Vroue verenig teen geweld

Operasie Basadi van stapel gestuur
Talle vroue wat as polisiebeamptes of weermaglede dien, was byeen om Operasie Basadi van stapel te stuur.
Kristien Kruger
Polisie- en weermagvroue was Vrydag in groot getalle aan die voorpunt toe wetstoepassers Operasie Basadi in die hoofstad van stapel gestuur het.

Basadi is ’n Setswana woord vir “vroue” en die mikpunt van die operasie is spesifiek om voortvlugtige oortreders vas te trek wat gesoek word vir geslagsgebaseerde geweld teen vroue en kinders. Dit fokus ook op die meer algemene bekamping van misdade soos moord, verkragting, ontvoering en aanranding.

Lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het reeds nege jaar gelede met die operasie begin en Namibië het ’n wetlike plig as lidland om ’n tweejaarlikse Operasie Basadi uit te voer.

Die voorsitter van Operasie Basadi in Namibië, komm. Elina Mwafila, het by Vrydag se geleentheid gepraat.

“Ons strewe in hierdie operasie is om onder meer die samewerking tussen die polisie en sy belanghebbendes te versterk in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en verwante misdade.

“Ons beplan ook om risikoprofiele vir profielgeteikende misdaadtipes, oortredings en verdagtes te ontwikkel en operasionele kapasiteit te bou.

“Ons wil die moraal van vrouepolisiebeamptes ’n hupstoot gee en operasionele praktyke, vaardighede en kennis te deel.”

Die operasie fokus nie net op die beskerming van vroue nie, maar ook kinders en poog om kinderverwaarlosing, weggooi van babas, aanlyn seksuele misbruik en uitbuiting, kinderhandel en kinderarbeid te bekamp.

Volgens Mwafila beoog hulle om in gemeenskappe meer bewusmakingsveldtogte oor geslagsgebaseerde geweld, mensehandel, korrupsie en kubergeweldmisdade te begin.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer