Eenvrou-kragtoer eersdaags op Namibiese verhoë
Chrisna Beuke-Muir is welbekend in Windhoek as ’n voorstaander vir Afrikaans en by hierdie eerste deel van vanjaar se Windhoek Woordfees sien ons haar weer op haar beste in ’n kragtige eenvrouvertoning met Sus van.
Sus van is ’n Lot Vekemans-teks oor die Oedipus-sage soos vertel deur Ismene, sus van die heldin, Antigoné.
Dit behels ’n uittreksel uit die mitologie, en die titel Sus van verwys na Ismene, die jongste van die vier kinders in die koningsgesin, die outjie wat in die skaduwee van haar ouer sibbes geleef het.
Die drama is ’n monoloogvoorstelling van die antiheld, ’n ikoon vir mense wat nie net in terme van groot ideale dink nie, maar vir wie die kleiner oomblikke en die emosionele motief méér is as die ideologie. Die Ismene-karakter is by uitstek ’n verteller, en haar verhaal is eg menslik met uiters genietbare humoristiese oomblikke.
Chrisna vertel meer oor dié drama.
1. Die Nederlandse toneelteks Zus van is 2005 in Nederland bekroon met die Van der Viesprijs² as beste debuut-toneelteks. Chrisna, hoe het dit gebeur dat jy dit vertaal het en dit vir die eerste keer in 2006 gespeel het?
Vroeg in 2006 het ek saam met my kollegas van die Universiteit van Namibië, Aldo Behrens en Danie Strydom in die Tinnenpot Teater in Gent gespeel. Jo Decaluwe (toe direkteur van Tinnenpot) het my straat af gestuur na die Arca Teater om daar ʼn drama te gaan sien “die je toch heel goed zul kunnen spelen, denk ik wel”, het Jo gesê. Die aktrise Elsie de Brauw het die rol van Ismene ongelooflik oortuigend vertolk. Hoewel ek besluit het dat niemand dit beter sou kon doen as De Brauw nie, wou ek dit tog heel graag speel, want die antiheld in my (lees Ismene) sal byvoorbeeld aanhou skryf, al word my werk nie noodwendig gepubliseer nie. In die vliegtuig op pad terug Namibië toe het ek met die proefvertaling na Afrikaans begin. Die teks het my oorweldig. Dit was aangrypend. De Brauw se toneelspel ook, maar dit was die teks wat my aangegryp het. Ek móés dit net vertaal.
Decaluwe is aan die begin van die jaar oorlede, en ek dra hierdie produksie aan hom op. Wat hy vir my geleer het – so ook Aldo Behrens – is om respek vir die woord te hê.
2. Waaroor gaan die teks?
Sus van is gebaseer op die mitologiese figuur Isméne wat (soos baie vroue) in die skadu van ’n merkwaardige en beroemde suster (Antigoné) gelewe het. Vekemans se inisiatief wys terug na die Oud-Griekse Letterkunde van die digter Sophokles.
Sophokles wat tot sy dood toe bly skryf het, se heroïese dramas en sy manipulering van taal en beeldspraak word steeds deur literatore wêreldwyd as groots beskou. Hy was omtrent 90 toe hy Oedipus by Kolonus geskryf het. Karakters soos Isméne het onder sy gunstelinge getel, eerder as die heroïese en idealistiese Antigoné. Terloops, die Isméne-karakter kom in twee van sy dramas voor: in Antigone (442 of 440 vC) en in Koning Oidipus (431-21 vC).
Die stuk begin waar Ismene in Hades wakker word en glo dat die gehoor dié mense is wat haar na al die duisende jare tog kom haal het. Dit is ’n eenvrouvertoning waarin Ismene, die jongste van die vier kinders in die koningsgesin, die outjie wat in die skaduwee van haar ouer sibbes geleef het, die kans kry om háár verhaal te vertel. Die drama is ‘n monoloogvoorstelling van die antiheld, ʼn ikoon vir mense wat nie slegs in terme van groot ideale dink nie, maar vir wie die kleiner momente en die emosionele motief méér is as die ideologie. Die Ismene-karakter is by uitstek ʼn verteller, en haar verhaal is eg menslik met uiters genietbare humoristiese momente.
3. Jy het die teks uit Nederlands in Afrikaans vertaal. Het jy redelik getrou aan die vertaling gebly, of het jy sekere aanpassings gedoen?
My vertaling is redelik getrou, feitlik sin vir sin. Ook was dit nie ’n moeilike proses nie, want die oorspronklike teks is goed geskryf en nagevors. Miskien het die feit dat die rol my soos ’n handskoen pas, ook iets daarmee te doen gehad. Maar ek neem aan jy wil graag weet of ek aan die oorspronklike teks verander het? Net voor die slotreël (Die honde!) het ek aanvanklik twee sinne ingevoeg, eenvoudig omdat ek gedink het dat dit die Namibiese en Suid-Afrikaanse gehoor onkant sal betrap. Ek besef nou dat dit onnodig was, en dat ons Namibiese gehore hierdie aanpassing beslis nie nodig het nie.
4. Het jy enige kontak met Lot Vekemans gehad?
Met Lot Vekemans het ek nog net telefonies en elektronies gekommunikeer. Sy het dit leuk gevind dat haar teks vertaal word, en die gewone kontrakte en outeursregte het natuurlik ter sprake gekom. Ek het al probeer om haar na Windhoek te bring vir die Windhoek Woordfees, maar die logistiek wou nie saamspeel nie. Ek hoop om haar eendag persoonlik te kan ontmoet, want die teks spreek van ’n merkwaardige vrou én dramaturg.
5. Jo Decaluwe en Aldo Behrens het die regie vir jou gedoen toe jy dit in België opgevoer het? Wie neem hierdie keer die regié waar en hoe kom jy en jou regisseur ooreen met die hoe en waarom?
Omdat ek so lank met die teks geworstel het tydens die vertaalproses, was ek redelik seker wat ek daarmee wou doen. Na die vertaling het ons dit ’n paar keer gelees, waarna eers Jo en toe Aldo dit weer en weer op die verhoog geplot het totdat dit vir ons gewerk het.
Henriëtte van Wyk doen hierdie keer die regie, en sy is gelukkig baie geduldig met my! Deur haar oë kry ek ander nuwe perspektiewe op ’n stuk, en ek is gelukkig in dié sin dat ek darem heelwat inspraak het, terwyl ek maar al te bewus daarvan is dat regisseurs se woord gewoonlik wet is. Daar moet ten alle koste ’n baie goeie verstandhouding heers tussen akteur en regisseur.
6. Jy gaan nou weer vir die eerste keer hierdie produksie speel ná 2006. Hoe gaan jy nou tewerk? Hoe onthou mens die woorde?
Ja, dis 16 jaar gelede! En ek is ’n bietjie ouer! ’n Bietjie baie! Wat die instudering en vertolking betref, moet ek bitter hard werk. Die teks geniet altyd prioriteit en die vertolking daarvan kom nie binne die eerste tien repetisies nie.
En dis ’n proses van selfvertroue opbou om nie bang te wees.
Wanneer die eerste kaartjies verkoop is, moet jy al baie goed kán. Maar die werklikheid is tog anders: jou stuk is in der waarheid nooit heeltemal klaar nie, en met elke opvoering workshop jy dit eintlik. En dit is nogal hartseer dat jy in Namibië selde die kans kry om jou stuk meer as een of twee keer te speel. En as die speelvak verby is, voel dit soos ’n kind wat jy na ’n vakansie van "bonding" op ’n bus moet sit en wegstuur van jou af ... Hel, dit is erg.
Aanvanklik het ek gedink om te hou by die manier waarop die Nederlandse aktrise in Gent dit gedoen het: sy het vir die duur van die stuk doodstil gestaan. Ja, dit klink onwaarskynlik! My en Henriëtte se weergawe word effens anders benader deurdat ek ’n bietjie meer op die verhoog beweeg. Maar dit is steeds die teks wat die grootste werk doen.
Die verskille in strategieë ten opsigte van toneel in Afrika en Europa interesseer my baie. Toneel in Afrika maak waarskynlik meer staat op beweging, terwyl dit in Europa (veral ten opsigte van tekslewering) die afgelope jare (so vermoed ek) meer staties geword het: met die klem op steminfleksies eerder as op beweging.
7. Isméne se bestaan word nie deur groot heldedade geregverdig nie, daarom is sy in sekere opsigte nader aan die gemiddelde teaterganger as haar beroemde suster Antigone. Word dit vergestalt in die stuk en maak dit van haar ’n groter tragiese figuur as Antigone?
Vir my is Isméne die held, nie Antigone nie. In die klassieke tye was daar net soos vandag ’n behoefte aan helde. Dalk is die helde van vandag mense wat kan oorleef te midde van die moderne eise. En om gelukkig te kan wees en die meeste van jouself te maak. Wat merkwaardig is van die karakter wat ek probeer vertolk, is die feit dat sy – ten spyte van die feit dat sy nie opval tussen ’n klomp mense nie – tog analities is in haar gewoonheid. Dat sy die verskil ken tussen mense wat kan dink en ’n emosionele werkskis het waaruit hulle kan put om te oorleef, maar terselfdertyd besef dat die diere, die honde met wie sy moet saamleef vir haar geleer het dat instink ook nie te versmaaie is nie.
Selfdood (Antigoné se uitweg) word nie vandag as heldhaftig gesien nie, hoewel daar (hopelik) tog begrip is vir die uiters gefolterde toestand van ’n mens wat selfdood pleeg. Isméne is ook ’n tragiese held, omdat sy alleen is en niemand het om vir haar hande te klap nie.
As mens die gebeure in die drama projekteer op vandag se gemeenskappe, is daar honderde duisende mense wat gesigloos in die massa verdwyn. Die dramaturg en die regisseur en die speler is die mondstuk van ’n gemeenskap, en die Griekse tragedie en sy struktuur is wonderbaarlik geskik om as spreekbuis te dien vir die mense se behoeftes en belewing van vandag se alledaagse. En dan die fantasie daaraan verbonde. Ongeag ouderdom hou almal tog van fantasie. Dit is ’n universele storie, en soos Aldo dit destyds bewoord het, is daar raakpunte tussen “ancestral spirits” en gewone drenkelinge se assosiasie met dié gode.
8. Jy het destyds die produksie ook Suid-Afrika toe geneem. Gaan dit weer gebeur?
Ja, ek is bevoorreg om dit te doen. Ek speel Sus van vanjaar ook in Stellenbosch in die Drostdy Teater op 27 en 28 April. Computicket verkoop die kaartjies en ek sien werklik uit daarna.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie