Meer oor vroue in grootste ensiklopedie

Meer as 64 miljoen artikels
Dié veldtog vier die menslike bydraers, ingesluit dié van Afrika – wat onvermoeid werk om te verseker dat meer inhoud oor vroue op Wikipedia, die grootste ensiklopedie in menslike geskiedenis, verskyn.
Henriette Lamprecht
Kennis is menslik. Kennis is sy – Knowledge is human. Knowledge is her. Dit is die naam van die niewinsgewende Wikimedia-stigting – die gasheer (vrou?) van Wikipedia en ander Wikimedia-projekte se veldtog wat die naweek op dieselfde dag as Internasionale Vrouedag van stapel gestuur is.

Dié veldtog vier die menslike bydraers, ingesluit dié van Afrika – wat onvermoeid werk om te verseker dat meer inhoud oor vroue op Wikipedia, die grootste ensiklopedie in menslike geskiedenis, verskyn.

Die meer as 64 miljoen artikels wat hier verskyn, is danksy die ruim bydraes van honderde duisende “Wikimedians”, die naam wat aan sy vrywillige redakteurs toegedig word. Saam stel hulle inligting oor noemenswaardige onderwerpe saam en deel natuurlik dié inligting. Betroubare bronne word altyd volgens die ensiklopedie se redaksionele beleidsrigting en riglyne aangehaal. Die artikels en die ensiklopedie is dit eens dat kennis menslik is.

Die senior kommunikasiedirekteur, Dumisani Ngwaila, het namens die Wikimedia-stigting gesê Wikipedia is afhanklik van die beskikbaarheid van bestaande gepubliseerde bronne om die feite in sy artikels te verifieer.

“Maar, omdat vroue egter uit ons historiese vertellings en tradisionele bronne van kennis gelaat is, is baie van hierdie gapings in kennis op Wikipedia teenwoordig,” het Dumisani verduidelik.

Daarom is en word die mense wat vroue weer “terug in die geskiedenis” skryf, nou gevier.

“Ons vier die mense wat vroue terug in die geskiedenis skryf en ’n noodsaaklike rol speel om die kennis te laat groei op een van die webtuistes wat die meeste besoek word,” sê Anusha Alikhan, die stigting se hoofkommunikasiebeampte.

“Meer inhoud oor vroue en meer vroue wat ’n bydrae tot Wikipedia lewer, help om ’n kennisbasis te skep wat ons gemeenskappe beter verteenwoordig.

“Deur hierdie stories te deel, hoop ons om mense oral te inspireer om meer oor hierdie pogings te leer en om by ’n beweging aan te sluit wat omgee oor hoe ons almal die wêreld sien,” het Anusha verduidelik.

Vanjaar se veldtog vier nie net Wikimedia-redakteurs nie, maar ook diegene wat op ander maniere help om ’n bydrae tot inligting op Wikipedia te lewer. Dit sluit die organisering van redigeringsgeleenthede, slypskole, veldtogte en ander inisiatiewe in.

“Ons is opgewonde om die ongelooflike werk van bydraers tot Wikimedia ten toon te stel. Hul stories wissel van bibliotekarisse wat die Wikipedia Citations Needed-inisiatief inspirerend vind, vroulike vrywilligers wat passievol daaroor is om oor ander vroue in hul land te skryf of diegene wat sterk daaroor voel om kennis van hul taal of land oor te dra op Wikipedia,” sê Masana Mulaudzi, die senior bestuurder vir die organisering van veldtogte by die Wikimedia-stigting.

“Hierdie vrywilligers help dat Wikipedia se inhoud die hele wêreld met sy rykdom aan kultuur en taal weerspieël. Jy mag haar dalk nie ken nie, maar jy het dalk al haar werk gelees,” sê Masana.



KENIA

Carol Mwaura (gebruiker: Cmwaura) is van Kenia en het meer as 2 000 redigerings aan verskeie Wikimedia-projekte aangebring. Carol werk daaraan om die aantal betroubare artikels oor vroue op die gratis ensiklopedie te vermeerder terwyl sy terselftertyd die volgende generasie redakteurs ondersteun en inspireer.

Metodies oor haar benadering, deels te danke aan die feit dat sy ’n bibliotekaresse is, begin Carol elke Wiki-opdrag deur leemtes in die inhoud te identifiseer, betroubare bronne na te vors, verwysings dubbel na te gaan en natuurlik by riglyne vir aanhalings te hou.

Om vinnig iets te redigeer, het haar roeping geword, met die spesifieke doel om inligting oor vroue in Kenia meer toeganklik vir almal te maak. Dit is ook die rede waarom sy artikels in Swahili vertaal wat deur 95% van die bevolking in Kenia gepraat word.

Carol se bydraes het nie ongesiens verby haar eweknieë gegaan nie. Tydens die #1Lib1Ref-veldtog in 2020 – ’n inisiatief waartydens bibliotekarisse oraloor die wêreld genooi is om verwysings op Wikipedia by te voeg – het haar verskeie bydraes daartoe gelei dat haar medevrywilligers haar benoem het as een van die top-100-redakteurs in Afrika en een van die topvroue-redakteurs in Kenia. Haar toewyding is ongeëwenaard en sy is dikwels besig om “in die hardloop en op soek na ’n internetsein” te redigeer.

Hierdie jaar help Carol ook om die Wikimania 2025 in Nairobi te organiseer. Dié jaarlikse konferensie nooi “Wikimedians” oraloor die wêreld uit om met mekaar te deel en natuurlik by mekaar te leer.



NIGERIë

Goodness Ignatius (gebruiker: Olugold) van Nigerië was verantwoordelik vir die redigering van meer as 16 000 vir verskeie Wikimedia-projekte, het meer as 100 nuwe artikels in Engels en meer as 700 op Igbo Wikipedia geskep om sodoende te verseker daar is meer inhoud oor vroueverwante en Nigeriese kwessies beskikbaar. Goodness se bydraes verseker ook dat die Igbo as taal vrylik beskikbaar is. Sy is ’n produktiewe redakteur wat aktief deel van ’n wye verskeidenheid Wikimedia-projekte is.

Buiten vir skryf, koördineer Goodness ook geleenthede op Meta-Wiki vir beide nuwe en bestaande vrywilligers wat wil leer hoe om ’n bydrae te maak. Sy organiseer ook datapunte op Wikidata wat gebruik kan word om betroubare inligting op verskeie tuistes by te voeg, wat insluit Wikipedia en Wikiquote (’n samewerkende versameling van aanhalings), asook Wiktionary. Dit is dikwels in Igbo wat die beskikbaarheid van inligting in dié taal verhoog.

Goodness is ook ’n bibliotekaresse en fokus daarop om inligting te deel wat sy oor die jare ingesamel het. Goodness help die volgende generasie Wikimedians in Nigerië om genoeg vertroue in hulself te hê om via hul selfone tot die gratis ensiklopedie by te dra.



BENIN

Agbenomba Abigaïl (gebruiker: aimeabibis) is van Benin en spog met 9 000 bydraes tot verskeie Wikimedia-projekte, insluitend om meer as 270 artikels op die Franse Wikipedia te skep.

Dit beteken gratis, betroubare inligting wat meer toeganklik vir sprekers van haar moedertaal is. Agbenomba se werk strek oor ’n breë verskeidenheid onderwerpe en wissel van popkultuur – ’n artikel oor die Beninees-Duitse sangeres en aktrise Victoire Laly, tot politiek – ’n artikel oor die Beninese diplomaat Arlette Dagnon Vignikin.

Om deel te wees van iets so groot en betekenisvol soos Wikipedia is een van die grootste dryfvere en inspirasies vir Agbenomba om ’n bydrae te lewer.

Buiten vir skryf, vind sy ook die tyd om slypskole te organiseer en mense op te lei om redigering op Wikipedia te doen.

Iets wat haar baie na aan die hart lê, is die bevordering van geslagsgelykheid, veral in die plaaslike vrywilligersgemeenskap in Benin.

Tydens ’n onlangse veldtog wat op geslagsgelykheid in Benin gefokus het, was nuwe strategieë aan die voorpunt om meer vroue-vrywilligers te lok. Deel van laasgenoemde was die opstel en bestuur van ’n gemeenskap op WhatsApp om vroue se betrokkenheid te vergemaklik. Die groep het saam 660 nuwe artikels geskep en 1 150 bestaande bladsye op Wikipedia verbeter.

Die belangrikheid van Wikipedia het danksy vandag se wêreld waarin kunsmatige intelligensie inligting genereer, aansienlik verhoog.

Byna elke Groot Taalmodel, insluitend die wat toepassings soos ChatGPT dryf, maak staat op inligting op Wikipedia as hul hoofbron vir opleiding. Juis daarom moet Wikipedia die hele wêreld se mense en inligting verteenwoordig, juis omdat so baie mense dit gebruik.

As jy betrokke wil raak, besoek die webtuiste https://wikimediafoundation.org.

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer