Nuwe baadjie vir historiese Alte Feste

Jemimah Ndebele
Die oudste gebou in Windhoek, die Alte Feste, gaan ’n splinternuwe baadjie aantrek danksy ’n omvattende opknappingsprojek.

Dit spruit uit ’n Memorandum van Verstandhouding (MoU) tussen die ministerie van onderwys, kuns en kultuur en die Namibia Craft Centre, wat ’n beduidende hupstoot van N$4,6 miljoen (US$250 000) van die Amerikaanse ambassadeursfonds vir kulturele bewaring (AFCP) ontvang het.

Die historiese betekenis van die Alte Feste wat in 1890 deur die Duitse Schutztruppe gebou is, is die hart van die opknappingsprojek. Waar dit die afgelope 100 jaar as huisvesting vir soldate tot onderriggeriewe gedien het, is die hoop dat dit met die nuwe toekomsplan weer ’n insiggewende rol in die plaaslike gemeenskap sal speel deur dit as ’n kulturele bymekaarkomplek te vestig.

“Die oomblik wanneer die opknappings voltooi is, sal die Alte Feste dien as ’n veeldoelige kulturele spilpunt met ’n museum wat sy ryk geskiedenis sal uitbeeld, met ’n kunsvlytmark, kunsgalery, werkwinkels, kunsateljees, ’n restaurant en koffiewinkel, kantore en ook ’n binnehof waar geleenthede aangebied kan word,” sê die adjunkminister van onderwys, Faustina Caley ,wat die projek amptelik Woensdag van stapel gestuur het.

Die finansiële inspuiting van US$250 000 van die AFCP is die begin van die eerste fase van die opknappingsprojek, wat hoofsaaklik sal fokus om die struktuur te stabiliseer. Die bekroonde argitek Jaco Wasserfall is verantwoordelik vir die argitektoniese aspek van die projek.

“Hergebruik is nie ’n nuwe konsep nie. Wanneer ons na geboue kyk wat hergebruik word, word dit nooit op so ’n manier gedoen om ouer argitektoniese style na te boots nie, maar om die oud met die nuut te inkorporeer. Dit is presies wat ons gaan doen terwyl ons die argitektoniese integriteit van die gebou bewaar,” verduidelik Wasserfall.

Volgens die voorsitter van die Namibia Craft Centre, Pamela Aupindi, kom die projek en finansiering op ’n deurslaggewende tyd vir kunstenaars en kunsvlyters wat tans by hul sentrum in Talstraat gehuisves word en wat die gebou teen Mei volgende jaar moet ontruim.

“Die Craft Centre is ook ’n ou gebou wat volgende jaar deur dieselfde proses gaan. Ons kunsvlyters en kunstenaars het daarom ’n nuwe tuiste nodig en dit gaan die ‘nuwe’ Alte Feste-gebou wees wat teen volgende jaar April gereed sal wees.” Die hele projek sal sowat N$30 miljoen kos om te voltooi.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!