Lanterns, rolskaats en trolle vir Kersfees

Unieke kersfees tradisies
In Swede word jaarliks 'n bok van 13 meter gebou, maar ten spyte van streng sekuriteit, word dit die meeste jare afgebrand of beskadig. Vanjaar se bok staan gelukkig nog!
Kristien Kruger
Namibiese families geniet tradisies soos konsert hou op Oukersaand, liedjies om die Kersboom, ouma se triffle, vrugtekoek, skaapkop of 'n mostertring. Kersdag word gevier onder die warm son op Hentiesbaai se strand, ’n potjiekos op die plaas of kookkos by die huis.

Op ander plekke in die wêreld bou mense sneeumanne en drink warm sjokolade. Koekies en melk word vir Kersvader uitgesit, Kersgeskenke moet wag tot Kersoggend en vier kerse word vir Advent aangesteek.

Verskeie unieke tradisies oraloor die wêreld vier op unieke maniere die sprokiegevoel van Kersfees. Soos San Fernando in die Filippyne waar elke Kersfees verhelder word met 'n fees van lanterns. Volgens Momondo, ’n wêreldwye reissoektogwebwerf, word die fees elke jaar op die Saterdag voor Oukersaand in die stad gehou en lok dit toeriste van regoor die wêreld.

Elf dorpies neem aan die fees deel en probeer om die mees uitgebreide lantern te bou. In die verlede was die lanterns eenvoudige skeppings van ongeveer 'n halwe meter in deursnee en gemaak van ’n soort Japannese papier wat met 'n kers verlig is.

Oor die jare het die lanterns meer kompleks geword en word dit vandag met ’n verskeidenheid van materiale gemaak en is dit byna ses meter hoog. Dit word verlig en skitter in ’n kaleidoskoop van patrone. San Fernando word weens dié skouspelagtige fees beskou as die Kersfees-hoofstad van die Filippyne.

RUIL JOU KERSKOUS VIR ROLSKAATS IN VENEZUELA

Inwoners van Caracas, Venezuela geniet op die 24ste Desember ’n Kersdiens, met van groot tot klein wat al die pad kerk toe rolskaats.

“Hierdie unieke tradisie is so gewild dat paaie regoor die stad vir motors gesluit is, sodat mense veilig kerk toe kan skaats,” berig Momondo.

“Dié aktiewe en energieke tradisie het 'n geliefde deel van die Venezolaanse kultuur geword, wat die vreugde van die feestyd meng met fisiese aktiwiteite en die deelname van die gemeenskap,” lui ’n blogplasing deur Digibuddha.

BRANDENDE BOK IN SWEDE

Sedert 1966 word ’n Yule-bok van 13 meter hoog in die middel van Gävle se Slottstorget (kasteelplein) in Swede gebou vir die Advent. Dit het die afgelope paar jaar in ’n ander tipe tradisie verander met mense wat probeer om dit af te brand.

Ten spyte van veiligheidsmaatreëls en 'n nabygeleë brandweerstasie, is die bok die meeste jare sedert sy eerste verskyning in 1966 tot op die grond afgebrand. Volgens ’n Sweedse mediaberig is 38 uit 57 bokke vernietig of op een of ander manier beskadig.

Volgens mediaberigte is vanjaar se Gävlebok nog nie afgebrand nie en staan hy steeds, maar is dit beskadig. Weens die strooi wat saad bevat en wat gebruik word om die bok te bou, is die bok deur voëls beskadig.

“Om die bok op een of ander manier aan die brand te steek of te vernietig, is onwettig. Dit kan lei tot drie maande tronkstraf,” lui ’n berig van SVT Nuus.

STEEK JOU BESEM WEG IN NOORWEË

Een van die mees onortodokse Oukersaand-tradisies kan in Noorweë ervaar word. Hier word besems oor die Kerstyd weggesteek. Die dateer eeue terug toe mense geglo het hekse en bose geeste kom op Oukersaand uit op soek na besems om op te ry. Tot vandag toe steek baie mense steeds hul besems op die veiligste plek in die huis weg om te keer dat dit gesteel word.

“Dit is ’n tradisie wat reeds eeue lank bestaan en sy oorsprong kom van ’n ou volksverhaal dat hekse en bose geeste op Kersfees uitkom en besems soek om op te ry om die vieringe stop te sit,” lui ’n berig van The Economic Times.

KERSFEESTROLLE IN YSLAND

In die 13 dae voor Kersfees kom 13 lastige trolagtige karakters uit in die aand en maak amok in die strate van Ysland. Hulle staan as die Yule Lads of ‘jólasveinarnir’ of’ jólasveinar’ in Yslands.

Inwoners trek tradisionele kostuums aan en besoek die kinders regoor die land in die 13 nagte voor Kersfees. Kinders sit hul skoene in die venster en wanneer 'n ‘Yule Lad’ kom kuier, los hy geskenke vir oulike meisies en seuns en vrot aartappels vir die stoutes.

“In die ou dae was die jólasveinar kwaadwillig en hulle rol was om vrees by kinders te wek. In 1746 het owerhede 'n wet uitgevaardig wat ouers verbied om hul kinders met die Yule Lads te dreig en met verloop van tyd het die karakterisering van die Yule-manne verander en het hul dreigende en skrikwekkende aard verloor,” skryf die aanlyn mediaplatform Meer.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!