Die Namibiese polisie se nuwe streekkantoor in die Kunene. Foto verskaf
Die Namibiese polisie se nuwe streekkantoor in die Kunene. Foto verskaf

Kort nuus

Opuwo

Kunenestreek kry nuwe polisiekantore



Die Namibiese polisie in die Kunenestreek spog nou met ’n nuutgeboude streekkantoor wat Dinsdag amptelik ingewy is. Dié kantoor sluit in ’n administrasieblok van 44 kantore, ’n raadsaal en ’n logistieke pakhuis, asook 'n bystandkragopwekker om ononderbroke bedrywighede te verseker.

Tydens haar hoofrede het die aangewyse president Netumbo Nandi-Ndaitwah die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit bedank vir die vinnige voltooiing van die projek

Sy het ook ’n beroep gedoen op die publiek om nie misdadigers te huisves nie en om te help om die nuwe geriewe in stand te hou.

"Hierdie inhuldiging is ’n belangrike stap in die versterking van infrastruktuur vir wetstoepassing in die Kunenestreek wat die regering se voortgesette verbintenis tot die verbetering van openbare veiligheid en dienslewering regoor Namibië weerspieël."

– Rita Kakelo





Okakarara

Knopvelsiekte ook by Okakara aangemeld



Die direktoraat veeartsenydienste in die landbouministerie het ook gevalle van knopvelsiekte in die Okakarara-kiesafdeling in die Otjozondjupastreek bevestig. Tussen 29 November en 11 Desember is gevalle in die Okondjatu-omgewing by vyf nedersttings opgespoor, naamlik Ouatjiri, Otjijamangombe, Otjomukaru, Otjipoko en Okatemba-kondova. Volgens die direktoraat het tot dusver 39 beeste kliniese tekens van die siekte getoon en twee het gevrek. Boere word aangeraai om hul gesonde beeste in te ent en om insekte te beheer.

– Francoise Steynberg





Windhoek

Vrou glo op op bruilof ontvoer



Wat veronderstel was om 'n viering te wees, het in 'n nagmerrie ontaard toe 'n 36-jarige Namibiese vrou glo Saterdag deur ses mans ontvoer is wat haar neef se bruilof by die Daan Viljoen-oord buite Windhoek bygewoon het.

Volgens die Namibiese polisie (Nampol) is die slagoffer na bewering agter in 'n bakkie ontvoer wat vergesel was van 'n rooi sedanvoertuig wat deur ander verdagtes bestuur is.

Die polisie het die ses verdagtes omstreeks 21:00 by 'n mini-padblokkade in Moses Garoebstraat naby die Otjomuise-polisiekantoor in twee voertuie - 'n rooi sedanvoertuig en 'n wit bakkie - voorgekeer.

"Die slagoffer het uit die bakkie om hulp geskree en het beweer dat sy net een van die verdagtes ken," lui die polisieverslag.

"Drie van die verdagtes het beweer hulle is Angolese polisiebeamptes verbonde aan die intelligensiedepartement en hulle is glo in die proses om die slagoffer en nog 'n verdagte in hegtenis te neem in verband met die diefstal van twee voertuie in Angola."

Die verdagtes wat Namibiese en Angolese burgers tussen 26 en 40 jaar oud is, staar verskeie klagte in die gesig, insluitend ontvoering, aanranding en die onwettige besit van twee ongelisensieerde vuurwapens.

Daar is ook beslag op hul voertuie gelê. Polisie-ondersoeke duur voort.

– Nampol-misdaadverslag

Kommentaar

Republikein 2025-03-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer