Inwyding moet ‘homoseksualiteit weghou’

Meer as 150 seuns, mans neem aan proses deel
Die besluit om die tradisie te laat herleef is glo teweeggebring deur maatskaplike euwels en 'n gebrek aan skerpsinnigheid in leiersposisies.
Yandi Du Plessis
Tuyeimo Haidula - Om te verhoed dat hulle “gay word” en om hulle voor te berei vir toekomstige leiersposisies, is gelys as van die redes waarom die Ondonga Tradisionele Owerheid verlede naweek 150 seuns en mans deur ’n inisiasieproses by die Etosha-soutpan laat gaan het.

In die algemeen is die oefening gehou om kultuur te help herleef en sosiale gedrag onder Ondonga se mans te verbeter, het die organiseerders gesê.

Die inwydingsproses, wat gelei is deur die voorsitter van die Ondonga-tradisionele raad, John Walenga, het Vrydag begin en Sondag geëindig. Die Ondonga-koning, Fillemon Shuumbwa Nangolo, het deelnemers daarna by die paleis ontvang.

Walenga het gesê die inwyding was ’n sukses en dit was aangenaam om te sien dat mense teruggaan na wat die voorvaders sou doen om ’n seun leiding te gee in die proses om ’n man te word. Hy het bygevoeg hulle is oorweldig deur die hoeveelheid mense wat opgedaag het.

“Die idee is dat uushenge, of homoseksualiteit, nie wortel skiet nie,” het hy gesê.

“Ons wil hê die seuns moet ingelig word wat dit beteken om ’n man te wees. Dit is wat ons voorvaders vroeër gedoen het. Ons hoop hulle hou ons en hul kinders dop, [siende] dat ons hulle deur ’n proses soos hierdie een neem. Ons is opgewonde,” het hy gesê.

TWEEJAARKURSUS

Die jongste van die deelnemers was nege jaar oud, terwyl die oudstes in hul 70’s was, het Ileni Nandjato, die koning se woordvoerder, gesê.

Die besluit om die tradisie te laat herleef is glo teweeggebring deur maatskaplike euwels en ’n gebrek aan skerpsinnigheid in leiersposisies.

ֻ“Ons het gesien baie mense wat leierskap [posisies] opneem, het nie deur inisiasieprosesse gegaan nie, [en] sommige van hulle doen dinge nie op die regte manier nie,” het hy gesê.

Die geleentheid is ondersteun deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme wat wildsvleis verskaf het en ook wildbewaarders toegewys het om die deelnemers te beskerm.

Volgens Nandjato is die proses ’n kursus van twee jaar en diegene wat vanjaar deelgeneem het, sal nie weer volgende jaar na die soutpan hoef te gaan nie. Hulle sal wel ’n vergadering saam met ouderlinge en tradisionele leiers bywoon as ’n manier om dít wat hulle geleer het, aan ander oor te dra.

Radio-aankondigings is gemaak om deelnemers uit te nooi en ouers in te lig wat hul kinders deur die proses wil laat gaan.

Nandjato het gesê die oorweldigende reaksie is ’n aanduiding dat mense bereid is om kultuur te bewaar volgens die voorvaderlike norme en waardes.

Hy het bygevoeg in die verlede sou die proses ook besnydenis insluit, maar het gesê die tradisionele raad sal nie hierby betrokke raak nie en laat dit aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste oor.

Die deelnemers was van verskeie tradisionele owerhede, insluitend Uukwambi, Ongadjera en Oukwanyama, het hy gesê.

SOUT VAN DIE AARDE

Met hul aankoms het deelnemers hul kampeerterrein sowat vyf kilometer van die soutpan af opgerig.

“Die deelnemers het hul eie kos voorberei en hulle het nie sout gekry om by te voeg nie. Hulle het vleis sonder sout geëet. Dit is om die belangrikheid van sout aan te dui en sodat hulle die proses om dit die volgende dag te gaan haal, kon waardeer,” het Nandjato gesê.

Saterdag het die seuns en mans reeds om 03:00 wakker geword en kaalvoet na die soutpan begin stap.

Daar is hulle deur Walenga ingelig oor die waarde van ’n man en die belangrikheid van die proses.

“Hy het ook bewustheid geskep oor die huidige kwessies soos geslagsgebaseerde geweld, transgender-onderwerpe en algemene sosiale gedrag. Hy het hulle aangesê om as mans op maatskaplike euwels te reageer en dat ware mans nie gewelddadig is nie en nie hulle hande vir ’n vrou lig nie,” het Nandjato gesê.

‘KONINGSMANS’

Ná die voltooiing van die twee jaar lange inisiasieproses sal daar na die deelnemers verwys word as “koningsmans” wat tot Nangolo se hulp kan wees in tye van nood.

“Mense moet na hulle opkyk; [hulle moet] goeie gedrag toon,” het Nandjato gesê.

Hy het bygevoeg sommige van die deelnemers het moeg geword en nie daarin geslaag om hul sout uit die pan terug te dra nie, maar hulle moes noodgedwonge die terugtog na die kampterrein maak, terwyl hul sakke sout per motor vervoer is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 29° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 26° | 35° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 18° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 22° | 32° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 18° | 37° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 14° | 30° Ariamsvlei: 19° | 37° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 34° Lubumbashi: 17° | 20° Mbabane: 15° | 27° Maseru: 19° | 33° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 18° | 21° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 26° Johannesburg: 20° | 31° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 20° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!