Opperhoof Ananias Soreseb saam met van sy stamlede. Foto verskaf
Opperhoof Ananias Soreseb saam met van sy stamlede. Foto verskaf

Tradisionele leiers vergader in Noorde

Augetto Graig
“Met God se hulp sal ons daar kom.”

Só het ds. Ananias Soroseb gister aan die koerant gesê oor die 23ste jaarvergadering van die raad van tradisionele leiers wat gister by die Monte Carlo-gastehuis op Eenhana afgeskop het.

Soroseb is genooi om môre se verrigtinge by te woon, wanneer die raad van tradisionele leiers sy aansoek vir erkenning as opperhoof van die Kai!Akhoesan Hai //Om-San oorweeg.

Daar word egter van Soroseb en sy arm randgemeenskap verwag om self vir sy vervoer- en verblyfkostes te betaal.

Hy was saam met hoofman Joseph /Gomoseb gister nog op Otjiwarongo waar hulle petrolgeld en fondse vir verblyf probeer insamel het.

Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Erastus Uutoni, het namens president Hage Geingob die vyf dae lange byeenkoms geopen en die president se toespraak voorgelees.

Dit is die eerste soortgelyke geleentheid sedert 2019 en na die uitbreking van die Covid-19 pandemie in Namibië.

Geingob sê: “Dit is ontstellend dat ons aanhou om gevalle van versplintering, magstryde en geskille oor opvolgers in leierskapsposisies in ons tradisionele gemeenskappe sien.

“Ongelukkig, by talle geleenthede, word die regering by hierdie vermybare geskille ingesleep, wat nie net verdeeldheid onder gemeenskappe skep nie, maar ook tyd en hulpbronne vermors. Die tyd, energie en hulpbronne wat aan sulke geskille bestee word, kan beter benut word.”

Die waarnemende voorsitter van die raad, hoofman Immanuel /Gaseb, het in sy toespraak gesê daar is 11 soortgelyke geskille wat voortduur.

Soroseb se aansoek is egter al sedert 2017 hangend, en dit is nie duidelik wat die gevolge sal wees as hy nie by die verrigtinge kan uitkom nie.

“Die nadeel sal net vir ons wees, niemand anders sal daaronder ly nie,” het hy daarop uitgebrei.

Soroseb en die Hai //Om-San wag ook al lank vir erkenning vanaf die regering om die graf van hul oorlede koning Fritz Aribeb – wat in 1904 deur Duitse owerhede vermoor is – as nasionale monument te verklaar.

Hierdie aansoek is in Junie deur die minister aan die nasionale Erfenisraad verwys. Die Erfenisraad het in Augustus die kwessie egter na die ministerie van landbou, water en grondhervorming verwys na ’n ooreenkoms oor toegang tot die hervestigingsplaas 88 nie bereik kon word nie.

Vir verdere navrae kan /Gomoseb by 081 346 4900 bereik word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer