Die African Galleries Now aanlyn kunsskou duur tot 17 April. Foto verskaf
Die African Galleries Now aanlyn kunsskou duur tot 17 April. Foto verskaf

Aanlyn kunsskou tans aan die gang

StArt Art-galery het onlangs aangekondig dat Namibië vanjaar deelneem aan die aanlyn kunsskou African Galleries Now wat in samewerking met die African Art Galleries Association (AAGA) en die internasionale kunsplatform Artsy aangebied word.

Dié aanlyn kunsskou het op 30 Maart afgeskop en duur tot Sondag. Al die betrokke kunstenaars se werk kan op Artsy se webblad besigtig word.

Die skou word vanjaar vir die derde keer aangebied en is ‘n wonderlike tentoonstelling van sommige werke van die 15 instellings wat lede van AAGA is en die kunstenaars met wie hulle werk.

Die StArt Art-galery bied vanjaar werke deur die Namibiese kunstenaars Ismael Shivute, Elisia Nghidishange, Nicky Marais en Arno Hoth aan. Namibië se virtuele stalletjie kan ook by artsy.net besoek word.

Hierdie vier kunstenaars maak gebruik van verskeie kunsmedium, maar daar is tog ‘n gedeelde ekspressiewe gebruik van abstraksie en simboliek. Die kunstenaars skep ‘n visuele woordeskat van hul eie.

Nghidishange se beeldhouwerke verken die menslike vorm, en word geskep deur stewige staalankers en sagte, buigsame materiaal wat sorgvuldig deur die kunstenaar geweef is, te kombineer.

Shivute se seepsteenbeelde word intuïtief met die hand gesny volgens die natuurlike kontoere van die klip.

Marais se groot skilderye op doek verken die verhouding tussen liggaamlikheid en spiritualiteit.

In die skeppingsproses van sy digitale skilderye wat volgens hom uit generasies se kennis en geskiedenis voortspruit, bepeins Hoth oor emosie, kleur en vorm.

Vir meer inligting oor AAGA, besoek www.africanartgalleriesassociation.com.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer