Australiese Amazing Race maak Namibiese draai

Namibiese samewerking geprys
Augetto Graig
Die gewilde Amazing Race-televisiereeks het weer in Mei 'n Namibiese draai gegooi, met Amazing Race Australië wat die eerste van drie episodes in die land geskiet het. Dié episodes is Sondag en Maandag in Australië uitgesaai. Die Amazing Race franchise hou wêreldwyd meer as 20 miljoen vasgenael voor die kassie.

Die Namibiese Filmkommissie se senior administratiewebeampte vir permitte, Shirley Kariange het bevestig dat die produksie van die plaaslike episodes vanaf 1 tot 31 Mei in Namibië verfilm is. Sandstone Film Logistics se Paul van der Ploeg was die plaaslike fasiliteerder, maar kon weens sy besige skedule en 'n ooreenkoms van nie-openbaarmaking nie veel oor sy ervaring deel nie. Hy het navrae na die rolprentvervaardiger Lesley-Anne Mulder van Outbound Film in Suid Afrika verwys. Lesley-Anne is reeds 'n geruime tyd vir Namibië as bestemming se deelname aan Amazing Race verantwoordelik.

Sy was voorheen in Namibië betrokke by die Amerikaanse Amazing Race wat vir CBS & ABC Studio, afdelings van Paramount Global en die Walt Disney-maatskappy, vervaardig is. Ook op haar lys is die Israeliese Amazing Race in 2018 wat vir Keshet Broadcasting in Israel geskiet is, vertel sy.

“Namibië is 'n baie gewilde keuse vir realiteitsprogramme van hierdie aard, vanweë sy manjifieke en diverse landskappe, fassinerende kulture en ongelooflike geologie,” sê Lesley-Anne.

Mulder beskryf die Namibiese been van die produksie as "grootskaal", met ongeveer 80 Australiese en buitelandse produksielede wat ingevlieg het, terwyl Outbound nog sowat 50 plaaslike film- en ondersteunende werkers met Sandstone Logistics aangestel het.

“Hierdie is een van die grootste en logistiek mees ingewikkelde programme op internasionale televisie,” vertel Lesley-Anne.

Daar is by die lughawe in Walvisbaai verfilm, in Swakopmund, by die Spitzkoppe, in die duingordel langs die kus, by Pelican Point in Walvisbaai, by die Dorob-skeepswrakke, en in die Namib-Naukluft Park. Verder was Omandumba in die Erongo ook as ligging bygevoeg.

“As die fasiliterende vervaardiger vir Amazing Race Australië was my ervaring beide uitdagend en lonend,” sê Lesley-Anne. Die produksieproses behels 'n geweldige hoeveelheid verkenning vooraf en noukeurige beplanning.

“Ons moet uitgebreide logistiek, liggings en vervoerkoördinasie oorweeg om te verseker dat alles glad verloop. Een van die sleutelaspekte van ons voorbereiding is om die uitdagings of take wat die deelnemers moet voltooi, te help ontwerp. Dit vereis 'n goeie begrip van die plaaslike kultuur en omgewing, en dit is waar ons samewerking met die Namibiese span van onskatbare waarde word. Hul insig en kundigheid is van kardinale belang om outentieke en boeiende ervarings vir die deelnemers te skep,” sê sy.

Lesley-Anne prys die sinergie tussen haar produksiespan en die plaaslike Namibiërs. “Oor die algemeen is die ervaring 'n mengsel van harde werk, kreatiwiteit en lang ure, wat lei tot 'n program wat die gees van avontuur en die skoonheid van diverse kulture vier,” sê sy.

Amazing Race behels spanne van twee wat oraloor die wêreld in kompetisie met ander spanne reis. Namibiërs sal egter nie die episodes kan volg wat plaaslik geskiet is nie, met MultiChoice wat bevestig het dat dit nie op enige van sy DsTV-kanale vir September of Oktober geskeduleer is nie. Die Channel 10-webwerf (10play.com.au) kan weens geologiese beperkings ook nie plaaslik gestroom word nie. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!