Countrymusiek help meisie van Aranos

Gerhard Supra sing vir Rozell
Geniet 'n aand se vermaak terwyl jy 'n vyfjarige kind help.
Tanja Bause
Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Gerhard Supra is op pad Namibië toe om nie net mense te vermaak met sy musiek nie, maar ook om geld vir ‘n vyfjarige meisie van Aranos in te samel.

Gerhard het in 1995 begin sing en vinnig onder veral country-entoesiaste bekendheid verwerf. Hy staan bekend as die Singende Melkboer in Mpumalanga en het ses CD’s en een DVD agter sy naam. Drie hiervan is gospel-CD’s en een DVD wat hy in 2008 en 2016 opgeneem het. Die ander is country- en Afrikaanse musiek wat tussen 2017 en 2019 opgeneem is.

Sy Afrikaanse enkelsnit “Jy het my Hart” was binne die eerste week no. 1 op Springbok Radio se Top-20. Op Hoza Radio en op Treffers Radio was dit in dieselfde week no. 2.

Dit is die derde keer dat Gerhard in Namibië is. Hy het die eerste keer vir ’n geldinsameling vir Huis Maerua opgetree en nou kom hy vir Rozell sing. Die ander keer was vir besigheid.

“Alhoewel dit ‘n droom is wat waar geword het om my talent uit te leef, is dit ook my droom en hart om mense te help waar ek kan. Kinders soos Rozell en ander wat ons al gehelp het, is waaroor die lewe vir my gaan. Ons gawes en talent moet ons met mekaar deel en mekaar opbou en help,” het hy gesê.

Vandat die vyfjarige Rozell van Zyl op die ouderdom van sewe maande in die sorg van Leonora en haar man, Yeoman, se pleegsorg geplaas is, is daar geen teken meer van die babameisie wat in ’n stadium weens verwaarlosing en honger slegs ’n week gegee is om te oorleef nie.

Leonora vertel hul “engelkind” kan net sekere woorde praat, loop omtrent so 15 meter op ’n slag op haar eie en beweeg dan verder op haar boudjies. Sy dra ook nog doek omdat sy nie kan sê of verduidelik as sy toilet toe wil gaan nie.

Volgens haar ma moet sy breinterapie kry sodat sy kan leer om te praat en “sodat ons kan sien wat sy alles verstaan”.

Rozell moet einde Augustus, begin September haar operasies kry, maar volgens Leonora is hulle nog nie heeltemal seker wat dit alles sal behels nie.

“Prof. du Toit kom eers begin Augustus Windhoek toe om haar te ondersoek en na die X-strale te kyk.”

Na afloop van die operasie sal Rozell fisioterapie en nasorg nodig hê.

Gerhard se toerprogram lyk soos volg:

12 Augustus: Aranos – BV Saal

13 Augustus: Mariental – Gholfklub

17 Augustus: Gobabis – Die Dam

19 Augustus: Windhoek – Haven Zoological Park

20 Augustus: Langstrand – Erik's Cove.

“Ek kan nie wag om die toer en geldinsameling saam met Rozell ‘n groot sukses te maak nie. Nie net is sing my passie nie, maar ook om mense te help soos ek kan,” het hy gesê.

Kaartjies kos N$150 vir volwassenes, N$75 vir hoërskool- en N$50 vir laerskoolleerlinge.

Kaartjies is by Webtickets, Pick a Pay-winkels landswyd en by die venues beskikbaar of kontak Leonora by 081 845 8701. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!