NG Kerk: Namibië kan bande met algemene sinode breek
Stap pad van ‘kerklike tug, dissipline’
Die Namibiese sinode het die algemene sinode van die NG Kerk die naweek voor 'n ultimatum gestel oor sekere van sy besluite.
In ‘n ingrypende stap kan die NG Kerk in Namibië (NGKN) sy bande met die algemene sinode (AS) van die NG Kerk breek indien laasgenoemde nie binne die volgende ses maande instem om sekere van sy besluite, waaronder dié oor selfdegeslagverhoudings, te hersien nie.
Die besluit is die naweek tydens die NGKN se sinodesitting in Windhoek geneem.
Dr. De Wet Strauss, assessore en ondervoorsitter van die dagbestuur, het Saterdag na afloop van die Namibiese sinode in ‘n verklaring aangekondig ‘n besluit is ingevolge artikel 37 van die kerkorde geneem om “‘n pad van kerklike tug en dissipline met die NG Kerk se algemene sinode te stap soos dit uitgespel word deur Jesus in Matteus 18:15-17”.
Matteus 18 lui: “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.”
“Die sinode van Namibië is van oordeel dat die AS nie die NG Kerk met kerklike leierskap dien nie,” lui die verklaring.
Strauss sê die Namibiese sinode verwys veral na die besluite wat verband hou met selfdegeslagverhoudings en die bestuur van teologiese opleiding aan die universiteite se teologiese fakulteite waarmee die algemene sinode hom verbind.
Die AS het in 2019 beslis NG-gemeentes kan self besluit of hulle ten gunste van selfdegeslagverhoudings is en of hulle gay predikante wil beroep.
Die Namibiese sinode met sy 45 gemeentes sal oor die komende maande lidmate hieroor inlig en “betrek by die verskillende prosesse wat hierdie ingrypende besluit tot gevolg sal hê”, sê Strauss.
Artikel 37 van die kerkorde bepaal ‘n streeksinode kan uit die kerkverbank tree. Dit kan geskied met behoud van sy naam, bates, regte en voorregte.
Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, het die naweek aan Rapport gesê die Namibiese sinode se besluit is “hartseer”.
Volgens hom was die 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings nie op die NGKN van toepassing nie aangesien sulke verhoudings in Namibië onwettig is.
Al nege streeksinodes van die NG Kerk in Suid-Afrika, asook dié in Botswana, Zimbabwe, Zambië en Namibië maak deel uit van die algemene sinode, verduidelik ds. Thijs van der Merwe, algemene sekretaris van die NGKN.
“Die Namibiese sinode was een van vyf stigterslede van die AS in 1962. Namibië is deel van die algemene sinode as 'n onafhanklike kerk wat op 5 Maart 1957 tot stand gekom het,” verduidelik hy. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie