Gerhardus se reise – Rooi poorte en klipjakkalse
’n Gevoel van vergenoegdheid
Danksy die leiding van die kitsune en die torii-poorte, bereik ons uiteindelik die hoof-heiligdom bo-op die berg.
Gerhardus van Grootfontein – Dit is ’n warm somersdag in Japan. Ek en Karel loop in Kyoto rond. Ons is opsoek na die Kyoto Nasionale Museum, maar my Chinese foon het ons bietjie laat verdwaal. Die hitte was soos ’n warm somersdag in Grootfontein. Maar, ek verdwaal nie sommer in Grootfontein nie, so dit maak die ervaring bietjie anders: die hitte knaag! Die draaie-en-sirkels loop lei ons tot by ’n tipe basaar en die museum is ’n gedagte van die verlede.
Lanterns is oor ’n plein gespan. In die middel van die plein is ’n verhoog met tradisionele instrumente en ’n sanger. Reg rondom die verhoog dans mense. Baie van hulle dra hoë platformskoene en elegante kimonos. Die atmosfeer is aansteeklik. Ek wil saam dans, maar is nie seker wat aan die gang is nie. In plaas van dans, besoek ons die kosstalletjies wat eenkant staan. Ons kry elkeen ’n bier en bestel palingsosaties. Dit is lekker op ’n interessante manier.
Terwyl ons staan en probeer sin maak van die basaar, kom twee vrouens in kimonos na ons toe aangestap – een is ’n Japanner en die ander ’n Amerikaner.
“Geniet julle dit?” vra hulle.
“Baie,” antwoord ek.
“Maar wat geniet ons?” vra ek verder. “Ons dans met ons geliefdes in die doderyk,” verduideik die Japanner. Die Amerikaanse vrou knik saam. “Ja,” sê sy, “ek het vanaand met my pa gedans.”
Daar is vreugde en heimwee in haar stem. Ek kom agter dat die vrou al amper 20 jaar in Japan woon. Sy praat die taal vlot.
Die twee wil verder weet wat ons die volgende paar dae gaan doen.
“Ons sal seker weer die museum soek,” reken ons.
Die Japanner stel voor dat ons ’n draai by Fushimi Inari maak. Dit is ’n heilige plek. Ek protesteer dat Fushimi Inari opgeduik het in ons beplanning, maar blykbaar is daar altyd ’n magdom toeriste.
Die vrou se bleek gesig glimlag onder haar raafswart hare.
“Om die ware heiligheid van die heiligdom te ervaar, moet julle vroeg in die oggend gaan,” verduidelik sy. “Klim op die 05:30-trein, dan behoort julle teen 06:15 daar te wees. Dit sal julle omtrent 4 ure neem om die pelgrimstog te voltooi.”
Die vrou was ’n boodskapper en so besluit ons om die volgende oggend Fushimi Inari toe te gaan.
Fushimi Inari is ’n Sjinto-heiligdom. Die Sjinto-geloof beklemtoon harmonie met die natuur en die wêreld. Dit fokus op reinheid, dankbaarheid en respek vir die lewe. Anders as ander gelowe, het Sjintoïsme geen heilige geskrifte of leerstellings nie. Dit is meer ’n versameling praktyke en oortuigings wat oor duisende jare ontwikkel het. Hierdie praktyke draai om die aanbidding van die “kami”, wat geeste of gode is. Kami kan natuurlike elemente (berge, riviere, bome), voorouers of selfs legendariese figure verteenwoordig.
Met min slaap arriveer ons teen 06:15 by die hoofpoort van Fushimi Inari. Die heiligdom is gewy aan Inari – die kami van rys en welvaart. Dit is gestig in 711AD en strek oor ’n berg met ’n roete van 4 km lank. Die tog is ’n sirkel wat berg-op tot by die hoof-heiligdom gaan en dan weer terugkeer tot by die hoofpoort. Hierdie wandelpad vereis dat ’n mens deur meer as tien duisend torii-poorte gaan. ’n Torii-poort is ’n groot, rooi hek wat ’n weg na die kami is.
Ons begin by die voet van die berg. Die son is al so rukkie op, maar die lug is nog verskillende skakerings blou. Dit gaan weer ’n warm dag wees. Die wandelpad is in ’n woudagtige omgewing – soms is die pad trappies. Die torii-poorte omvou die pad. Weerskante van die pad is groen bome sigbaar tussen deur die rooi pilare. Die voëls sing, watervalletjies kabbel, en sonbesies se krete is oralom. Ek hyg soos ’n bees terwyl ons berg-op stap, maar soms staan ek stil, haal diep asem en maak my oë toe.
Op pad na die hoof-heiligdom is daar kleiner altaars waar monnike kniel, sing en bid. Hul gesange is klokhelder met beduidende resonansie. Die altaars is ru, maar mooi. By die altaars is daar fonteintjies wat uitsluitlik gebruik mag word vir die reiniging van aanbidders se hande en arms. Soos in sommige kerke, brand die aanbidders wierook en kerse terwyl hulle bid. Ek kan die eer aan die natuur sien en voel. Dit laat my dink aan die Bengaalse digter Tagore se skrywe.
“Silence my soul, these trees are prayers, I ask a tree: tell me about God. And, it blossomed.”
Die vroeg opstaan en avontuur, sonder ontbyt, begin ons inhaal. By een van die altaars is ’n bitter klein winkeltjie wat kerse, wierook en beeldjies verkoop. Op ’n bordjie staan “Coffee”. Ons kommunikeer aan ’n baie vriendelike tannie dat ons koffie wil hê. Met ’n glimlag laat sy ons agter ’n vrieskas sit. Sy bring koffie, in ’n glasie, op ys, met melk langs die kant.
“Arigatou,” buig ons.
Daardie glasie nederige koffie was seker die naaste wat ’n mens aan boeretroos in Japan kan kom. In sy eenvoud was dit waarlik volbring – nie soos die fênsie koffies in die stad nie.
Opgewek trotseer ons die weg verder onderdeur die rooi torii-poort-tonnels. Langs die pad waak mos-bedekte klipjakkalse. Hulle is bekend as die “kitsune”. Kitsune is boodskappers van Inari. Hulle is magiese wesens en simboliseer voorspoed, beskerming en die misterie van die natuur.
Danksy die leiding van die kitsune en die torii-poorte, bereik ons uiteindelik die hoof-heiligdom bo-op die berg.
Hygend staan ek voor die ingang van die hoof-heiligdom. Daar is ’n groot staander onder ’n afdakkie met kerse wat brand. Nadat ek asem geskep het, betree ek die heiligdom. Groot klip-torri’s en ander gesteentes vorm ’n amper-doolhof. Die spasie het geen dak nie. Die blou hemel bedek dit. Die klippe is koel in die hitte van die dag. Tussen die klippe loer klein kitsune-beeldjies. Honderde rooi, hout, miniatuur-torii-poortjies is om elke hoek en draai. Party plekke is hulle in stapels op en teen die groot klipmonumente gepak. Die poortjies word deur aanbidders geskenk as ’n gebaar van dankbaarheid – of om ’n versoek aan die kami te rig. Ons is omring met gebede, wense en hoop.
Die versoening van menswees en die natuur ontlok ’n gevoel van vergenoegdheid. Met hierdie behae stap ons terug, berg-af. Ek hyg minder. Die torii-poorte maak weer tonnels. Onder by die voet van die berg wemel dit van besoekers. Ek is dankbaar vir die boodskapper: dat ons Fushimi Inari met amper geen mense kon ervaar. Die trein neem ons terug Kyoto-middestad toe.
“Ek is nogals honger,” noem ek aan Karel.
Hy ook. Ons volgende avontuur is ’n stewige “brunch”.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie