Kultuur en avontuur in die natuur

STAFF REPORTER
Nuusredaksie – Die jongste taal in die wêreld is vanjaar ’n eeu oud en in Namibië vier Die Voortrekkers dit met ’n spesiale tema – Ons kán in Afrikaans!

Dié tema word opgedollie met ’n hekellappie van kultuur en avontuur in die natuur.

Dr. Heinrich Zwemstra, gebiedsleier van Die Voortrekkers in Namibië, het in sy wense vir 2025 die hoop uitgespreek dat inwoners van die land sal besef watter belangrike rol dit as jeugorganisasie in die ontwikkeling van die land se jeug en gemeenskappe speel.

Volgens hom vertel die Voortrekkerstorie ’n verhaal van planne, vars denke, aanpasbaarheid en hoë funksionerende prestasies, maar is dit ook een van pret, kameraadskap en avontuur. Die aktiwiteite wat aangebied word, bied ’n goeie balans tussen pret en avontuur, erns en toewyding.

Hier word jongmense gehelp om lewensvaardighede te ontwikkel en om as positiewe landsburgers en konsekwente Christene suksesvol te wees in hul roeping tot diensbare leierskap. Dit help ook jongmense om ’n betekenisvolle en positiewe bydrae tot Namibië te lewer en ook in die res van die wêreld.

Buiten die weeklikse byeenkomste is daar ook kampe waar ’n groot verskeidenheid aktiwiteite aangebied word en wat boogskiet, perdry, selfontwikkeling, visvang en rotsklim tot staptoere insluit.

Takke is op Tsumeb, Outjo, Otjiwarongo, Windhoek, Swakopmund en Walvisbaai en vir meer inligting besoek die Facebookblad Namibie Voortrekkers (sonder die deelteken op die ‘e’), op Instagram: namibie_voortrekkers of stuur ’n e-pos aan Elmine McCarthy na [email protected].

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer