No Image Caption

Kort Nuus

Kristien Kruger
Otjiwarongo



Bejaardes vasgebind, beroof



Vyf verdagtes het die afgelope naweek na bewering by ’n huis ingebreek en ’n bejaarde (77) vrou en haar man met stukke linne vasgebind en hulle beroof.

Die voorval het Vrydag omstreek 03:00 in ’n woonbuurt op Otjiwarongo plaasgevind.

Die verdagtes het ’n kluis gesteel en dit op die egpaar se voertuig gelaai en daarmee weggejaag. Die voertuig is later verlate agter uitbreiding 6 in die dorp gevind.

“Die gesteelde kluis het verskeie vuurwapens ingehad asook ’n kontantbedrag van N$10 000 en twee selfone,” lui die polisie se verslag wat ook aandui dat twee bevrore skaapkarkasse gesteel is. Die waarde van die items is in hierdie stadium onbekend en is nog nie teruggevind nie. Volgens die polisie is die verdagtes steeds onbekend en op vrye voet.

“Albei slagoffers is in ’n stabiele toestand, maar met sigbare kneusplekke op hul arms,” luidens die polisie se verslag. – Polisie se misdaadverslag



Rehoboth



Vermeende dwelmhandelaar gearresteer



’n Veertigjarige vrou is die afgelope naweek in Rehoboth se Blok E in hegtenis geneem vir beweerde dwelmhandel. Sy is Vrydag omstreeks 07:00 by haar huis in hegtenis geneem nadat dagga ter waarde van sowat N$740 in haar besit gevind is. – Polisie se misdaadverslag



Oshakati



‘Ontvoerde’ man ontsnap ná ongeluk



’n Man wat na bewering ontvoer, aangerand en beroof is, het uit ’n voertuig ontsnap nadat die voertuig in ’n ongeluk betrokke was.

Die man voer aan die voertuig was by die informele nedersetting Ohaiyandja in ’n ongeluk betrokke en al sewe sy vermeende ontvoerders het uit die voertuig geklim om die ander bestuurder te konfronteer. Die man het toe glo uit die voertuig geklim en die bosse ingehardloop na die naaste polisiekantoor waar hy die saak aangemeld het.

Die man beweer die sewe mans het hom glo na die Oshikango-grenspos in die Ohangwenastreek vervoer om hom na bewering daar dood te maak. – Tuyeimo Haidula



Onyaanya



Angolese man verkrag glo 24-jarige



’n Vier-en twintigjarige vrou is na bewering verkrag nadat die verdagte haar glo gevra het om sy minnaar te wees en sy geweier het.

Die voorval het Saterdag omstreeks 22:00 in die Onyaanya-omgewing in die Oshikotostreek plaasgevind. Die polisie se bevelvoerder in die streek, komm. Teopolina Kalompo-Nashikaku, het gesê daar word beweer dat die verdagte die slagoffer vanaf die Oshigo-cucawinkel na haar huis begelei het.

“Die slagoffer het sy seksuele toenadering van die hand gewys, maar die verdagte het die slagoffer gegryp en vasgedruk. Hy het haar uitgetrek en met geweld seksuele omgang met die slagoffer gehad,” het Kalompo-Nashikaku gesê. Sy het gesê die verdagte, ’n Angolese man (29), is in hegtenis geneem en hy sou gister in die Ondangwa-landdroshof verskyn.

– Tuyeimo Haidula

Kommentaar

Republikein 2025-03-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer