamers onderrig verbeter,” sê Van Vuuren.

Haar hoop vir WAP-leerlinge is om ’n verskil in hul wêreld te kan maak.

“Ons droom is om kinders ná 12 jaar by WAP se hekke uit te stuur om die wêreld ’n beter plek te maak,” sê sy.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer