Doëseb, Hamutenya of Ibrahim?

Debat oor volkslied
Hidipo Hamutenya se familie hou vol dat hy Namibië se volkslied geskryf het – erkenning wat amptelik deur staatswette aan Axali Doëseb verleen word.
Yandi Du Plessis
Nuusredaksie - Die parlement se rekords meld steeds dat die wyle Swapo-staatmaker Hidipo Hamutenya “die woorde vir die volkslied geskryf het” – ’n weergawe wat sy familie vandeesweek as die waarheid aangevoer het – hoewel Namibië se wet op nasionale simbole vir Axali Doëseb as die man agter die “melodie, musiek en lirieke” van die volkslied erken.

Doëseb se dood ’n week gelede, en Staatshuis se aankondiging dat hy ’n staatsbegrafnis sal ontvang terwyl sy gesin N$2 miljoen gaan kry, het ’n dekade lange debat laat opvlam oor wie werklik die skrywer van Namibia, Land of the Brave is.

“Die uitsonderlike dade van mnr. Doëseb in die skryf en samestelling van die volkslied, ‘Namibia, Land of the Brave’, skyn helder en sal nie vergeet word nie,” het die presidensie Maandag gesê met die aanhaling van die wet op nasionale simbole wat Doëseb byna alle erkenning aangaande die lied gee.

Die minister in die presidensie, Christine //Hoebes, het egter olie op die vuur gegooi toe sy die naweek gesê het “ons kan nie die samestelling van die volkslied heeltemal en volledig aan net een persoon toeskryf nie”, en bygevoeg dat ’n komitee daarvoor verantwoordelik is.

“Hy was een van die komiteelede. Sommige het die lirieke verskaf, sommige het die wysies en die melodie verskaf. Hy is die een wat die melodie verskaf het,” het //Hoebes by die jaarlikse Gaob-fees, wat Saterdag in Okombahe gehou is, gesê.

Hamutenya is aangewys as voorsitter van die subkomitee oor nasionale simbole, wat tussen 1989 en 1990 die opdrag gehad het om die land se vlag, wapen en volkslied te skep.

GESAMENTLIKE POGING

Kela Hamutenya het Maandag sy pa se bydrae tot die volkslied verdedig en gesê hy moet erkenning kry vir die skryf van die lirieke.

“Terwyl hy die staande komitee oor reëls en orde toegespreek het, het hy [Hidipo] gesê dat die komitee – onder sy voorsitterskap – dit van uiterste belang ag dat daar maksimum openbare deelname in die ontwerp van nasionale simbole moet wees,” het Kela aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê.

“Om daardie rede is mnr. Axali Doëseb op die kortlys geplaas as een van die komponiste van die volkslied onder leiding van Mr Dollar Brand, nou bekend as Abdullah Ibrahim. Hulle werk was om die lirieke wat deur [Hidipo] geskryf is, te neem om die finale weergawe van die lied te komponeer,” het hy gesê.

“Die Namibiese volkslied behoort aan die Namibiese mense. Soos my pa dit gesien het, sal dit altyd ’n gesamentlike poging wees.”

Kela het bygevoeg diegene wat die binnestorie van sy pa se bydrae ken, se stilswye was opvallend tydens die debat.

“Ongelukkig vir [Hidipo] en ons het sy familie en vriende – om redes wat slegs bekend was aan diegene wat hieroor kon praat – gekies om stil te wees aangesien die destydse maghebbendes geweet het wat [hy] alles bygedra het,” het hy gesê.

ERKENNING VERSKULDIG

Abner Xoagub, die sekretaris van die Damara-koningsraad, het gesê terwyl daar ’n komitee was wat toesig gehou het oor die proses om by die finale samestelling van die volkslied uit te kom, moet Doëseb steeds as die enigste komponis erken word.

“Die komitee het die verfyning gedoen, maar wyle Axali het die lied geskryf en syne is gekies. Hy het die hele intellektuele eiendom aan die regering geskenk; daar is ’n wet wat bepaal dat die volkslied deur Axali geskryf is,” het hy gesê.

Xoagub het die rol wat Hamutenya gespeel het erken, maar beklemtoon dat die erkenning aan Doëseb moet gaan vir sy samestelling van die volkslied.

“Wyle Hamutenya het dalk die lirieke van die volkslied hersien, maar Axali was die komponis,” het hy herhaal.

HOOGSTE ONDERSKEIDING

Doëseb is gebore op 25 November 1954 en is op 29 Oktober 2023 oorlede, minder as ’n maand voor sy 69ste verjaardag. Die komitee het oorspronklik aanbeveel dat ’n amptelike begrafnis aan Doëseb toegeken word, maar president Hage Geingob het dit later verhoog.

“Nadat hy na kommentaar en insette van die Namibiese publiek geluister het en die belangrikheid van die volkslied as nasionale simbool onderstreep het, het [Geingob] die eer verhef tot die hoogste onderskeiding en rang van ’n staatsbegrafnis,” het die presidensie gesê.

Ook in opdrag van Geingob is Hamutenya in 2016 by Heldeakker net buite Windhoek begrawe.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!