Nuutste FAK-sangbundel in die pyplyn

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gaan met dié organisasie se eeufeesviering in 2029 die nuutste FAK-sangbundel vrystel.

Die eerste sangbundelkomiteevergadering het op 24 Februarie by die Voortrekkermonument plaasgevind, waarna die FAK hierdie projek en sy komitee aangekondig het.

Talle bekendes het ingestem om saam met die FAK geskiedenis te skryf tydens die verloop van hierdie projek, waaronder Danie du Toit, ook bekend as Danie Reënwolf van Spoegwolf.

“Ons het met twee FAK-sangbundels in ons huis grootgeword,” het Du Toit vertel. “Ek is baie opgewonde om deel te wees van hierdie projek!”

Die ander lede wat op die komitee dien, is Pieter Smith, Jannie Moolman, Piet Smit, Monika Maree, Coert Grobbelaar, Joe Niemand, Gisela de Villiers, Machiel Roets, Franco Prinsloo, Irma Liebenberg en Christelle Engelbrecht. Verder as deel van hierdie span is David du Plessis en Stefan Jansen wat gaan bystaan met outeursreg en publikasieregte.

Dié geskiedkundige projek sal gedryf word onder leiding van Jaco van Staden, die FAK se projekbestuurder van musiekontwikkeling.

“Om deel van hierdie projek te wees, is om geskiedenis te skryf,” sê Van Staden. “Die FAK-sangbundel is iets wat in elke huisgesin aangetref kan word en vir die meeste van Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis, was dit die enigste sangbundel wat in musiekopleiding beskikbaar was. Hierdie sangbundel stel al vir generasies die standaard.”

Franco Prinsloo, ’n bekroonde komponis, sê: “Die rol van die FAK-sangbundel is dat dit dien as ’n argief vir Afrikaanse musiek en musiekgeskiedenis.”

Die FAK is in 1929 gestig en is die oudste kultuurorganisasie van sy soort en het in sy bestaan van amper 100 jaar al talle sangbundels bekendgestel.

“Die doel van hierdie sangbundel is nie om ou liedere net weer te publiseer nie, maar om nuwe innovasie in die Afrikaanse musiekbedryf te ondersteun en te stimuleer,” verduidelik Van Staden.

Die eerste FAK-sangbundel, genaamd die FAK-Volksangbundel vir Suid-Afrika is in 1939 vrygestel. Die laaste sangbundel wat die FAK vrygestel het, het in 2016 verskyn.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer