Fishrot
Fishrot

Boek oor Fishrot-sage bied blik agter skerms

Volgens die outeurs is dit belangrik vir die publiek om die boek as 'n bloudruk te gebruik vir moontlike korrupsiegevalle in die toekoms.
Yandi Du Plessis
’n Nuwe boek wat lig werp op die grootste korrupsieskandaal wat Namibië tot dusver geruk het, is onlangs bekend gestel.

Die boek Fishrot: Fisheries and Corruption in Namibia beskryf wat agter die skerms gedurende die Fishrot-skandaal gebeur het en ondersoek die beweerde sameswering tussen die Yslandse vismaatskappy Samherji en Namibiese regeringsamptenare om hulself te verryk ten koste van die Namibiese bevolking.

Free Press of Namibia is die uitgewer agter dié boek, wat neergepen is deur die voormalige ekonomieprofessor aan die Universiteit van Namibië (Unam), Roman Grynberg; die ondersoekende joernalis Shinovene Immanuel; en die redakteur van die dagblad The Namibian, Tangeni Amupadhi.

Die boek bied ’n indiepte-ontleding van die skandaal en hoe dit ontvou het. Die skrywers het uitgebreide navorsing gedoen, insluitend onderhoude met ingeligtes en kenners.

Amupadhi het gesê dis belangrik vir die publiek om die boek as ’n bloudruk te gebruik vir moontlike korrupsiegevalle in die toekoms.

“Daar is nogal baie energie en werk daaraan gewy. Ek kan net hoop mense vind dit die moeite werd, want ons het probeer om dit op so ’n manier te doen dat dit nie bloot die Fishrot-artikels wat ons geskryf het, herhaal nie,” het Amupadhi gesê.

Volgens medeskrywer Grynberg kon Namibië se maasbankersektor gebaat het by N$14 miljard wat gebruik sou word om die sosioëkonomiese situasie van gewone Namibiërs te verbeter. Hy glo die regering het nie die wil om die nodige stappe te doen om kwessies soos armoede en die nalatenskap van kolonisasie en apartheid aan te roer nie.

Mede-outeur Immanuel het ’n beroep op die publiek gedoen om korrupte praktyke aan die kaak te stel en te veg vir aanspreeklikheid en deursigtigheid wanneer dit by die land se natuurlike hulpbronne kom.

“Ons hoop dat ons boek sal help om lig op hierdie kwessie te werp en optrede sal aanmoedig om sulke korrupsie in die toekoms te voorkom,” het hy gesê.

Fishrot: Fisheries and Corruption in Namibia is nou te koop by The Namibian se kantore in Windhoek teen N$150.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer