Boekwurms, staan nader

Doek, Namibië se eerste literêre tydskrif, sal aanstaande maand – vanaf 21 tot 23 April – die eerste Doek Letterkundefees aanbied, met die Universiteit van Oos-Anglia se internasionale leerstoel vir kreatiewe skryfkuns as vennoot.

Die fees, ‘n viering van Namibiese en Afrika-letterkunde wat Namibiese lesers en skrywers met hul eweknieë in Afrika en die Afrika-diaspora verbind, sal die eerste van sy soort in die land wees.

Dit het ten doel om die land se literêre kultuur op te hef en verder te kweek, terwyl dit ‘n kreatiewe en interaktiewe ruimte bied om met die werk van Namibiese en ander Afrika-skrywers kennis te maak.

Die fees se hoofborg vanjaar is die wêreldbekende kreatiewe skryfprogram van die Universiteit van Oos-Anglia in Norfolk in die Verenigde Koninkryk (VK), die tuiste van een van die suksesvolste grade ter wêreld in dié vakgebied.

Die graduandi van dié universiteit sluit in sir Kazuo Ishiguro, ’n Nobelpryswenner; wenners van die Booker-prys soos Ian McEwan en Anne Enright; en ontluikende skrywers van die Afrika-vasteland soos Ayobami Adebayo.

“Danksy die ondersteuning van die UEA se internasionale leerstoel vir kreatiewe skryfkuns (ICCW) – onder leiding van die bekroonde Zimbabwiese skrywer Tsitsi Dangarembga – het Doek toegang tot die nodige fondse, konseptualiseringshulpbronne, beplanningskapasiteit en organisatoriese ondersteuning wat nodig is om hierdie mylpaalgeleentheid moontlik te maak,” sê Rémy Ngamije, Doek se stigter en voorsitter.

“Die UEA is ‘n instelling wie se invloed in letterkunde en kreatiewe skryfwerk wêreldwyd gevoel word, en om hul ondersteuning in hierdie projek te hê, bevestig weer eens die belangrike werk wat ons by Doek doen.

Dit dui ook op toekomstige groeimoontlikhede vir ons ontluikende letterkundetoneel.

“Ek is verheug die ICCW het vanjaar besluit om sy aandag op Namibië en Namibiese skrywers te fokus.”

Die Doek Letterkundefees sal voortaan elke tweede jaar aangebied word. Elke uitgawe sal op ‘n ander manier van literêre skepping fokus; in 2022 sal dit fiksie in die roman en kortverhaal wees.

“Die vennootskap met die UEA se ICCW gee die fees vanaf sy beginfase internasionale meriete, met van die bekendste skrywers in Afrika wat by die fees gesig sal wys – saam met opkomende plaaslike skrywers,” het Ngamije voorts gesê.

“Die debuut van hierdie fees sal sekerlik Windhoek en Namibië se literêre landskap verryk en die weg baan vir nog literêre geleenthede in die toekoms.” Professor Jean McNeil, wat in beheer is van die UEA se internasionale leerstoelprogram, het gesê: “Dis ‘n groot plesier om te kan bydra tot ‘n lewendige en groeiende literêre gemeenskap in Namibië en saam met Rémy en Doek te werk.

“Doek beliggaam die waardes wat ons program wil handhaaf: inisiatief, innovasie en die vertroue in Afrika-stories en -stemme. Ons is geweldig trots om die heel eerste fees van literêre skryfwerk in Namibië te ondersteun.” Unieke geleenthede om te leer en idees uit te ruil deur slypskole, voorlesings, paneelbesprekings en musiekoptredes sal deel vorm van ‘n program wat in die komende weke op die fees se webwerf bekend gemaak sal word.

Elke uitgawe van die Doek Letterkundefees sal ‘n ontwerpvennoot betrek wat die “ervaringsaspekte” van die fees sal skep.

Doek kies ‘n ontwerpvennoot wat al tevore met die plaaslike kunsbedryf gewerk het om dié bedryf op een of ander manier te bevorder.

Die 2022-ontwerpvennoot is Turipamwe, ‘n bekroonde ontwerp- en kommunikasie-agentskap in Windhoek.

Die fees sal by die Goethe-Institut in die hoofstad aangebied word.

MEER OOR DIE ICCW

Die UEA se internasionale leerstoel vir kreatiewe skryfkuns gee aan vyf prominente skrywers die taak om oor vyf jaar, in vyf gebiede van die wêreld, te help om nuwe en ontluikende skrywers te vind, te bemagtig en te bevorder. In 2022 het die ICCW sy Afrika-jaar begin met sy eerste voorsitter, Tsitsi Dangarembga, die Zimbabwiese dramaturg, filmmaker en krities bekroonde skrywer van Nervous Conditions, The Book Of Not en This Mournable Body.

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!